Читать книгу As die wind kom draai - Hans du Plessis - Страница 16
Оглавление12
“Ek is ook ’n mens!” skree Vryheid.
“Ek is ook ’n mens,” herhaal die kranse totdat die sin wegsterf.
Vryheid gryp na die loot van ’n blinkblaar wat in sy pad hang, hy voel skaars die dorings in sy palm haak, en ruk die tak met geweld van die boom af, slinger dit die lang gras in.
“Hoe sal julle weet?” gil hy op die kranse. “Julle is net sulke klipkoppe soos hulle wat dink verstaan is ’n spul mooi woorde.” Dit voel vir hom of iets van Bennie se vernedering saam met die woorde by sy mond uitvlieg. “Bliksems!”
Sonder dat hy doelbewus daaroor gedink het, is hy op pad na sy eie huis toe. Hy buk by die lae deur in en vat die Oortman waar hy dit netnou teen die paaltjiemuur laat staan het. Die koeëltas gespe hy driftig om sy lyf. Hy voel daarin, sy vingerpunte raak aan die twee ronde koeëls, die lood is koelerig, byna sag. Vriendelik. Gerusstellend. Die kruithoring pluk hy skuins oor sy skouer.
Blindelings strompel hy weg van die kamer af, weg van die kookskerm af, weg van die werf af. Hy vloek op die viool wat soos ’n wanklank van agter die bome opklink. “Speel in julle moer in.”
Eers toe hy op die swartgebrande vlak is, voel dit vir hom of hy effens bedaar, en die veld om hom raaksien. Die verwoesting. Die dood self. Swart. Hy wil sy oë toemaak vir die verbrande karkasse wat oral lê. Opgeblaasde hompe.
Hy proe weer die rook wat van die gras af opslaan, soos destyds in die nag van die moorde op die Liebenbergs. Helder onthou hy die reuk van dooie mense net buite die laer by Vegkop, die walglike reuk van teer wat hulle gebrand het sodat hulle die dood nie meer kon ruik nie.
Woes ruk Vryheid die voorlaaier van sy skouer af, gooi ’n hopie kruit op gevoel af in sy hand uit en voor by die loop in. Die uithaal van die balletjie lood en die inprop van ’n vetlappie is deel van ’n ritueel waaroor hy nie hoef te dink nie. Hy stamp die laaistok onnodig hard in die loop in af.
“Ek is ’n mens. ’n Mens soos julle.” Die loop is koud toe hy die geweer daaraan opswaai en die kolf met die ander hand vang.
Om hom is die berge ’n waterige wasigheid. Hy gooi kruit in die pan en lig die geweer.
Toe die gesnork naby hom.
Hy kyk: die sebra runnik skril, die oë blind gebrand. Die hings probeer op sy knieë kom, maar dit bly net ’n desperate gemaal van voorpote in die nat as. Die vrees wat in elke beweging is, en die wanklank van die hulpelose blêr, dwing Vryheid om die geweer na die reddelose sebra toe te swaai. Hy loop nader, die sebra probeer wegbeur. Tien tree van hom af gaan Vryheid staan en lig die lang loop. Hy voel hoe sy hande bewe asof hy nog nooit iets wat lewe moes doodskiet nie. Hy mik nie regtig nie, maar die koeël slaan in die kwagga se kop vas en hy rol om, blaas deur sy keel asof hy ’n sug van verlossing slaak.
Vryheid bly net so staan, en bewe so groot as wat hy is, asof daar ’n hele winter deur sy lyf trek, asof hy vir die eerste keer besef waar hy is, die geweer in willose hande.
Wat maak hy nou eintlik hier? Wat wou hy kom doen? Hy vermy die antwoorde op sy eie vrae omdat hy nie wil dink nie. Hy wil nie weet wat hy wou doen nie.