Читать книгу As die wind kom draai - Hans du Plessis - Страница 8
Оглавление4
In die holte begin stof by die trop elande uitslaan. Eers ná ’n rukkie besef Vryheid dis nie van die skielike wind nie, dis die elande wat rusteloos maal en windaf begin beweeg. Al vinniger. Die stof stuif onder die hoewe uit soos hulle kop in die lug met flappende nekvelle en oop neusgate begin vlug. Waarvoor weet hy nie.
Ver weg in die weste, agter die berge links van hom, dreun dit dof. Die beduidenis van ’n weerligstraal. Toe eers begin gryswit wolke oor die bergtop frons. Hy hoor die wind harder deur die blare ruis, al harder. Die wolke word donkerder, die wind swiep oor die lang, droë gras. Skel skreeu ’n arend swewend op die wind. ’n Silwer straal blits teen die boonste kranse vas, dit rammel en eggo brommend die vallei vol. Die voëls in die lug word meer, swart spikkels op vlug voor die storm uit.
Vryheid verstom hom aan die skielike skouspel van weerligstrale wat van klip tot klip spring en teen die kranse klap, bome wat wild in die wind buig.
Uit die oorkantste berghang bars ’n trop wildebeeste soos mal vee die skuinste af, sterte in die wind, die koppe gerig op die ontsnaproete voor hulle, verby verwonderde hartbeeste. Hulle merk die mens nie eens op nie. Koedoes beur sierlik onkeerbaar oor die valleivloer. Die wolk wat donkerder en dikker word, meng met suile stof. Alles in een rigting, weg van die weer af na die enigste uitgang, oos uit die vallei.
Tog bly die reën weg.
Blitse vonk soos vuurvoorslae uit die wolke, donderslae soos geweerskote oorverdowend om hom. Die oggend raak onheilspellend donkerder. Hy weet hy moet skuiling soek, maar die wonder gryp Vryheid vas. Dis nie sy eerste donderstorm op Skuilhoek nie, maar só uit die bloute het hy dit nog nooit beleef nie.
Waar skuil ’n mens en waar vlug jy heen?
Hordes hoewe vertrap die vallei in hulle angs. Regs van hom, skaars vyftig tree, breek ’n renoster bome soos droë stokkies in sy pad vallei toe.
En die reën bly weg.
Kan ’n storm só skielik en só droog wees?
Dit knal in die bome rondom hom.
Dit blits bo teen die berg, soos ’n vuurslag wat deur tontelbos bars. Rook uit die bergtop uit? Die droë gras vat vlam, en vlamme struikel voor die wind teen die hang, die geluid oordonder selfs die woedende wind.
Veldbrand!