Читать книгу As die wind kom draai - Hans du Plessis - Страница 5
Оглавление1
“Waar is Vryheid?” Petronel Botha staan in Skuilhoek se kookskerm met die lang roerlepel in haar hand.
Lourens sit die pangeweer eers op die geweerrak teen die paaltjieheining voordat hy na haar kyk. ’n Swart haarlok lê oor haar slaap, maar hy kan haar gesig nie sien nie, want sy kyk stip na die vuur asof sy diep ingedagte is. Hy sien die skraal lyf in die lang, blou rok met kort pofmoue en wit knopies. “Hoe vra jy nou na ’n ander man as jou eggenoot tot die dood toe moeg uit die jagveld huis toe kom?” terg hy en loop tot agter haar.
Sy antwoord nie, bly net in die vlamme staar.
Toe hy sy arms van agter om haar sit, leun sy met haar kop terug teen sy bors. Hy voel haar ribbebene en onthou soos gister die tenger meisietjie met knieë soos litte in ’n riet. Nou is sy vrou – sý vrou.
Hy hoor haar liggies snuif. Sy draai in sy arms om en kyk op. Sy huil, trane blink in die donker, hartseer oë.
“En nou, my duiker?”
“Ek is toe nie swanger nie.”
Hy sit sy arms op haar skouers. “Ons is nog jonk,” sê hy.
“Ons is al twee jaar getroud. Dit lyk my ek sal nooit kinders van my eie hê nie.”
Sonder woorde hou hy haar teen hom vas. Hy het ook gehoop. “Vryheid is by Jakob-hulle,” antwoord hy haar eerste vraag. “Hulle moet eers slag. Die vel is maklik ’n sak suiker werd.”
“So, julle het darem iets geskiet?”
“’n Rooibokooi. Teen my grein in, maar ons vleis is aan die min word.”
“En ons verwag die Prinsloos môre, onthou?”
“Dis al hoekom ek geskiet het. Hier kom Vryheid nou.”
Die jong man kom by die deur in en sit sy Oortman ook op die geweerrak. Die donker kuif hang oor die breë voorkop. Effens verleë kyk hy na die ander twee, dit voel vir hom of hy op die verkeerde tyd opgedaag het. “Vir wat kyk julle my so?”
Hulle kyk inderdaad na hom, die lang, frisgeboude man net binne die skerm. Bene effe uitmekaar tot in die swart stewels wat hy glo vir ’n beesvel by ’n smous geruil het. Soos altyd het hy sy onderbaadjie aan.
Die vuur knetter, die ketel sing en by die krale bulk ’n kalf.
Die drietal praat vir eers nie. Die swartoogvrou met die ernstige trek om haar mond. Langs haar die blonde Lourens met sy blou oë. Hy hou haar hand vas. Vryheid in die kalfsvel-onderbaadjie wat meester Roos nog voor die trek vir hom in die Kango laat maak het. Die onderbaadjie met die bruin kolle. Dis moeilik om te sê watter van die kolle is dié van die oorspronklike kalf en watter is tekens van die baadjie se geskiedenis.
“Huil jy, Petronel?” vra Vryheid toe hy nader aan haar is.
Asseblief, dink Lourens, moenie sê nie. Vryheid is nou wel van kleins af my vriend, maar daar is dinge tussen ’n man en sy vrou ...
“Weet julle watter dag dit is?” vra Petronel huilerig.
“Vrydag, dink ek,” sê Lourens, dankbaar dat die gesprek ooglopend ’n wending neem.
“Ek het nog nie gedink nie,” mompel Vryheid.
“23 Augustus,” sê sy.
“En?” vra Vryheid.
“Dink mooi,” hou sy vol.
“Die dag van ons vlug,” onthou Lourens. “Die nag van die moorde.”
“Liebenbergskoppie . . .” Dit lyk of Vryheid ril.
“Ons was nog nooit weer daar nie,” sê Lourens, “al is Rietpoort so naby.”
Dis of die herinnering die woorde willoos uit Petronel laat stort. “Ek het my ma sien val,” sê sy, maar kan dan nie verder nie, leun teen Lourens.
Lourens druk Petronel teen hom vas. Hy onthou die vlamme, die Matebele met sy hand om Petronel se keel. Hy het net sy kop gesien, nie gedink nie, die kolf het geklink of dit breek. Hy het haar die donker ingedruk, tussen die bome in, daar het hulle die nag weggekruip. Lourens kyk na Vryheid. Dié staan effens nader aan hulle, die groenerige oë intens. Met die gloed van die vlamme teen sy gesig onthou hy die vuur. Hy het gedink almal gaan doodbrand, maar daar was nie wind nie en dit was te klipperig. Hy het plat onder ’n wa gaan lê tot die son opkom. Toe eers het hy rondgekyk, en niemand gesien wat lewe nie. Vryheid vryf sy hande en hou hulle na die vuur toe. Sy gedagtes by dit wat soos ’n lem in sy bors bly sit het. “Ek het die spies uit Saartjie Danster se bors uitgetrek,” sê hy.
Lourens kyk vinnig weg van sy vriend. “Ons was toe al weg,” sê hy sag.
“Ek kon julle nie kry nie, toe loop ek reguit terug Vaalrivier toe waar ons vroeër met die waens deur die drif is, maar toe hoor ek die geveg by Koppieskraal. Ek het geweet dit is die Bronkhorsts se kamp wat ook aangeval word. Toe draai ek weg, ek het gedink as jy gebly lewe het, sou jy berge toe gevlug het. Toe kry ek julle spoor.” Hy bly stil. “Tot hier waar ons nou staan.”
“Presies net hier,” sê Lourens.
“Vandag presies agt jaar gelede, omtrent dieselfde tyd.” Petronel vee haar wang aan sy hemp af. “Vandag verlang ek weer na my mense. Die tweeling was nog só klein.”
Duiwe koer in die hoë bome rondom hulle.
“Hoeveel het nie in dié agt jaar gebeur nie!” sê Lourens.
“Die gesukkel om mekaar te kry,” sê Petronel en lê weer met haar kop teen Lourens se bors.
“Nou is ons bymekaar,” troos Lourens.
“Net ek wat nog nie weer liefde ná Saartjie Danster kon kry nie.” Vryheid gaan sit.
“Dit sal nog kom.” Petronel draai uit Lourens se omhelsing, tel die vatlap van die tafel af op en lig die swart pot se deksel. “Onthou julle Karel en Sophia Kruger se gekonkel om ons drie uitmekaar uit te dryf?”
“Veral julle twee,” voeg Vryheid by.
“En die ewige gesukkel om Skuilhoek op my naam te kry.”
“Nou is ons hier. Die trek uit die Kango was tog die moeite werd.” Vryheid staan weer van die stomp af op.
“Dae soos vandag verlang ek na my ouers en na my twee sussies,” sê Petronel met haar oë op die grond.
Dit is ’n rukkie stil in Skuilhoek se kloof.
“Wees bly jy weet ten minste na wie om te verlang,” sê Vryheid.
Lourens kyk na sy vriend. “Ek onthou darem nog vaagweg my pa,” sê Lourens en gaan op die veldstoel sit.
“Ek het nie my pa óf my ma geken nie, ek ken nie eens hulle name nie.” Vryheid skuif driftig ’n stomp dieper die vuur in.
“My pa het gesê my ma is met my geboorte dood.” Lourens kyk op die grond voor hom. “Toe ek groter word, het ek gedink my pa neem my daarvoor kwalik.”
“En jou ma, Vryheid, sy was mos ’n slavin?” vra Petronel.
Vryheid kyk eers na Petronel en dan na Lourens. Hulle ken mos die storie. Wat karring hulle nou so in die verlede? “Dit is so, ja.” sê hy stug. As hy maar iets van sy ma kan onthou. Of van sy pa. Sy ma was al dood voordat hy kon verstaan. Hy onthou vaagweg die vrou wat hom moes oppas totdat iemand hom Stellenbosch toe gevat het om by meester Roos te gaan hulp soek.
Petronel gee nie bes nie. “Maar wat ek nie goed kan onthou nie is hoe jy toe in die Kango gekom het?” vra sy.
Gelukkig stuur sy nou weg van sy afkoms, dink Vryheid. “Dis mos toe oom Coenraad Bekker vir Meester gevra het om vir julle te gaan skoolhou. Toe kom ek saam met Meester daar aan.”
“Toe het Bellie en oom Coenraad sommer vir my en jou gevat,” sê Lourens.
“Vir jou, Vryheid, omdat Meester mos nie ’n vrou het nie,” sê Petronel.
Lourens en Vryheid kyk Petronel stilswyend aan. Dit is asof albei daarvan bewus is dat elkeen se gedagtes weer op die trekpad is. Saam met Hendrik Potgieter uit die Kolonie uit hierheen. Saam na waar oom Coenraad, hul pleegpa, hier naby Liebenbergskop vermoor is toe hy hulle gaan soek het. Kort daarna is oom Coenraad se vrou, Bellie, saam met die ander trekkers Natal toe.
“Ek wonder baie hoe dit met Bellie en haar nuwe man in Natal gaan,” sê Lourens.
“En met die Steyns,” sê Petronel en lag. “Onthou jy hoe jy my feitlik uit Bybeltjie Steyn se omhelsing moes kom red?”
“Hulle sê op die dorp dat die meeste trekkers nou weer uit Natal uit gaan terugtrek hiernatoe, noudat die Engelse Natal gevat het.” Lourens se oë is behoedsaam op Vryheid terwyl hy praat.
“Ek verlang die meeste na meester Roos” sê Petronel.
“Hy het groete gestuur,” troos Lourens sy vrou. “Hy was altyd goed vir ons al drie, vandat hy destyds Kango toe gekom het.”
“Ja, ek onthou,” sê Petronel. “Dit was toe oom Coenraad hom laat kom het.”
“Oom Coenraad en Bellie was vir my en Vryheid die ouers wat ons nooit gehad het nie.”
’n Somber skadu skuif weer oor Petronel. “Ek kan darem my ouers onthou, en hoe lief hulle vir my was,” sê sy half vir haarself. “As dit nie vir die trek was nie, het hulle seker nou nog geleef.”
“En het ek jou nie gehad nie, my lief.”
Dan staan Jakob by die deur met donker vleis in die tinskotteltjie. “Ek het die lewer gebring,” sê hy.
“Hoe lyk die vleis, Jakob?” Petronel neem die skottel by die kort mannetjie met die yl korreltjiesbaard.
“Dis mooi vleis, Nooi.” Hy vryf met sy regterhand oor sy gryserige hare.
“Kan jy onthou hoe jy by Coenraad en Bellie gekom het, Jakob?” vra Lourens.
“Ek is mos maar by oubaas Bekker gebore, my pa was een van sy slawe.”
“Het jy jou pa geken?” vra Vryheid.
“Natuurlik, hy het ons gevertel dat oubaas Coen hom op die markplein in die Kaap onder die slaweboom gekoop het toe hy nog ’n mannetjie was.”
“En jou ma?” vra Vryheid.
“Nee, dié het ek net so effentjies geken. Sy was mos uit een van die krale. Toe hulle nou sê die slawe is vry, het ek gebly. Ek het mos nie ’n ander huis gehad nie en Coenraad het ’n agterryer makeer.” Jakob kyk grond toe. “Toe los Bellie my hier by julle.”
“Ek moet gaan kyk of die Prinsloos se kampplek reg is,” onthou Lourens skielik. “Het julle hout gebring, Jakob?”
“Genoeg,” sê Jakob.
“Is dit die nuwe mense op Rietpoort?” vra Vryheid. “Ek ken hulle nie eintlik nie.”
“Hulle kom van Natal af.”
“Kuier julle maar,” sê Vryheid. “Ek is nie lus vir vreemde mense nie.”
“As ek reg onthou, is daar ’n Prinsloo-dogter,” spot Petronel.
“En mooi daarby,” sê Lourens.