Читать книгу As die wind kom draai - Hans du Plessis - Страница 15
Оглавление11
“Jy moet die Here dankbaar wees vir so ’n vrou, neef Lourens.” Oom Bêrend kyk Petronel agterna soos wat sy vinnig huis toe loop.
“Ek is, Oom, ek is.”
Oom Bêrend steun goedkeurend, en vra dan: “Jy wil seker na jou skade gaan kyk?”
“Kom ons gesels eers. Oom het mos nie verniet hier aangery nie. Laat ons praat.” Lourens glimlag.
“Dis maar net oor die vrederegterding, Neef. Jy sê jy stel belang in die veldkornetskap?”
“Ek dink daaraan, Oom. Miskien is ek te jonk.”
“Wat is te jonk?” Oom Bêrend beduie met sy hand asof hy ’n lastige vlieg wegwaai.
“Vertel my eers meer van die veldkornetskap. Ek weet nie regtig wat dit behels nie.” Lourens probeer dit rustig sê, al brand hy ook om sy skade te gaan bekyk.
“Die instruksies vir veldkornette van Natal was nie net so hier in ons distrikte geldig nie.” Oom Bêrend staan op asof die saak te gewigtig is om sommer so sittende te verduidelik. “Ons Adjunkraad in Mooirivierdorp het toe al nuwe instruksies uitgevaardig. Baie soos dié van die Raad van Hendrik Potgieter ’n paar jaar terug.”
“Wat sê die instruksies nou eintlik, Oom?” Lourens vat sy pyp met die groot kop van die tafel af en bly daarmee in sy hande sit.
“Hulle beskrywe die instruksies aan ’n veldkornet as bekendmaker van raadsbesluite, beskermer van die vrede, vredemaker, stemopnemer, inspekteur van plase en krygsman. Hy moet ook rondlopery teëgaan.” Oom Bêrend snuif ’n slag.
“Oom bedoel die mense wat steeds terugtrek vandat ons die Matebeles verdryf het?” Lourens wonder of hy sy pyp voor die ouer man moet opsteek.
“Net so.”
Agter die kliphuis kekkel ’n hen.
“Hoe gaan ’n mens dit teë?” vra Lourens ’n bietjie moedswillig, maar hy bring oom Bêrend nie van stryk nie.
“Mens kan hulle inboek as werksvolk by die burgers.”
“Dis ’n hele klomp instruksies. Dink Oom ek sal dit ooit kan doen?” Hy sit tog sy pyp in sy mond.
“Jy is ’n agtermekaar jong man, ek het dit by Vegkop al gesien.”
“Moet dit nie liewer ’n ouer mens wees nie?” Lourens dink ’n rukkie. “Iemand soos Oom.”
“Die mense van die wyk ken my nie, ons is nog nie lank genoeg hier nie.” Hy dink ’n rukkie na. “My dae is verby en ek kan nie die smidswinkel se deur net toetrek en ry nie, en Bennie en Magriet het my nou te nodig. Magriet moet by trou kom, maar haar broers maak dit vir haar moeilik. Niemand is goed genoeg nie.”
“Ek kan Petronel ook nie sommer so alleen hier op Skuilhoek los nie.” Lourens kug. “Vandat ons op Skuilhoek gekom het, wil sy nêrens heen nie. Sy sê sy het genoeg getrek en ons is veilig hier tussen die berge.”
“Ons soek mos maar altoos ’n laer om ons, ons Hollandse Afrikaners,” filosofeer oom Bêrend en gaan weer sit.
“Ek moet nog eers bietjie dink, oom Bêrend, gee my tyd.” Lourens trek ’n brandende stompie uit die vuur uit.
“Daar is nie meer so baie tyd nie.”
Lourens staan op, bring die vlammetjie na die groot pypkop toe en pof totdat die rook om sy kop warrel. Hy gooi die stompie terug in die vuur en gaan weer sit. Die twee konsentreer in stilte op die vlamme.
Die viool is stil. Nêrens fluit eens ’n voël nie, net ’n lam wat by die krale blêr.
“Ons het nie leiers hier in die Berglandwyk nie, Lourens.”
“Ek moet aan my vrou ook dink.”
“Sy sal regkom. Vryheid is tog hier, en hy lyk vir my na ’n deeglike kêrel.”
“Ek glo nie Oom se seuns sal saamstem nie,” antwoord Lourens. “Hoekom sal hulle so hatig op Vryheid wees?” vra Lourens die vraag wat hom al van netnou af besig hou. “Is dit omdat hy nie ’n Hollander is nie?”
Eers dink hy oom Bêrend gaan hom nie antwoord nie, maar toe kyk die ouman op, sy donker oë ernstig op Lourens. “Wie van ons kan ons nog egte Hollanders noem?” Hy haal weer die snuifdosie uit, en gaan rustig deur sy eie ritueel van twak uittik op sy vuis, snuif en eers toe hy die blikkie weer in sy onderbaadjiesak steek, vervolg hy: “Ons het almal al te veel van Afrika in ons bloed.”
“Is dit dan omdat Vryheid ’n Afrikaner is?”
“Is ons nie maar almal Afrikaners nie?”
“Hoe bedoel oom Bêrend nou?”
“Die meeste van ons reisigers se bloed is lankal nie meer net Europees nie.”
“Nou hoekom sal Bennie dan so teen Vryheid wees?”
“Eintlik is dit die tante.” Hy huiwer asof hy na die regte woorde soek. “Dis ook iets om te verstaan,” begin hy weer. “Sy droom van ’n man vir Sustertjie wat meer soos jy is: ’n sterk man wat sal kan leiding gee.” Hy lag sag. “Sy wag eintlik vir die koning van die Kaap.”
Lourens glimlag. “En Magriet?”
“Nee, dié se kop is partykeer ook maar los, sy doen voor sy dink.” Hy huiwer, glimlag: “Soos haar ma.”
“Hoekom sê Oom dis die tante? Wat sou sy teen Vryheid hê?”
“Hy is mos uit die slawe uit,” sê oom Bêrend, maar dit is duidelik dat hy dit nie as ’n goeie argument aanbied nie.
“Soos Oom sê, Vryheid is ’n deeglike man, wat maak dit saak as sy ma ’n slavin was? Omtrent elke familie op hierdie trek het iewers ’n slavin in hulle voorgeslag. Oom weet mos.”
“Ek weet.” Nou neem die oom eers weer sy toevlug tot die sakdoek, en ná ’n deeglike gestoei daarmee sê hy, amper asof hy met homself praat: “Ons is mos maar net mense. Hoe meer ons met die onwaarhede óm ons kan rinkink, hoe minder hoef ons met die waarheid ín ons te spook.”
Lourens reageer nie. Hy probeer die donker oë peil. “Dis seker my skuld dat Rebekka so erg daaroor voel.” Oom Bêrend nies. “My eie oupagrootjie was mos Niklaas van Malabar.”
Dit neem ’n hele rukkie voordat die betekenis van die sin Lourens tref. “Malabar?” vra hy.
“Is maar Indië.”
“Dit maak Oom tog nie ’n Indiër nie?”
“Afkoms is nie regtig ons probleem nie, ou Lourens, dis ons minderwaardigheid.”
“Hoe meen Oom nou?”
“Ons trekkers stam omtrent almal uit die Kompanjie se matrose of soldate uit.”
Dit lyk vir Lourens of die blote uiter van die stelling oom Bêrend laat beter voel.
“Ook nou nie juis die room van Amsterdam nie,” voeg die oom ingedagte by.
Lourens lag. “Waar lees oom Bêrend al hierdie goed?”
“Nee, ou seun, ek kan nie lees nie, nooit geleer nie, maar die goeie Vader het my ’n kop gegee om te gebruik.”
Van die wa se kant af kom die Prinsloo-broers aangestap.
“Watse soort boer is jy, Lourens Botha? Wil jy nie weet wat die vuur met jou weiding gedoen het nie?” spot Niklaas goedig.
“Ja, kom ons gaan kyk.” Lourens staan op, maar dit bly vir hom voel asof hy nie wíl weet nie, bang is om verder te weet.
Toe hy opstaan, sien Lourens Vryheid aangedraf kom. Aan sy gesig kan hy sien daar is groot fout. Wat sou dit wees?
“Julle moet kom help,” sê Vryheid uitasem.