Читать книгу Vers en Vlam - Ilna Stander - Страница 10

4. Gedigontledings Oor monnemente gepraat deur Peter Blum

Оглавление

(Bl. 10 in Vers en vlam)

WAAROOR GAAN DIE GEDIG?

Die spreker kontrasteer die Voortrekkermonument in Pretoria in die noorde van Suid-Afrika met die meer menslike standbeelde in die suide. Hy vergelyk die Voortrekkermonument met ’n leë sirkustent sonder lewe en pret. Dis vir hom te groot, te lelik en te duur. Hy dryf ook die spot met standbeelde van ’n paar openbare figure. Hy voel hulle is meer “menslik”, maar hy sê ook wat hom pla.

The speaker contrasts the Voortrekker Monument in Pretoria in the north of South Africa with the more humanlike statues in the south. He compares the Voortrekker Monument to an empty circus tent without any life and fun. He thinks it’s too big, too ugly and too expensive. He also pokes fun at the statues representing prominent historical figures. He feels they are more “humanlike”, but even so, there are still some things about them that bother him.

NOG WOORDVERKLARINGS

r. 13 reisiesbaan (racecourse): plek vir wedrenne

r. 14 spanspek (melon): somervrug

aangesprokene: Die iets of iemand met wie die spreker in die gedig praat. Bv. “Wat spog jul …” (r. 1)

LEES DIE GEDIG

Die Voortrekkermonument staan in Pretoria en beeld hoofsaaklik die geskiedenis van die Groot Trek uit. Die standbeelde van die Kaap is Andrew Murray, ’n godsdiensleier wat mense wou ophef, Jan Hofmeyr, ’n kampvegter vir Afrikaans en sy kultuur, Jan van Riebeeck, die stigter van die verversingspos aan die Kaap, Cecil John Rhodes wat die hele Afrika, van Kaapstad tot Kaïro, vir die Britse Ryk wou kolonialiseer, en koningin Victoria, ook as simbool van kolonialisme. Kolonialisasie vind plaas wanneer ’n land of ’n regering gedeeltes van ander gebiede buite hulle grense vir hulle land toe-eien, soos wat die Engelse hier in Afrika kom doen het. Kaapse Afrikaans is ’n vorm van Afrikaans wat in die Kaap, en veral op die Kaapse Vlakte, gepraat word, bv. “kjend” in plaas van “kind” en “lielak” in plaas van “lelik”. Hierdie sonnet is deel van die “Kaapse sonnette” van die digter waarin al die sprekers Kaapse Afrikaans praat. Die hele gedig is satiries, wat beteken dat daar die spot gedryf word met die monumente en standbeelde waarna verwys word.

ONDERRIGVRAE OOR DIE GEDIG

Met die gedig langs jou, beantwoord die volgende vrae:

1Kies die korrekte antwoord:

Die spreker in die gedig is (Peter Blum/’n bruin persoon/’n wit student). (1)

2Die aangesprokene (person being addressed) is die persoon met wie die spreker in die gedig praat. Wie is die “jul” in hierdie gedig? (1)

3“Daar is ’n eerstepersoonsverteller in die gedig.” Stem jy saam met hierdie stelling? Motiveer jou antwoord. (1)

4Strofe 1 en 2 verwys na ’n sekere monument in die noorde van ons land.

4.1Watter monument is dit? (1)

4.2Haal minstens TWEE woorde uit strofe 1 aan wat die monument beskryf. (2)

4.3Skryf DRIE aspekte van die monument neer wat deur die spreker in strofe 1 gekritiseer word. (3)

5Herlees versreël 5 van die gedig.

5.1Haal ’n woord uit strofe 1 aan wat pas by die “sirkustent” in hierdie versreël. (1)

5.2Noem TWEE tipiese elemente van ’n sirkus wat in strofe 2 voorkom in jou eie woorde. (2)

5.3Hoe is dié monument vir die spreker anders as ’n sirkustent? (1)

5.4Skryf TWEE woorde uit strofe 2 neer wat ’n konnotasie met humor het. (2)

6Met watter woord in die sestet (r. 9–14) vorm “monnemente” ’n kontras? (1)

7Die spreker wys sekere menslike aspekte van die standbeelde uit. Voltooi die tabel deur ’n gepaste woord of woorde uit die gedig aan te haal. (3)

MonumentAanhaling wat menslikheid wys
7.1Andrew Murray
7.2Jan Hofmeyr
7.3Jan van Riebeeck

8Kies die woord uit kolom B wat by die aanhaling uit die gedig in kolom A pas. Skryf die lettersimbool van die korrekte antwoord in die antwoordkolom. (5)

Kolom AAntwoordKolom B
8.1ma’ lielak8.2groter as ’n sirkustent8.3bakgat aangetrek/ in sy plus-fours8.4Mies Victôria8.5spanspekA.hiperboolB.enjambementC.ironie/sarkasmeD.metafoorE.Kaapse Afrikaans

9Kies die korrekte antwoord om die stelling te voltooi. (1)

Die “reisiesbaan” (r. 13) is ’n metafoor vir …

A.die binneland van Suid-Afrika.

B.die Wes-Kaap.

C.die wedloop om die hele Afrika vir die Britse Ryk te kolonialiseer.

D.die Kaapstadse perdewedrenbaan.

10Watter woord in die sestet (r. 9–14) wys vir die leser dat die standbeeld van koningin Victoria in Kaapstad staan? Motiveer jou antwoord. (2)

11Verdedig die stelling dat die gebruik van “Mies” in r. 14 na rassisme verwys. (1)

12Kies die korrekte antwoord om die stelling korrek te voltooi en skryf dit neer. (1)

Die spreker lewer sosiale kommentaar op …

A.armoede

B.kolonialisme

C.die vermorsing van geld op sirkusse

D.kolonialisme en die mors van geld op duur monumente

13Hierdie gedig is ’n Italiaanse sonnet. Dui met ’n X of ’n √ aan of die eienskap wat hier gelys word, pas by die bou van ’n Italiaanse sonnet of nie. (6)

EienskapJaNee
13.1Die gedig bestaan uit veertien versreëls.
13.2Daar is ’n oktaaf en ’n sestet.
13.3Daar is ’n vaste rympatroon.
13.4Die toepassing van die gedig is in die oktaaf.
13.5Die oktaaf bestaan uit veertien versreëls.
13.6Die rymskema vir die eerste kwatryn is abba,

14Die interpretasie van en reaksie op ’n gedig hang af van die leser daarvan. Wat, dink jy, kan die kommentaar van elk van die volgende landsburgers oor hierdie gedig wees? Motiveer elke antwoord.

14.1iemand uit die noorde van die land (2)

14.2iemand uit die Vrystaat (2)

14.3iemand uit Engeland wat tans in Suid-Afrika woon (2)

15’n Monument of standbeeld word opgerig om ’n gebeurtenis of die bydrae van ’n persoon of persone te herdenk. Wat is jou mening oor die beskerming, beskadiging of vernieting daarvan deur die burgers van ’n land? Motiveer. (2)

16Voltooi die sinne deur die korrekte woorde uit die blok te kies:

spoggerig vir ewig verewig ontronding narre hansworse joggie jokkie ruiter

16.1Jan van Riebeeck se nagedagtenis is _____________ in ’n standbeeld in Kaapstad. (1)

16.2Die persoon wat ’n perd in ’n wedren ry, is ’n _____________ (1)

16.3Wanneer die woord “huis” uitgespreek word as “hys”, noem ons die taalverskynsel _____________ (1)

16.4’n Afrikaanse woord vir “clowns” is _____________ (1)

16.5Wanneer iemand “bakgat” lyk, is hy _____________ (1)

17Skryf die naam van ’n monument in jou omgewing en waar dit is (of enige een waarvan jy weet) neer. Gee dan die rede waarom dié spesifieke monument opgerig is. (2)

[50]

SAMEVATTING/TOEPASSING

Historiese monumente en standbeelde wys ons op geskiedkundige gebeure, maar nie almal identifiseer op dieselfde manier met die geskiedenis wat hierdie simbole verteenwoordig nie.

VERRYKING

•Leerders google of doen naslaanwerk in die biblioteek oor die agtergrond van die Voortrekkermonument en elk van die standbeelde wat in die gedig genoem word.

•Maak ’n collage van die prente van die monument en standbeelde wat in die gedig vermeld word.

•Leerders gesels oor beroemde en/of bekende standbeelde en monumente van Suid-Afrika en van die res van die wêreld.

WENKE VIR ONDERWYSERS

•Leerders wat toegang het tot die internet kan berigte en artikels aflaai of koerantberigte bring oor standbeelde wat in die afgelope jare beskadig of verwyder is vir ’n klasbespreking.

Vers en Vlam

Подняться наверх