Читать книгу As die wind kom draai - Hans du Plessis - Страница 14
Оглавление10
Van die Prinsloos se wa af vloei die klanke van die viool en vul die stil kloof. Die vyf mense onder die seil van die Bothas se kookskerm sit gefassineerd na die musiek en luister. Die onrus van die oggend vir die oomblik vergete.
Oom Bêrend Prinsloo sug, soek weer na sy snuifdoos. Hy snuif en haal ’n groot, bruin sakdoek uit sy sak uit, steek byna sy hele gesig daaragter weg. Magriet speel met ’n stokkie in die vuur. Tant Rebekka kyk na haar dogter asof sy haar bewegings bestudeer. Lourens en Petronel kyk na mekaar.
“Antonie speel mooi viool,” sê Petronel toe die viool ’n oomblik stil raak. “Ek weet nie wanneer laas ons op Skuilhoek musiek gehoor het nie.”
“Ons stoei ook maar nog om ná jare se getrek orde om ons te skep,” voeg Lourens by.
“Dit was harde jare vir ons almal, maar miskien kan ons nou in hierdie wildernis gevestig raak.” Oom Bêrend frommel die sakdoek op, prop dit terug in die klapbroek se sak en skuif sy voete voor hom uit, die enkels sterk waar dit net bokant die nuwe velskoene uitsteek. “Ek weet net nie van die klomp Natallers wat aan die kom is nie. Almal wil nou Potchefstroomdistrik toe. Soos bye om ’n heuningkoek.” Weer sug hy.
“Ons stap eers terug wa toe, Petronel,” kondig tant Rebekka aan en staan vinnig op. “Kom, Sussie,” gebied sy Magriet agter haar aan. “Ons sal moet begin klaarmaak as ons môre vroeg wil terug Rietpoort toe. Dis amper ’n hele dag se trek.”
Die viool speel weer en die Prinsloo-vroue begin aanstryk asof op maat van die viool. “Jy moet jou prate nou klaar praat, Bêrend,” spreek sy haar man in die wegloop aan.
“Ek sal praat, Vrou.” Hy vryf met sy groot hand oor sy baard. “Julle moet my mense probeer verstaan,” vervolg hy en kyk agter sy vrou en dogter aan.
“Ag, oom Bêrend, almal van ons het maar ons eie maniertjies,” skerm Petronel.
“Nogtans. Rebekka leef net vir haar kinders en die seuns is erg oor hulle suster. Niemand mag aan haar raak nie. Dis veral Bennie, en die ander twee broers glo weer hulle moet Bennie teen die wrede wêreld beskerm.”
“Eintlik is dit goed as hulle vir mekaar omgee. Miskien gee ons almal te min vir mekaar om,” sê Lourens.
“Is dit nie maar die pionierslewe wat ons so gemaak het nie, ou seun?”
“Dan is die kinders se omgee mos reg, Oom.”
“Ja, maar dis nie altyd gesond nie. Partymaal raak ek oor hulle bekommerd. Julle weet ou Bennie kan dwars raak.” Die oom staar ’n rukkie in die vuur. Die viool speel sagter. “Die kind is nie baie slim nie.”
“Hy is darem ook nie meer ’n kind nie, Oom,” waag Petronel dit.
“Maar hy tree so op.” Oom Bêrend sug diep.
“Gesels julle nou maar verder,” sê Petronel en staan op. “Ek het nog goed om voor middagete in die huis te doen. Die oggend was maar deurmekaar.” Sy soen Lourens op sy agterkop in die verbyloop huis toe.