Читать книгу Kokkedoor - Errieda du Toit - Страница 15
ОглавлениеMosbolletjiepizza
met kerrievis
Lewer 1 groot pizza
Kook en Geniet-Kerrievis
koekmeel
sout en peper
2 kg vismootjies
olie vir vlakbraai
4 uie, in skywe gesny
125 ml (1/2 k) suiker
45 ml (3 e) kerriepoeier
15 ml (1 e) borrie
750 ml (3 k) asyn
125 ml (1/2 k) water
6 suurlemoenblare, gekneus
Geur die meel met sout en peper na smaak en rol die vis in die meel om dit te bedek. Braai die vis in die olie in ’n pan tot gaar en bruin aan albei kante. Plaas dit in ’n glas-, erde- of emaljebak en hou eenkant. (Moenie die vis in ’n metaalbak pak nie want die metaal kan met die asyn reageer en die smaak beïnvloed.)
Meng sout en peper (na smaak) met die uie, suiker, kerriepoeier, borrie, asyn, water en suurlemoenblare in ’n kastrol. Verhit tot kookpunt, verlaag die hitte en prut 10–15 minute lank. Giet die sous oor die vis. (Laat dit ook tussen die vismootjies inloop. Die sous moet die vis heeltemal bedek.)
Laat afkoel. Bedek en bêre in die yskas. Na 2 dae is die vis gereed vir gebruik.
Mosbolletjiepizza
1 kg koekmeel
20 g (2 pakkies) kitsgis
150 ml witsuiker (120 g)
10 ml (2 t) sout
12,5 ml anyssaad
100 g botter
200 ml wit druiwesap
200 ml louwarm water
200 ml louwarm melk
Smeer ’n groot bakplaat en sprinkel ’n bietjie mielieblom oor. Meng die meel, kitsgis, suiker, sout en anyssaad saam in ’n groot mengbak.
Verhit die botter en druiwesap saam in ’n kastrol tot die botter gesmelt is. Laat afkoel tot kamertemperatuur. (Moenie die melk by die druiwesap voeg nie, dit sal skif).
Giet die bottermengsel en louwarm water by die meelmengsel en meng goed.
Voeg die louwarm melk by, meng en knie dan goed tot die deeg glad en elasties is. Bedek die deeg met kleefplastiek en laat 25 minute lank op ’n warm plek rus. Voorverhit die oond tot 180 °C.
Knie die deeg af. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit tot ’n groot reghoek. Plaas dit in die bakplaat en laat dit sowat 30 minute lank op ’n warm plek staan tot dit dubbel die grootte gerys het.
Bak 15–20 minute lank tot gaar en ligbruin. Lig van die bakplaat af en laat afkoel.
Pak die kerrievis, die tamaties en roket op die pizza en skep hompe van die roomkaas bo-op.
Om voor te sit
kersietamaties, gehalveer
vars roket
gewone roomkaas