Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 73

5 Maart

Оглавление

Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. – 1 Petrus 5:7

Hoe eenvoudiger iets gestel word, hoe minder glo ons dit. Hoekom is dit so? Tog kom ons dit oral teë.

’n Lang ruk gelede het ek tien klein hondjies ryker geword. Pragtige goedjies en baie goed geteel. Ek wou hulle present weggee, want die bedoeling was nie om met hulle geld te maak nie. Ek wou net goeie huise vir hulle kry. Dit was ’n groot gesukkel. Die volgende werpsel, besluit ek toe, gaan ek hierdie keer verkoop. Binne ’n week het almal base gehad, en daar was selfs ’n waglys. Dieselfde reun en teef se kleintjies, maar die present-hondjies het nie sommer base gekry nie; dié waarvoor betaal moes word wel. Belaglik, nè?

Net so belaglik is ons wanneer dit kom by die werklik waardevolle dinge van die lewe, want ook dít is verniet. Jy hoef nie geld uit te haal om daarvoor te betaal nie. Ook die uitnodiging van God in vandag se teksvers is verniet. Hy vra nie jy moet na ’n bieghokkie toe gaan of eers ’n klomp note uithaal en jou sondes só afkoop en dán sal daar raad vir jou bekommernisse wees nie. Hy vra jou nie eers geld en dan sal Hy kyk of Hy iets aan jou kommer gaan doen nie. Nee. Soos die eerste klein hondjies is sy versorging verniet. Al wat Hy vra, is dat jy Hom met jou bekommernisse sal vertrou en in Hom glo, want … het Hy dan nie nog altyd gesorg nie?

Ag, Vader, hoe agterstevoorom is ons nie dikwels met dié dinge van werklike waarde nie! Ek werp vandag my bekommernisse op U, want ek wéét U sorg vir my. Amen.

Ena Murray Oordenkings

Подняться наверх