Читать книгу Best Books Studiewerkgids: Lien se lankstaanskoene vir Gr 12 EAT - Ilna Stander - Страница 4

Voorwoord

Оглавление

As onderwyser was die kloof tussen die klomp verskillende goedbedoelde hulpmiddels vir die klaskamer en die werklikheid van die skoolsisteem ’n frustrasie. Hierdie studiewerkgids vir matrieks met Afrikaans as Eerste Addisionele Taal sal alles makliker maak vir onderwyser en matrikulant. Die ideaal is dat elke leerder sy eie werkgids het en self daarin skryf soos die lees van die voorgeskrewe werk vorder en dat die gids daagliks in die klas nagesien word. Die gids kan in klasse tydens die skooldag, maar ook deur leerders wat op hulle eie werk, gebruik word, omdat antwoorde in ’n uithaalbare antwoordseksie agterin die boek geplaas is.

Elke hoofstuk bestaan uit die volgende elemente:

•’n volledige kolpuntopsomming in Afrikaans

•’n effens korter Engelse kolpuntopsomming

•onderrigvrae oor feite en begrip (met ’n variasie van stelwyses, asook denkvlakke wat by die antwoorde aangetoon word), maar wat ook as toets- of eksamenvrae kan deug

•’n verduideliking hoe die hoofkarakter ontwikkel

•’n verduideliking hoe die verhaal se struktuur ontvou

•die vrae waaroor die leser na elke hoofstuk wonder (ook nuttig voor die hervat van lees)

•praktiese mondelinge voorstelle, meestal kort stelwerkstuk-voorstelle

•en boonop kort, broodnodige skryfhulp vir vraestel 3 deur uitvoerbare mini-skryfoefeninge.

Daar is deurlopende interessanthede soos:

•blokkiesraaisels

•’n blitsvasvra

•navorsing oor Norah Jones, die komponiste en musiekstukke

•rolspelraai

•en skribbels en illustrasies wat veral die visuele leser sal boei.

Agterin die werkgids is

•’n karakter-letterspel wat ’n suksesvolle en plesierige manier is om die hele klas saam oor die karakters te laat gesels

•’n maklike hersieningsvasvra

•en ’n omvattende lys van woorde en idiomatiese uitdrukkings en hulle Engelse ekwivalente.

Hierdie gids is bedoel as bykomend tot die ingeslote gids in die skooluitgawe van Lien se lankstaanskoene. Die literêre begrippe wat voor en agter daarin vervat is, word nie hier herhaal nie. Daarom moet seker gemaak word dat die leerders hulle ook daarvan vergewis.

Belangrik: Kyk die fliek eers ná die boek, sodat die motivering vir die lees nie geblus word nie. Daar is ook verskille tussen die boek en die fliek. Lê liefs eers die werk se feite vas.

Die gehalte voorlesing in die klas gee die deurslag (of die nekslag) vir die onderrig van voorgeskrewe werk, én dit moedig selflees aan, óf dit ontmoedig dit. Die voorleser moet homself inleef.

Wegtrekplek: ’n Video-onderhoud met die skrywer, kort en gepas vir klasgebruik.

http://nb.bookslive.co.za/blog/2012/02/08/lien-se-lankstaanskoene-deur-derick-van-der-walt-word-n-rolprent-plus-video-onderhoud/

Die samesteller

Best Books Studiewerkgids: Lien se lankstaanskoene vir Gr 12 EAT

Подняться наверх