Читать книгу As die wind kom draai - Hans du Plessis - Страница 12

Оглавление

8

Hulle stap koes-koes tussen die rosyntjiebosse deur tot onder die groot seil wat ’n entjie van die kliphuis se deur oor die stewige pale gespan is. Die druppels trippel op die seil en agter loop die water in strome af. Die kookskerm is aan die kante deur ’n paaltjieheining afgeskerm.

Die mans gaan staan nader aan die vuur wat laag brand onder die groot, swart ketel wat aan die driepoot hang. Die vuur is vriendelik en die stoom uit die ketel gerusstellend.

Alles kon só maklik anders gewees het as die wind nie gedraai het nie.

Nog effens oorbluf staan hulle sprakeloos om die vuur toe Petronel by die deur van die kliphuis uitkom en gebukkend die paar treë van die deur af onder die seil in hardloop. “Kon julle die brand blus?” vra sy vir Lourens.

“Dis die onse Vader,” antwoord Bennie.

“Hoe erg is dit?”

“Erg genoeg, my skat, die oorkantste berg het kwaai gebrand, en toe deur die vallei begin trek,” antwoord Lourens en sit sy hand om haar lyf. “Daar is min weiding op Skuilhoek oor, net die kloof.”

“Dis darem iets,” troos sy en lê haar donker kop teen sy skouer, die swart hare klam teen haar slape. Sy kyk na hom toe op. “Ons diere?”

“Van hulle kon in die vallei gewees het, maar gelukkig nie baie nie. Ek wag net vir die reën, dan sal ek loop kyk, maar ons vee was meeste nog in die kloof, behalwe Vryheid se een verskalf.”

“Ons osse en perde was ook nog in die kraal,” sê Niklaas.

“Dit kon baie erger gewees het,” probeer Lourens bemoedig.

“As die wind nie gedraai het nie …” Antonie laat sy sin in die lug hang. “Die vuur sou ons almal in die kloof vasgekeer het, ons en die vee en al ons aardse besittings.”

“Die wild?” vra sy.

“Ek is bevrees hulle het nie almal voor die vuur weggekom nie.”

Petronel slaan haar hande oor haar neus en mond, sy sluit haar oë vir ’n oomblik. Toe sê sy: “Die Here was nogtans goed vir ons.”

Ver in die suidooste brom die weer dof, die druppels op die seil en die water wat afloop is al wat hulle naby hulle hoor.

Dan vra Vryheid: “Is Magriet by julle in die huis?”

“Veilig, sy en tant Rebekka.”

“Ek was bekommerd.”

Petronel staan Vryheid stip en aankyk asof sy wil vra waar dié skielike bekommernis vandaan kom. Toe sy sien dat Vryheid verleë wegkyk, sê sy: “Tant Rebekka het gedink ons moet agter julle aan om te gaan kyk of ons kan help, maar ons het toe liewer op ons knieë gegaan en gebid.”

“Dit het gehelp,” sê oom Bêrend.

“Dit help altyd, Oom,” beaam Petronel. “Hoe lyk dit met ’n bietjie koffie? Julle het dit verdien.”

“Asseblief, my skat. Ek dink ons almal se kele is droog.”

Petronel beweeg in die rigting van die tafel wat teen die paaltjiemuur gemaak is: vier pale in die grond en ’n blad van nuwe planke. Sy begin koffiebekers uit die tinskottel op die tafel uitpak.

“Kom sit,” nooi Lourens en wys na die twee riempiestoele en die veldstoeltjies om hulle, langs die tafel ’n tuisgemaakte bank.

“Haai jy, bring vir my ’n stoel.” Bennie kyk onder sy hoed uit na Vryheid.

“Daar staan een reg langs jou,” antwoord Vryheid.

“Kom ons sit,” sê Lourens vinnig en skuif een van die veldstoeltjies nader aan Bennie.

“Sit, Bennie,” sê oom Bêrend, en Bennie vou die stoeltjie oop en kyk op die grond.

“Lourens,” vra Petronel, “gaan roep vir tant Rebekka en Magriet. Hoor of hulle hier kom koffie drink en of jy dit kan invat.”

“Ek sal gaan hoor,” sê Vryheid.

Bennie vlieg van die veldstoel af op, dit vou agter sy bene toe en slaan om. Toe is hy reg voor Vryheid. “Ek het mos gesê jy los my suster uit. Ek sal hulle self gaan roep. Ons soek jou nie hier nie.”

Vryheid bly staan met sy hande langs sy sye. Net Lourens, wat sy vriend lankal ken, weet wat dit voorspel as Vryheid sy vuiste langs sy sye bal.

“Vryheid, drink eers saam met ons koffie,” sê Lourens kalm.

“Ons drink nie koffie saam met die volk nie.” Bennie skuifel effens weg.

“Dié wat goed genoeg was om vuur te slaan, is goed genoeg om saam koffie te drink.” Lourens moet hom inhou.

“Toe nou, Bennie,” paai oom Bêrend. “Ons drink almal ’n beker koffie.”

“Nie ek nie, Pa.”

“Toe nou.”

“Ons drink net koffie, Boetie,” kom Niklaas ook tussenbyde.

Lourens haak die ketel van die driepoot af en sit dit op die tafel neer. “Gaan sê vir jou ma en jou suster hulle moet kom koffie drink, Antonie.”

Die stoom warrel om haar hande toe Petronel die koffie begin skink, dis asof die swart straaltjie uit die tuit effens meer as gewoonlik bewe.

Antonie loop onder die seil uit en buk by die kliphuisie se lae deur in om sy ma en suster te roep. Om die vuur is dit stil, net die ligte geknetter en die reën wat nou sag sif.

Vryheid staan nader aan Jakob, weg van die vuur af.

As die wind kom draai

Подняться наверх