Читать книгу Kokkedoor - Errieda du Toit - Страница 20
Papballetjies
ОглавлениеLewer 10 frikkadelletjies
Frikkadelletjies
1 ui, fyngekap
sonneblomolie vir vlakbraai
200 g worsmaalvleis van goeie kwaliteit
60 ml (1/4 k) gekrummelde fetakaas
60 ml (1/4 k) gerasperde cheddarkaas
30 ml (2 e) gekapte vars pietersielie
2,5 ml (1/2 t) grofgemaalde swartpeper
sout na smaak
Braai die ui in ’n bietjie olie tot sag. Voeg die res van die frikkadelletjies se bestanddele by en meng goed. Rol die mengsel in 10 klein balletjies, elk omtrent so groot soos ’n 50 c-muntstuk.
Braai die frikkadelletjies liggies in ’n pan met olie tot net-net bruin. Dreineer.
Omhulsel
10 spekrepies
750 ml (3 k) slap stywepap, afgekoel
koekmeel
2 eiers, geklits
250 ml (1 k) broodkrummels
sonneblomolie vir diepbraai
Draai die spek om die frikkadelletjies en seël dit net vinnig in ’n warm pan.
Plaas van die papmengsel in die palm van jou hand en druk dit plat oor die lengte van jou hand tot dit sowat 1 cm dik is. Plaas ’n frikkadelletjie in die middel, en maak jou hand toe om die balletjie in die paplaag toe te vou. (As die pap te veel is, werk dit af en gebruik vir die volgende balletjie.) Werk versigtig. Druk die krake wat nog oop is, mooi toe en rol dan tussen jou hande om ’n mooi balletjie te vorm. Hou eenkant en herhaal met die res van die pap en maalvleisballetjies.
Plaas genoeg meel, die geklitste eiers en die broodkrummels in 3 afsonderlike bakke. Bedek die papballe eers met die meel, doop dit dan in die eier en laaste in die broodkrummels. Doop dit ’n tweede keer in die eier en die broodkrummels. Plaas dit in die yskas tot die olie warm genoeg is.
Verhit genoeg olie vir diepbraai in ’n kastrol en braai die papballe tot goudbruin. (Wees versigtig, dit braai nogal vinnig bruin.) Skep uit en dreineer op kombuispapier.
Sous
sonneblomolie
1 ui, fyngekap
500 g kersietamaties, gehalveer
100 ml (2/5 k) balsemiekasyn
30 ml (2 e) suiker
basiliepesto
Verhit die olie en braai die ui tot sag. Voeg die tamaties by en braai liggies. Voeg die asyn, suiker en ’n bietjie water by en prut oor lae hitte tot alles sag is.
Vryf die mengsel deur ’n sif. Meng die pesto bietjie vir bietjie (na smaak) by om die sous af te rond. Sit die papballe voor met die sous.