Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 58
21 Februarie
ОглавлениеToe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.” – Lukas 9:62
Vergeet van gister. Dis verby. Jy kan niks meer daaraan toevoeg nie. Die enigste dag waarvan jy kan seker wees, is vandag, hierdie uur, hierdie oomblik.
As jy vandag jou hand aan die ploeg slaan, sal jy nie môre onseker of skuldig voel oor gister nie. Dan sal jy moed en vertroue hê vir die môres wat nog gaan kom.
Ook wat dít betref, is die mens soveel anders as sy Skepper. God kyk nie terug nie. Ook wanneer Hy vergewe, kyk Hy nie terug nie. Maar ons … ons wil altyd gister by vandag insleep. Ons vergewe, maar ons vergeet nie. Ons sal weer probeer, maar … en dan gaan haal ons al gister se ou kwellings en strydvrae en verskonings en stapel dit op in vandag.
Dis ontstellend hoeveel van ons kosbare tyd ons in gister deurbring, met dinge wat verby is. Hoeveel kere op ’n dag dink jý terug aan gister se ou dinge, kwel jy jou daaroor, werk jy jou op daaroor, ontstel jy jou daaroor, maak jy die lewe van vandag vir jouself en vir ander om jou ’n hel daaroor? Gister se kwade gevoelens, gister se gevoel van veronregting, gister se wraakgedagtes … hoeveel van gister se pligte en verpligtinge het jy ook oorgedra na vandag?
Slaan die hand aan die ploeg, kyk vorentoe. As jy aanhou omkyk, gaan jy die koninkryk van God nie bereik nie.
Help my, Vader, dat ek vandag nie een maal sal omkyk nie, maar in geloof en vertroue en met u genade sal opkyk na U en vorentoe sal gaan. Amen.