Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 63

26 Februarie

Оглавление

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. – Galasiërs 5:22, 23

As ’n mens werklik met aandag na bogenoemde “vrugte” kyk, staan jy beskaam. Die boom word tog aan sy vrugte geken, en as ek eerlik na mý boom se vrugte kyk, moet ek bely: Ag, Here, ek kan nie eens uitmaak watter sóórt boom dit is nie!

Liefde. Hoe dikwels faal ek daarin. Hoe dikwels soek my gesin, my familie, my vriende, my gemeenskap en my naaste tevergeefs tussen die blare van vertoon daarna. Vreugde. Ag, hoe min sien die mense om my die vreugde van kind van God te wees uit my straal. Vrede. Hoe dikwels is ek die oorsaak van onvrede. Geduld. Hoe kort van draad kan ek tog wees. Vriendelikheid. Hoe baiekeer moet mense teen my suur gesig vaskyk. Goedhartigheid. Hoe dikwels vind my naaste in plaas daarvan die sieklike, verkrimpte vrug van selfsug en besitlikheid. Getrouheid. Hoe dikwels laat ek my dierbares en my God in die steek. Nederigheid. Hoe baiemaal is die eie ek en my eie belangrikheid in die plek daarvan. Selfbeheersing. Hier moet ek swyg in stomme erkenning dat my boom selde of nooit daardie vrug dra!

Hoe lyk jóú boom? Dra dit vrugte en het jy al met aandag gekyk watter sóórt vrugte dit is?

Liewe Here, ek moet bely dat U en my naaste dikwels teleurgesteld van my moet wegdraai. Help my om die vrugte van u Gees te dra. Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх