Читать книгу As die wind kom draai - Hans du Plessis - Страница 11
Оглавление7
Die reën begin harder val, tog is dit asof die groepie mans nie vinniger wil loop nie. Die verskrikking van die brand het soos krimpsiek in hulle ledemate kom sit.
Meteens steek oom Bêrend vas en haal stadig sy groot hoed af. Die silwer druppel val blink op sy geboë pankop, hingel en rol dan af tot in die wit baard. “Dankie, Here,” prewel hy met toe oë. “Amen,” en sit weer sy hoed op.
“Die hemelse Vader was ons genadig, ou seun” sê hy dan vir Lourens asof hy voel hy moet verduidelik. “Ek het netnou al gewonder wat sal gebeur as die vuur onder deur die poort en oor die nek hol vlakte toe. Rietpoort lê reg in die pad wat die vuur sou loop, en as dit anderkant die berg eers die groot vlak se lang gras vat, vreet hy als wat in sy pad kom op. Ek ken vuur, hy kan oor die Vaal spring as die wind in sy blaaie blaas.”
“Die reën sal die vuur keer, Pa,” troos Niklaas.
“Dis hoekom ek die Vader dank. Kom, hier kan ons nou niks meer doen nie.”
Hulle loop verder, sonder haas, terwyl die druppels vinniger val.
“Hoe koel voel die reën op my vel ná die hitte,” sê Antonie Prinsloo, die middelste van die broers. ’n Lang, lenige kêrel met fyn hande en ’n sagte stem. “Ek het heeltyd aan my viool in die tent gedink. Wat sal ek sonder ’n viool maak? Ek sal liewer dood wil wees.”
“Dis darem nie só erg nie, Boet,” antwoord oom Bêrend rustig.
“Sonder musiek is ek ook niks nie, Boet.” Bennie slaan sy ouer broer op die blad, en loop dan agter sy pa aan. “Nè, Pa?”
“Gelukkig het die wind gedraai,” sê Lourens. “Ons sal moet vinniger loop. Die reën is heerlik, maar ons moet onder ’n seil kom.”
“As die wind nie gedraai het nie, sou die vuur bo-oor Rietpoort geloop het, Pa,” sê Niklaas Prinsloo van voor af.
“Ons Vader is genadig, Ouboet,” antwoord oom Bêrend.
“Ons moet mos elke dag bid, nè, Pa.” Bennie loer onder die hoed uit.
“Kom ons gaan kyk of die vrouens veilig is. Nou het ons koffie nodig.” Lourens loop vinniger.
Vryheid staan vir hulle en wag. “Die vrouens is gelukkig in die huis,” sê hy.
“Hoe weet jy?” vra Niklaas.
“Ek het Magriet self huis toe gevat.”
“Jy los ons sussie uit,” dreig Bennie in die loop.
“Wees net dankbaar,” keer oom Bêrend en dis asof hy tussen Bennie en Vryheid inloop. “Ons het niks om oor te struwel nie, ons moet vrede hê, want die genade was groot vandag. Nou nog die reën ook.”