Читать книгу Kokkedoor - Errieda du Toit - Страница 17

Gestolde koue afval

Оглавление

met peperwortel-mayonnaise en groenslaai

Lewer 10 porsies

Kook met goeie wyn, ’n mens wil nie die heiligste van skaapvleis beledig nie.

Vaal Vrystaat-skaapafval

 Begin met 1 skoon skaapafval wat bestaan uit pens, pootjies, maag, harsings, wange en die kop. Enige goeie slagter sal dit kan verskaf of in die hande kan kry. Maak seker hulle weet wat hulle doen. Die harsings moet in ’n stukkie pens toegedraai word.

 Spoel die afval sélf in koue water af om seker te maak alles is skoongekrap en mooi netjies, anders eindig jy met afval wat dalk ’n krakie (klankie) het.

 Braai 2 fyngekapte bruinuie in 50 ml sonneblomolie en 50 ml botter. Die olie sal toelaat dat die botter lekker warm word en lekker geur aan die dis verleen. Strooi 5 ml (1 t) sagte bruinsuiker oor.

 Wanneer die uie mooi begin verkleur, voeg 4 gekapte knoffelhuisies by. Skep die uiemengsel uit en laat rus. Die pot is nou lekker gegeur. Gooi die afval stuk vir stuk in en braai in die oorblywende olie tot ’n sagte ligbruin kleur. Moenie alles op een slag braai nie, anders sal dit net stowe! (Hou die harsings terug tot so by die derde stap van die kookproses, anders kan die sakkie te sag kook en oopgaan, en sal ’n tragedie volg.)

 Skep die uiemengsel terug in die pot met al die gebraaide afval en gooi 5 ml (1 t) fyn koljander, ’n knippie fyn komyn en ’n bietjie liefde by! Braai alles nog so ’n paar minute lank saam. Voeg 3 lourierblare by.

 Giet nou minstens 375 ml (’n halwe bottel) droë witwyn by.

 Gooi nou genoeg water by om die afval te bedek. Geur met sout en growwe swartpeper na smaak. Kook die afval prut-prut – minstens 3 ure lank – en vul gereeld aan met ’n bietjie water. Roer nou en dan met ’n stadige hand. (Maak nou die res van die bottel wyn self klaar en moenie vergeet om die harsings by te sit nie!)

 Proe gereeld om die sout en peper aan te pas en om te sien hoe sag die afval is. Plaas so 20 minute ver in die vierde uur 10 klein, ongeskilde aartappels en 10 klein geskilde uie in. Kook tot sag. (Moenie die aartappels en uie insit as jy gestolde koue afval wil maak nie.)

 Kry ’n pot koring aan die kook en roer 2 groot eetlepels botter in.

 Die afval is baie lekker as dit eers ’n rukkie gestaan het, en is eintlik op sy beste die dag nadat dit gekook is.

 Vir die gestolde koue afval gebruik die gewone afvalresep met die volgende aanpassing: Laat die uie en aartappels aan die einde uit. Kook tot die vloeistof verminder het en verwyder alle stukkies bene en harde goeters. Laat stol oornag in vormpies soos die holtes van ’n groot kolwyntjiepan, of skep in ’n broodpannetjie.

Peperwortel-mayonnaise

 Vul die bak waarin jy die mengsel gaan klits met warm kraanwater en laat 2 minute lank staan. Gooi die water uit, droog die bak goed uit en gooi dadelik 3 lekker vet eiergele (kamertemperatuur) in. Klits sowat 5 minute lank teen hoë spoed tot die eiers taai en skuimerig is.

 Voeg die sap van ’n 1/2 suurlemoen, 15 ml (1 e) droë of aangemaakte mosterd en sout na smaak by en klits weer 4 minute lank op hoë spoed tot dik en romerig. Giet nou baie stadig – in ’n dun stroompie – 750 ml (3 k) sonneblom- of Canola-olie van goeie gehalte by. (Doen dit stadig anders sal die mengsel skei.) Hou aan meng teen hoë spoed tot al die olie gebruik is en ’n dik romerige mengsel gevorm het.

 Voeg ’n tikkie vars kruie by – soos basilie vir kleur – en 30 ml (2 e) gerasperde vars of gebottelde peperwortel. Laat oornag in die yskas staan sodat die geure kan ontwikkel.

Groenslaai

 Blansjeer enige lekker groen groente in seisoen soos baba-broccoli, aspersies, mangetout en vars ertjies 10 sekondes lank in kookwater. Skep dadelik uit en plaas in ’n bak yswater. Laat 3 minute lank rus, skep uit en dreineer.

 Maak ’n vinnige slaaisous van 15 ml (1 e) gekapte kappertjiesaad, 150 ml olyfolie, die sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen en gekapte vars pietersielie. Maak ’n slaai met vars bronkors en die groen groente en bedruip met die slaaisous.

 Sit die koue afval voor met die peperwortel-mayonnaise en die groenslaai.

“Kosmaak is vir my soos teater en dans – die ure se voorbereiding en repeteer, en dan uiteindelik net een kans om dit reg te kry.”

Mynhardt

Kokkedoor

Подняться наверх