Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 54
17 Februarie
Оглавление… en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken elke mens se hart. – 1 Konings 8:39
Dit is voorwaar die waarheid: Net God alleen ken elke mens se hart.
Ons het almal geheime. Niemand se lewe is ooit heeltemal ’n oop boek vir ’n ander nie – nie eens vir die een wat die naaste aan jou staan nie. Êrens in die skuilhoeke van die hart lê daar dinge wat jy nie kans sien om met ander te deel nie.
Die een of ander tyd in ons lewe word ons genoop om ’n valse front voor te hou. Of het jy nog nooit in jou lewe in ’n situasie beland waar jy dinge moes voorgee waarvan jy voor jou siel weet dat dit nie so is nie? Nie? Dan raak jy aan volmaaktheid.
Om voor te gee dat dit finansieel goed gaan terwyl dit nie werklik alles so rooskleurig is nie. Om blink te lewe terwyl al die blink op skuld is. Om voor te gee dat jy gelukkig is in jou huwelik terwyl jy eintlik al sterk aan egskeiding dink. Om voor te gee dat jy volmaakte kinders het terwyl jy weet van die baie stille trane wat jy al oor hulle gestort het. Om jou doelbewus blind te hou vir feite én vir die waarheid, en die verkeerde met mooi woorde te probeer regpraat. Ag, daar is soveel dinge wat jy al in die verlede met soveel moeite en sorg vir die menslike oog verberg het!
Is dit dan nie wonderlik om te weet daar is Een voor wie ek nooit hoef voor te gee nie! Een wat van alles weet, sodat ek nie die moeite hoef te doen om die pynlike detail van my lewe te moet probeer verberg nie. Een wat reeds al die besonderhede ken sonder dat ek na verduidelikings en valse verskonings moet gryp. En wat my ten spyte van alles nog liefhet …
Hoe wonderlik, liefdevolle Here, dat U my hart ken en dat ek my geheime vrese en trane en hartseer en probleme sonder skroom voor u voete kan neerlê. Amen.