Читать книгу As die wind kom draai - Hans du Plessis - Страница 10
Оглавление6
Dít het nie een van hulle verwag nie. Hulle kan net stom daarna kyk. Tog hoor hulle mekaar asemhaal.
Die vuur stort ’n wankelende muur teen die steil berghang links voor hulle af. Helderoranje vlae jaag voor die wind uit. Dit is moeilik om tussen rook en wolke te onderskei. Die rookkolom styg byna swart uit die berg uit op, skuins in die wind.
Soos die prent van die vuurspuwende berg in meester Roos se Hollandse boek, dink Vryheid.
Dis asof die vuur die stof agtervolg; diere vlug verder voor die vlamme uit. Verwilderd beangs. Tussen die mans en die vuur hol ’n kalf besete weg.
By hulle voete skarrel veldmuise, meerkatte en ’n haas. ’n Skilpad loop met lang hale sukkelend agter sy nek aan.
“Ons kan niks doen nie,” sê Lourens, tog hoorbaar bokant die geknetter uit omdat die mans in ’n bang bondel bymekaar staan.
Jakob staan met groot oë na die vuur en kyk. “As die wind kom draai, druk hy ons almal in die kloof in vas.”
“Ons sal die vuur nie keer nie, nie in hierdie berge nie.”
Vryheid voel die vuur teen sy voorkop, al is die vlamme nog ’n ent van hulle af. Dis asof die hitte deur sy vel dring. Is dit hoe die dood ruik? Is dit die hel? Hy probeer die groen tak in sy hand oplig, maar die boodskap kom nie by sy brein uit nie. Wat help dit in elk geval, want waar blus mens ’n vuur wat onkeerbaar soos ’n mal vyand op jou afstorm?
“Is jou vee in die vallei?” vra oom Bêrend vir Lourens.
“Paar beeste miskien, maar die meeste is nog agter ons in die kloof,” antwoord Lourens.
“Mag die Vader die vuur uit die kloof uit hou.”
Langs Vryheid storm Bennie met ’n kreet op die vuur af, die tak bewe in die wind. “Is julle bang?” skree hy woes en strompel in die rigting van die vuur.
“Bennie!” Sy pa se stem klap soos ’n sweep. Hy gryp sy seun aan die mou en ruk hom terug.
“Ons moet storm, Pa.” Bennie bly na die vlamme staar en kyk dan weer wild na sy pa. Vir die eerste keer merk Vryheid Bennie se dowwe oë op. “Ons moet slaan, Pa,” fluister hy hees.
“Dit help nie. Bly!”
Vryheid voel ’n vuur in hom opstaan. Toe hy minute gelede hier weg is, was die vlamme nog ver, nou is dit skaars vyftig tree van hulle af en so hoog soos die bome. Die verskrikking tref hom dat alles verteer gaan word. Die vlamme lek hemelhoog en hy weet dat hy nou enige oomblik gaan doodbrand. Te voet sal hulle nie vinniger kan vlug as die vlamme nie! In hierdie helse wind sal hulle die hel self moet blus. Hy kan kwalik deur die rook voor hom sien en die hitte raak ondraaglik. Die hemel bokant hom word bloedrooi.
“Die wind draai,” skree Jakob. “Die vuur gaan by ons verbyloop!”
“Prys die Heer!”
Die wind raak stiller, dis asof die vlamme regop buig, moeg van gebukkend deur die gras jaag. Dit knetter voor hulle verby, krakend die leegte in.
“Dankie, Here,” bid Lourens hardop.
Die vuur trek uitgeput voor die groepie mans verby. Nie een dink aan beweeg nie, hulle staan net sonder woorde die rug van die vuur en aanskou.
“Dis die Here wat die wind gelaat draai het,” sê Jakob en laat die nat stuk seil val. “Dis die Here se werk.”
Hoe lank weet nie een van hulle nie, hulle is roerloos. ’n Tak of ’n seil wat langs hulle sye in slap hande hang, of grond toe val.
Net Bennie Prinsloo haal hygend asem en hou sy tak soos ’n vaandel in die lug voor hom op.
Ver onder hol die kalf bulkend met stert sonder kwas.
“Dis daai wilde vers van my!”
“Gaan haal jou geweer, Vryheid, jou huis is die naaste.” Die laaste woord raak weg in die ruk van Lourens se kakebeen. “Ons sal haar moet skiet.”
“Ek het net die twee verse,” begin Vryheid.
“Jy sien mos nou, sy kan nie bly lewe nie, Vryheid. Jou geweer. Gou!”
Met longe wat brand van die hitte en die rook strompel Vryheid om die Oortman te gaan haal. Die kalf is byna die helfte van sy kudde.
Nie een van die mans kyk agter Vryheid aan nie, hulle staar na die boggel van die vuur wat gebreklik deur die leegte strompel. Al wat agter die huppelende hitte oorbly, is die swart grond, swart bome met krom, swart takke soos verbrande hande van oumense. Wit hopies as, swart hompe van die karkasse van diere wat doodgebrand het. Wit rooksuile wat oral wieg in die ligter wind. Hier en daar ’n vriendelike vuurtjie waar droë hout of mis nog vlam.
Die kalf wat bulk.
’n Wildebees wat blind staan met bloed uit baie wonde.
Vryheid wat met die geweer na die kalf toe loop, halfpad omdraai en terugkom. Hy gee die Oortman vir Lourens en loop weg.
“Sny liewer keelaf, Neef, buskruit is skaars,” sê oom Bêrend sag.
“Asseblief nie dit nie. Ek vra mooi.” Vryheid gaan staan, sonder om om te draai. “Skiet haar.” Toe strompel hy verder.
Sy hele lyf ruk toe hy die skoot agter hom hoor afgaan.
“Jakob, sorg dat die vee in die krale bly. In die vallei is niks meer om te vreet nie.” Lourens laat die geweer in sy hande hang, hy tuur oor die verwronge kom. Die blouwildebees sak inmekaar, skop en lê stil.
“Die beeste sal weet,” sê Jakob. Sy stem breek en hy draai om en loop weg.
“Kom ons gaan huis toe,” sê Lourens, maar die ander hoor hom skaars.
“Hierdie berge is mal, nè, Ouboet?” sê Bennie Prinsloo vir sy oudste broer, gooi sy tak eenkant en ril.
“Die kloof is eintlik ons redding, Boetie,” sê Niklaas, sit sy arm om sy jongste broer se skouer en lei hom weg. Die ander tou in ’n stil stoet agter die twee aan.
Toe val die eerste druppel in die dor gras om hulle.