Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 64

27 Februarie

Оглавление

Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is. – 2 Konings 6:16

Ons kan so maklik kleingelowig word. Ons staar ons so blind teen die mag van mense en vergeet so maklik van die almag van God.

Ons word so maklik beïndruk deur wat ons oë kan sien, so maklik ontmoedig deur die oormag van die Bose. En dan word ons bang soos die slaaf van Elisa toe hy die oggend opstaan en sien hulle is omring deur die vyandelike Arameërs se perde en strydwaens.

Ons wil ook dikwels maar sommer oorgee. Waarvoor verder baklei en veg as jy weet jy is met ’n verlore stryd besig? Hoekom jouself verder vermoei om goed te doen, reg te probeer lewe, vas te hou aan Gods Woord, jou kinders die regte pad te leer terwyl die oormag van die Bose tog so oorweldigend is? Wat help dit tog om jou klein wêreld mooi en reg te probeer hou, terwyl die groter wêreld om jou in chaos en ellende verkeer en afstuur op selfvernietiging?

Ag, as God tog maar ons oë net een keer kon open soos Hy met Elisa se slaaf gedoen het. Tóé kon hy die toneel voor hom sien soos dit werklik is. Toe kon hy sien Wie en wat alles aan hulle kant is! Om hulle het die berge gewemel van God se vurige strydwaens!

Vra die Gees van God om jou geloofsoë te open en kyk dán: Jy is nie alleen nie! Jy is nie alleen uitgelewer aan ’n oormag nie! Jy is nié met ’n verlore stryd besig nie! Jy kán nie wees nie – nie as jy God aan jou kant het nie! God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?

Dankie, my God, dat ek hierdie gerusstelling en vrede in my gemoed kan hê dat solank U aan my kant is, ek nie ’n verloorder kán wees nie. Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх