Читать книгу As die wind kom draai - Hans du Plessis - Страница 19
Оглавление15
Die skerp reuk van nat, gebrande gras irriteer haar neus en kriewel soos ’n lastige gejeuk in haar oë. Dis hoekom sy bly rondrol op die ongemaklike bedjie, probeer Magriet haarself die hele nag lank wysmaak. Buite moet dit seker al begin lig word, want die eerste duiwe se koer vul die kloof. Dit help tog nie om nou te probeer slaap nie. Droom, ja. Die mooi man met die sagte oë en die mond wat maklik lag. Sy voel weer die krag van sy vingers toe hy gister haar hand gevat het. Gespierde voorarms. Sy is daarvan oortuig dat dit die soort man is wat haar broers vir haar sou uitkies.
As hy maar net ’n van gehad het.
Kon sy nie maar op iemand anders verlief geraak het nie? Nou is alles nog ingewikkelder. Nie dat dit ’n danige verskil gaan maak nie. Sy glimlag effens. Volgens haar broers was niemand in elk geval nog ooit goed genoeg vir hulle sussie nie. Waar hulle vir haar ’n man gaan kry met wie hulle tevrede sou wees, weet geen mens nie. Selfs die kommandant se seun was nie goed genoeg nie. Sy draai op haar rug en glimlag weer: Sy het self nie gedink die kommandant se seun is goed genoeg nie.
Nou het sy op ’n slaaf gaan staan en verlief raak.
“Verlief op ’n slaaf,” sê sy vir haarself sodat sy die woorde kan hoor, hoor of dit ooit sin maak: “Ek is verlief op hom, verlief op Vryheid sonder ’n van. Vryheid, my slaaf.”
Sy sou dit graag in die kloof in op wou gil, sodat die eggo’s die boodskap wegdra en die hele binneland dit kan weet. Maar sy durf dit nie doen nie, sy huiwer selfs om dit te fluister, want hulle mag dit nie weet nie, al is sy self daarvan seker.
Die liefde, besluit Magriet Prinsloo, is ’n sagte dief wat stil en vinnig steel. Niemand sien haar kom nie. Soos ’n dief in die nag. Dit moet wees wat die Woord bedoel.
Sy wonder of sy nie maar kan begin opstaan nie? Verbeel sy haar sy hoor iemand by die kookskerm aan die vuurmaak, of wens sy dit net?
Dalk is dit hy.
Sy wil vir hom verduidelik, maar sy weet eintlik self nie wat sy wil verduidelik nie. Hoe lê ’n mens liefhê uit? Lief is mos nie ’n probleem nie.
Hoe voel hy oor haar?
Hoef sy haar broers se optrede te verklaar? Sy wil hulle nie verdedig nie, sy wil nie haar ma se raad oor hierdie liefde hê nie. Hoekom haar ma so fel reageer, verstaan sy net gedeeltelik. Kan dit wees omdat sy self met die nasaat van ’n slaaf getrou het? Geen man sou vir haar ma so ’n goeie man soos haar pa kon wees nie.
Of is dit nou ’n groter sonde, noudat slawe vry is? Nie meer ’n blote besitting is nie?
Wie sal verstaan?
Magriet besluit om tog op te staan en aan te trek, al weet sy haar broers sal agterkom as sy op is en agter haar aankom. Om haar te beskerm, sê hulle altyd. Vir een maal in haar lewe wil sy asseblief tog net nie beskerm word nie.
Sy staan op en trek aan sonder om die kers op te steek, die skemerlig by die skreef in die tentopening is genoeg, en sy wil by die kookskerm kom sonder haar ewige lyfwagte, al bedoel hulle dit hoe goed – al is sy vir hulle ook lief.
Meer op gevoel as op sig trek sy haar aan en toe sy die tentklap oopgooi, roep die eerste fisant die nuwe dag. By haar broers se tent en in die wa is daar nog nie ’n roering nie.
Magriet loop kookskerm toe.
Dit is net Lourens wat by die groot vuur sit. “Môre,” groet hy. “As jy bietjie wag, kan jy ’n vars sny brood saam met jou koffie kry. Petronel het die brood uit die bakoond gaan haal.”
“Môre, vir vars brood sal ek wag.” Sy gaan oorkant hom sit en kyk na Lourens met sy effens deurmekaar ligte hare en die blou oë. Langerig en heeltemal mooi gebou. Met so ’n man sou haar broers seker tevrede kon wees. Haar pa sê hy wat Lourens is, is hulle nuwe veldkornet.
“Dis nou die soort man wat jy moet trou, Sustertjie,” het haar ma op pad Skuilhoek toe meer as een maal gesê.
“Hy is klaar getroud, Ma,” het sy haar ma getreiter.
“Jy weet dis nie wat ek bedoel nie.”
Nou dink Magriet aan ’n manier waarop sy by Lourens meer oor Vryheid te wete kan kom. “Julle het julle al goed hier op Skuilhoek gevestig, Lourens,” sê sy dan. “Julle is seker ook nie veel meer as ’n jaar op die plaas nie?”
“Darem al twee jaar,” sê hy. “Ons het hard gewerk, moet ek erken, maar dit voel partykeer of ons nooit gaan klaarkry nie. Ons het darem al krale gepak en met ’n groentetuin begin. Ons kan binnekort dalk ons eerste vrugte van ons eie bome pluk, selfs ’n tweede lente mielies insit. Petronel is haastig dat ons met die groter huis begin. Sy begeer ’n regte kombuis.”
“’n Kind op pad?”
“Nee . . .” Hy lag verleë.
“En nou die brand.” Dis maklik om met hom te praat, hy luister, laat haar toe om haar eie antwoorde uit te dink. Magriet kyk in die rigting van hulle kamp, dan vra sy vir Lourens: “Waar is Vryheid?”
Hy haal sy groot pyp tydsaam uit sy sak uit. Die kop is netjies gekerf. “Bybeltjie Steyn het dit nog vir my uit seepsteen gesny,” sê hy toe hy sien dat sy vir die pyp sit en kyk. Lourens maak die twaksak se riempie los en stop sy pyp sonder om haar vraag te beantwoord. Eers as die rookwolke om sy gesig dwarrel, sê hy: “Vryheid?” asof hy nie mooi kon hoor wat sy vra nie.
“Ek vra waar is Vryheid dan vanoggend?”
“Hy kyk na die melkery. Hoekom?”
Is Lourens dan net so onnosel soos haar broers? wonder Magriet en kan nie besluit of sy iets verder moet vra nie. “Hoe ’n soort mens is hy?” vra sy nogtans.
“Die lojaalste mens wat ek ken, en so sterk soos ’n bees. Hy sal nie ’n vlieg skade aandoen nie, maar ek wonder partykeer of hy self besef hoe sterk hy is. Klein ou hartjie.” Lourens weet sy wil meer as dit weet en hy glimlag. “Troumateriaal,” sê hy met sy pyp in sy mond.
“Is jy al op?” vra Petronel agter haar.
Magriet kyk om. Petronel glimlag, haar donker hare hang los om haar mooi gesig. Sy sit die bruingebakte brode op die tafel neer en vou die klam lap van die goudgeel botter af. Die stoom trek uit die brood toe sy die bros kors afsny.
“Kan ek die korsie kry, asseblief?” vra Magriet. Sy kyk na Lourens. Hy sê niks nie, knik net sy kop en bly na haar kyk. “Met drie broers sien ek nooit ’n korsie nie.” Sy verstaan self nie hoekom sy ongemaklik voel nie. Dis jammer Petronel het juis nou die brood gebring.
“Sy vra waar Vryheid is,” sê Lourens vir Petronel toe sy die sny brood en ’n beker koffie langs Magriet neersit.
“Hy het gesê hy kom vandag eers later,” antwoord Petronel en kyk na Magriet. “Nadat julle gery het, het hy gesê.”
“Wou jy hê hy moet iets vir jou doen?” vra Lourens.
“Nie eintlik nie,” antwoord Magriet. “Ek vra sommer.” Sy wil byvoeg dat sy hom net weer wil sien, maar sy sê niks, want sy wonder nou of Lourens weet waarheen sy mik. Dalk is dit beter so.
“Moet ek hom roep?” vra Lourens.
“Liewer nie.” Dis Petronel wat antwoord.
Sou Petronel dan verstaan? wonder Magriet, maar sy kan aan haar oë en die mooi lag om haar mond sien dat sy iets begryp.
“Hulle wil net groet,” sê Petronel en gaan by Lourens staan met haar hand op sy skouers.
“Hoe nou?”
“Moenie verder vra nie,” sê Petronel sag. “Vryheid is tog ook geregtig op geluk.”
Dit lyk vir Magriet aan die uitdrukking op Lourens se gesig asof hy tog begin verstaan. “En jou broers?” sê hy ná ’n rukkie en kyk vir Magriet.
“Ek gee nie om nie, Lourens.”
“En Vryheid?”
“Ek weet nog nie. Ek wil graag met hom praat, maar ek word dopgehou.”
“Ek kon gister aan sy oë sien,” sê Petronel. “Ek ken vir Vryheid.” Sy bly skielik stil.
Van die kamp se kant af kom die Prinsloo-broers kookskerm toe.
“Ons praat weer,” belowe Petronel onderlangs.
“Julle soek moeilikheid,” waarsku Lourens.
“Soos wat jy gesoek het toe jy my wou hê,” spot Petronel en soen hom op sy wang.
Dit is hoe geluk lyk, dink Magriet. Dis al waarvoor ek vra. Kan dit nou só moeilik wees om te verstaan?