Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 62

25 Februarie

Оглавление

Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder. – Romeine 14:19

Hoe bly ons tog in gebreke hiermee!

Hoe dikwels tree ons onnadenkend op sonder om te besef watter beroering ons optrede gaan meebring. En hoe dikwels doen ons dinge terwyl ons wéét dit kan allerhande onsmaaklike reperkussies hê.

Hoe dikwels praat ons voordat ons dink en laat sodoende seergemaakte gevoelens agter, wat weer op hulle beurt vinnig terugslaan. Só ontstaan ’n duiwelspiraal. Hoe dikwels sê ons dinge wat ons weet liewer ongesê moes gebly het. Hoe dikwels dra ons dinge oor wat ons goed weet onvrede ten gevolg gaan hê as dit rugbaar moet word …

Onderlinge vrede in ’n gesin, in ’n gemeenskap, in ’n gemeente is ’n vereiste vir groei en vooruitgang. Onvrede in ’n gesin, in ’n gemeenskap, in ’n gemeente kan net tot afbreking en aftakeling lei.

Ons weet dit almal. Hoekom kies ons dan so maklik die negatiewe? Dis seker makliker om haastig met die mond te wees as om daardie tong te knoop. Makliker om sommer te sê wat die eerste in jou opkom as om eers stil te word en na te dink. Maar die resultate is so hemelsbreed verskillend van mekaar en laat sekerlik geen vraagteken oor watter een die moeite werd is om te beoefen nie.

Vrede kan moeilik omskryf word. Dis iets wat jy eers na reg waardeer wanneer jy dit nie het nie. Maar hoekom dit eers verloor voordat jy hierdie waarheid ontdek? Niemand was nog ooit spyt oor die haastige woord wat hy nié gesê het nie!

Here, God van vrede, help my dat ek my werklik daarvoor sal beywer om vrede na te jaag waar ek ook al vandag gaan. Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх