Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 74

6 Maart

Оглавление

… hou net vas wat julle het, totdat Ek kom. – Openbaring 2:25

Twyfel is ’n wurm wat die binnekant uithol en later net ’n uitgeholde dop agterlaat wat so maklik kan knak of platgetrap word en in duisend stukkies kan breek om deur die wind weggewaai te word.

As jy die eiertjie van twyfel toelaat om in jou uit te broei, is jy verlore. As die wurm eers daar is, as hy eers toegelaat is om te begin knaag en sy vernietigingswerk voort te sit, is dit vir die mens ’n onbegonne taak om die gevolge te probeer voorkom.

Die fout wat ons met twyfel maak, is dat ons die krag daarvan onderskat. Ons speel met twyfel tot ons op ’n dag moet vind dis hý wat nou met óns speel. En daardie spelery kan ’n mens soms tot by die grense van waansin en totale ineenstorting bring. Selfs tot in die hel.

Die eiertjie van twyfel word so onrusbarend maklik in die menslike gemoed gelê. Dis ontstellend om te sien hoe kinders van God so maklik aan die twyfel gesit kan word deur ’n gladde tong wat net weet wanneer wat gesê moet word. Mense wat jare bely dat hulle kinders van God is, wat nou, sommige selfs op hul oudag, begin twyfel aan God en sy beloftes. Dis pateties om te sien hoe sommige mense van die een kerkgenootskap na die ander hardloop. Dis hartverskeurend om uit die mond van ’n Christen te moet hoor: Die lewe is vandag só deurmekaar, ek weet nie meer wat en waarin ek moet glo nie. Om te sien hoe jare lange kinders van God los raak van daardie Anker.

Sal ons nie maar die Here vra om ons deur sy Heilige Gees vas te hou nie? Dit is net Hy wat ons teen hierdie gevaarlike wurm van twyfel kan beskerm.

Hemelse Vader, laat u kinders vashou aan U. Gee dat daar nooit enige twyfel in ons gemoed gesaai word oor U en die wederkoms van u Christus nie. Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх