Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 61
24 Februarie
Оглавление“Laat vaar al julle oortredings en kry ’n nuwe gesindheid, ’n nuwe gees. Waarom wil julle sterf, Israel? Dit is nie my wil dat die mens moet sterf nie …” – Esegiël 18:31, 32
So baiekeer hoor ons iemand sê én het ons dit al self gesê: “Ag, as ek my lewe weer kon oorhê!” Dit kan nooit gebeur nie. Maar ons kan wel iets doen aan die stuk wat oor is. Dit maak nie saak hoe lank of hoe kort daardie stuk oorblywende lewe is nie. Nie een van ons kan dit in elk geval weet nie. Maar of dit nou nog jare is of ’n paar dae, of dalk net ’n oomblik, nie een van ons het ’n verskoning om nie te doen wat ons teksvers sê nie. Dis nooit te laat om ’n nuwe gesindheid, ’n nuwe gees te kry nie.
Jou gesindheid teenoor jou medemens – wie hy ook al is, of watter kleur hy ook al is – vra dit nie om verandering nie? Jou gesindheid teenoor die ewigheidsdinge? Teenoor die aardse dinge? Is dit nie tyd dat jy vir jouself bepaal watter een die belangrikste is nie? Jou gesindheid in jou werk, teenoor iemand wat jy nie kan verdra nie, teenoor jou huismense, teenoor jou werknemers, teenoor jou probleme … daar is altyd ruimte vir verandering ten goede. Sodra jy bereid is dat die Heilige Gees deur sy werk in jou jou gesindheid verander teenoor dié dinge wat krap in jou lewe, sal jy die wonderlike ervaring hê dat jyself daardeur verryk word: Jy sal ’n nuwe gees verkry. Jy sal werklik lewe, met ’n vol, ryke, gelukkige lewe.
Ag, Here, dis nie vir my met my sondige natuur maklik om my verkeerde gesindhede te verander nie. Help my daarin deur u Gees. Amen.