Читать книгу As die wind kom draai - Hans du Plessis - Страница 9
Оглавление5
“Lourens!” gil Vryheid. “Lourens! Die weer het die veld aan die brand geslaan! Kom gou, Skuilhoek brand,” maar hy bly staan totdat die blits langs hom teen die klippe skiet en die vlamme soos krampende vingers na die lang gras gryp.
“Vader van genade!” Hy gly, vlieg op en hardloop.
Is Magriet al by hulle kamp naby die huis? Seile soek nie vuur nie, dink hy verward in sy haas.
Hy moet by haar kom. Haar by die huis onder ’n dak kry, maar hulle moet die vuur keer. As dit in die kloof in opkom, bly daar niks oor nie, nie ’n grashalm nie, die vlamme sal soos slange in die hoë bome in opseil. Die vee sal uitbreek of verbrand. Geen asem sal dit oorleef nie.
Ook nie Magriet nie.
Struikelend hardloop Vryheid koes-koes onder die takke deur.
“Vryheid!” Die wit rok wapper in die wind. Sy steek albei hande na hom toe uit, gil en val byna, skuins voor hom in.
“Magriet, het jy mal geword? Die bliksems sal jou doodslaan. Kom!”
“Ek het jou kom soek.”
Hy gryp haar uitgestrekte hand, trek haar byna van haar voete af, deur die droë sloot vlug hulle tot voor die kliphuis. Van binne word die beesvel in die deuropening oopgegooi en Petronel staan grootoog op die drumpel. Dis asof Vryheid Magriet na haar toe slinger. “Maak toe die deur,” skree hy. Hy sien Lourens dieper die vertrek in.
“Kom in, die weerlig is gevaarlik,” waarsku Petronel.
“Ons kan nie, Skuilhoek brand.” Hy sien hoe Lourens agter Petronel verskyn, sien hoe sy gesig vertrek.
“Genadige Vader, dit kan nie wees nie!”
“Kom, ons sal vuur moet slaan, dit uit die kloof uit weg moet keer. Dis ’n droë storm.”
“Petronel,” skree Lourens en begin hardloop, “kyk of jy water op die huis se dak kan gooi. Laat tant Rebekka-hulle jou help. Ons sal die vuur probeer keer.”
Hulle hardloop kop omlaag teen die wind in.
Dis asof die wind hortend asemhaal. Die dreuning bly.
“Bring byle,” skree Lourens in die hardloop. “Jakob, julle moet kom help. Kap nat takke, maak stukke van die ou seile nat in die voor.”
“Ons moet die vuur uit die kloof uit hou,” skree Vryheid terwyl hulle in die slingerende waspore vallei toe nael.
Oom Bêrend Prinsloo storm uit hul tent vlak langs die wapad. “Ons kom saam,” skree hy. “Rebekka, gaan skuil in die huis. Kyk of jy vir Petronel kan help, Vrou.”
“Die seuns moet saam met jou gaan,” roep die plomp vrou skril bokant die wind uit en druk die fladderende kappie op haar kop vas. “Niklaas, Antonie, Bennie, gaan help julle pa.” Gryp-gryp hou sy die lang rok teen haar bobeen en hol in die rigting van die kliphuisie.
“Waar’s Sussie?” skree oom Bêrend agter haar aan.
“Sy’s klaar in die huis by Petronel,” roep Vryheid oor sy skouer.
“Ma moet hardloop,” waarsku Niklaas Prinsloo en kruip handeviervoet by die tentopening uit. Agter hom stoei sy broers soos twee rotte met die waaiende tentklap.
“My hoed,” sê Bennie net toe hy uit is, en buk weer by die tent in, kruip agteruit uit en pluk die hoed tot amper oor sy oë op sy kop. Die Prinsloo-broers hardloop agter die ander mans aan.
Voordat hulle nog die vlakte kan sien, hoor hulle die dreuning. Hulle steek vas, kyk na mekaar asof hulle vra of weer dan so aanhoudend kan dreun? Nee, dis anders. Knetterend. Nader en sonder ophou. Hulle gryp die takke en stukke nat seil wat Jakob en sy seuns uitasem van agter begin aangee.
“Hier brand ons vandag almal dood,” sê Antonie en vat ’n stuk seil by Jakob.
Toe hardloop hulle weer totdat hulle in die effense oopte onder die bome die skuinste voor hulle sien afdaal. Hulle gaan staan.