Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 59
22 Februarie
Оглавление(Hulle) was baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie. En Petrus sê: “Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang.” – Handelinge 10:46, 47
Snobisme is iets aakligs en pateties. Aaklig omdat dit sekerlik van die lelikste karaktertrekke is wat ’n mens kan besit; pateties omdat dit gewoonlik hulle is wat dit nie kan bekostig om hulle neuse vir ander op te trek nie, wat dit wel doen.
Snobisme in ons godsdiens is sekerlik van die jammerlikste wat met ons kan gebeur: as jy dink die hemel is net vir sekeres gereserveer; dat God se Heilige Gees eers na uiterlike dinge kyk, soos byvoorbeeld wat die kleur van jou vel is, voordat Hy Homself in jou uitstort.
So verbaas soos die Jode was – en ons teksvers sê hulle was báie verbaas – dat die Heilige Gees ook op ander mense as Jode uitgestort is, so gaan daar menige misleide Christene báie verbaas wees wanneer hulle eendag sien met wie almal hulle die hemel sal moet deel. Maar dan, hierdie verbasing moet ons hier al van ons afweer, want geen ware Christen kan dink en glo dat God en sy genadegawe net vir sekeres opsygesit is nie.
Dit het lankal tyd geword dat ons hierdie onding van godsdienstige snobisme onder ons uitroei. Christene dwarsoor ons land, dwarsoor die aardbol het mekaar nodig in die wêreld waarin ons vandag lewe. Ons moet mekaar se hande vat, want ons is saamgesnoer deur één kruis en één Gees. En ons is almal saam op pad na één hemel.
Here, God, ek dank U dat snobisme vir U iets onbekends is. Want, as dit dalk anders moes gewees het, sou ék miskien die een gewees het by wie u Gees verbygegaan het. Dankie, Here, dat dit vir elke mens op hierdie aarde moontlik is om u Heilige Gees te ontvang. Amen.