Читать книгу Ena Murray Oordenkings - Ena Murray - Страница 83
15 Maart
Оглавление’n Dienaar (1954-vertaling: dienskneg) van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. – 2 Timoteus 2:24, 25
Hier is nog ’n gedragskode van God wat Hy opgestel het vir sy diensknegte op aarde.
Glo my, dis ook nie ’n maklike reël om uit te lewe nie. Vra maar vir elkeen wat in die bediening staan.
Daar word soms die onmoontlike van hulle verwag. Ons behandel dikwels die diensknegte van die Here soos ons ook soms ons werknemers behandel. Ons praat met hulle soos ons wil, ons beledig hulle na willekeur, want hulle is mos nie veronderstel om terug te antwoord nie. Dit, so reken ons, behoort ons diensknegte en die diensknegte van die Here eenvoudig nie te doen nie!
En hoe gou is ons op ons perdjie as hy sy plig doen en ons op ons oortredinge wys. Hoe gou is ons dan om ’n swak plek by hóm te soek. Hoe gou is ons dan om te kritiseer wanneer ook hy menslike swakhede openbaar.
Ons is so geneig om gou vir die dominee die leviete voor te lees wanneer hy, na ons mening, oortree. Hy mag nie in ’n rusie betrokke raak nie. Hy mag nóóit ’n onvriendelike gesig hê nie, al is myne ook hóé onvriendelik. En hy moet alles kan verdra en hom nie wip soos ek mý wip nie. En al raak ek ook wát teenoor hom kwyt, moet hy selfbeheersd en sagmoedig bly.
Ek het nuus vir jou. Lees weer ons teksvers. Dit is ook op jóú van toepassing, want elke kind van God is ’n dienskneg van die Here.
Ek vergeet so dikwels dat ek as kind van U ook u dienskneg is, Here! Amen.