Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 60
23 Februarie
Оглавление… Ek is die Here jou God wat jou onderrig tot jou beswil, wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan. – Jesaja 48:17
So baie van ons bly kinders tot ons die dag doodgaan. Soos kinders wil ons nie graag tereggewys word nie. Ons wil nie graag onderrig word nie. Ons is mos slim genoeg om self te weet wat goed en reg is.
En hoe baie kere, ook in ons eie lewe, vang slim sy baas, kom ons daar waar ons tot ons ontnugtering moet besef: Ek was nie so slim soos wat ek gedink het ek is nie. Partykeer moet ons maar eerlik erken: Ek het al baie onnosel dinge gedoen. Dikwels moet ons bely: My slimheid het my onderin die sloot laat beland.
Die menslike slimheid is baie feilbaar en onbetroubaar. Die menslike insig kan jou op die mees onverwagte en mees kritieke moment in die steek laat. Jy kan nie werklik daarop peil trek nie. Die slimste mense doen soms die onnoselste dinge. Ek het al dinge gedoen waaroor ek myself later in verbystering moes afvra: Maar waar was my verstand dan?
Al dink jy jy is slim, al dink jy jy is briljant, al dink jy jy is ’n genie, wees maar altyd bedag op die feilbaarheid van jou eie vermoëns. Die veiligste bly maar om liewer kers op te steek by Gods Woord, daar waar jy séker is jy kry onfeilbare onderrig wat tot jou beswil sal wees. As jy werklik so slim is as wat jy dink, sal jy dit besef en dit doen: om in alles God se leiding te vra op die pad wat Hý wil hê jy moet gaan.
O Here, watter wonderlike gerusstelling is dit vir my om te weet U onderrig my en U lei my op die pad wat U wil hê ek moet gaan. Amen.