Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 76
8 Maart
ОглавлениеWie reg doen, sal vrede hê; wie volhard in regdoen, sal vir altyd rus en sekerheid geniet. – Jesaja 32:17
Op die beloftes van mense kan nooit ten volle peil getrek word nie. Maar van God se beloftes kan jy altyd seker wees.
Dis so jammer dat ons nie meer sy beloftes ter harte neem nie. Dis so jammer dat ons nie meer sy beloftes op die proef stel nie. Ons versamel graag uitgetoetste resepte omdat ons weet ons kan daarop staatmaak. Die eindproduk sal nie ’n mislukking wees nie. Enigiets waarop “uitgetoets” staan, dra ’n waarborg wat jou ten volle gerusstelling en sekerheid gee dat daardie ding reg is en jou nie in die steek sal laat nie.
Oor al God se beloftes staan “uitgetoets” gestempel. Dis “uitgetoetste” resepte vir ons lewe op aarde. Maar … in plaas van God se uitgetoetste resep te gebruik, maak ons ons eie mengsel aan. En laat ons maar erken: Dis gewoonlik ’n gemors wat jy liewer graag in die vullisblik sou wou gegooi het – as jy net kon. Maar ongelukkig kan ons nie altyd so maklik van die mislukking van ons lewe ontslae raak soos van die mislukkings in ons kombuis nie.
Kom ek en jy toets vandag een van God se beproefde resepte uit: Laat ons vandag probeer om reg te doen. Dis nie altyd maklik nie, maar laat ons werklik probeer en áánhou probeer. God se belofte is daar vir ons op die end van die dag: Ons sal vrede en rus en sekerheid hê. Watter wonderlike resultaat! Sekerlik die moeite werd, nie waar nie?
Here, ek gaan vandag een van u beproefde resepte gebruik. Die resultaat, weet ek, is deur U gewaarborg. Amen.