Читать книгу As die wind kom draai - Hans du Plessis - Страница 17

Оглавление

13

Haar gesig is al wat hy in sy gedagtes sien. Die manier waarop sy vir hom gekyk het toe sy hom gevra het om die water te gaan haal.

Magriet.

Hy móét haar weer sien, self weer met haar praat. Voel sy wat hy voel? Hoe sal hy weet as hy dit nie self by haar hoor nie? Hy sal teruggaan, haar reguit vra of hy haar weer kan sien, want hy kry haar nie uit sy kop uit nie.

Amper het hy iets vreesliks gedoen, en dit net omdat hulle hom laat voel het hy is hulle nie werd nie. Asof hy wat Vryheid is nie self oor homself mag besluit nie.

Hoe het meester Roos altyd gesê? “’n Mens is wat jy dink jy is, en jy mag nie toelaat dat ander mense vir jou daaroor besluit nie.”

Meester Roos kan maklik praat. Hy het ’n van en hy weet wie sy pa is. Sy ma was nie ’n slavin nie.

Skielik verlang Vryheid na Meester. Hy sou graag met hom wou gesels, Meester sal weet wat om te doen. Miskien moet hy Mooirivierdorp toe ry en weer ’n slag lank met meester Joachim Roos gaan praat. Sekerlik sal hy weet hoe hy wat Vryheid is na sy pa moet gaan soek, dalk weet hy nog wie hy was. Miskien het hy al die jare tog ’n van.

Of dit hom meer mens sal laat voel, weet hy nie nou nie, en Lourens of Petronel het hom tog nooit só vertwyfeld laat voel nie.

Hy sal teruggaan en met Magriet gaan praat. Net eers die Oortman gaan bêre, netnou kom Bennie weer met sy woorde. Dan wil hy liewer nie ’n geweer in sy hande hê nie.

Dit is toe hy omdraai dat hy die geroggel agter die rotse links van hom hoor. Sal hy vandag nog weer die Oortman moet gebruik om ’n dier uit sy pyn te verlos? Hy weet nie of hy daarvoor kans sien nie, en kruit is duur. Nogtans loop hy op die gekerm af.

Toe hy om die rots kom, sien hy hom: die man wat in die as op sy knieë staan, sy kaal rug na Vryheid toe. Die brandwonde op die gespierde rug is afgryslik. Die man se hande is voor hom uitgestrek asof hy iets probeer vat. Hy praat, maar Vryheid verstaan nie die taal wat roggelend by die mens se mond uitkom nie. Anderkant die man lê vyf beeste, opgeblaas met stywe pote. Verbrand.

Vryheid gaan nader, die man sien hom en kom halforent, sy hande steeds voor hom uit. Die gesig is vertrek, trane loop strome oor sy wange. Hy bly praat, die vreemde woorde rol oor sy gebarste lippe. Toe val die figuur vooroor en gryp met sy hande na die swart stomp langs hom.

Vryheid wil omdraai en wegvlug.

Die stomp is die verbrande lyk van ’n mens. ’n Kind?

Die man lê oor die lyk van ’n kind. Vir die eerste keer in sy lewe verstaan Vryheid wat weeklaag regtig beteken, want dit is nie huil wat uit die man se mond kom nie.

Vryheid laat die Oortman van sy skouer af sak en sit dit teen die rotse. Hy vat die man versigtig aan die skouer. Nou eers sien hy ook hoe verbrand die hande is, maar dit bly klou aan die lyk op die grond. Vryheid raak liggies aan die man, probeer hom sover kry om op te staan, maar dit lyk asof hy nie eens bewus is van Vryheid nie. Toe probeer Vryheid hom regop kry deur hom aan die oksels op te lig. Die man kom wankelend regop, leun huilend teen Vryheid. Asof met sy laaste bietjie krag beur hy na die geweer toe, vat dit en hou dit na Vryheid toe uit. Hy praat, maar Vryheid verstaan niks van wat hy sê nie. Die man draai die loop van die geweer op homself, hou die kolf na Vryheid toe uit. Skiet my! smeek sy hele houding.

Stadig trek Vryheid die geweer uit die man se hande, geen weerstand nie. Hy sak wenend op die grond neer en bly so sit met sy kop skuins teen die rots. Hy beduie na die verbrande mensie, en wys na sy eie borskas. Sou dit sy kind wees? Het die vuur sy beeste gevat? En die kind? Hoe kan hy die man nou los?

Dit is ’n mens.

Optel en dra, kan hy hom nie, want die brandwonde is oral en die man is te swak om self te loop.

Hy sal hulp moet gaan soek.

Petronel sal weet hoe om die wonde te versorg.

Vryheid hou sy linkerhand in die lug. “Wag hier,” sê hy, maar weet dat die mens hom nie verstaan nie. Hy druk hom sag aan die skouer en beduie weer dat hy moet bly. Nie dat hy vanself êrens sal kan heen nie.

Met die Oortman oor sy skouer stap Vryheid haastig huis toe, hy hoor die een koeël wat los in die koeëltas rondrol.

Die vuur het nie net die veld vernietig nie.

As die wind kom draai

Подняться наверх