Читать книгу Vers en Vlam - Ilna Stander - Страница 16

’n Vrou van die dorp Clocolan deur Philip de Vos

Оглавление

(Bl. 25 in Vers en vlam)

WAAROOR GAAN DIE GEDIG?

’n Vrou van Clocolan, ’n Vrystaatse dorpie tussen Bethlehem en Bloemfontein, is verlief op die man in die maan (iemand denkbeeldig). Sy het hoop in haar hart en ’n ou teleskoop, maar dit help niks nie en nou kan sy maar net sug.

A woman living in Clocolan, a town in the Free State between Bethlehem and Bloemfontein, is in love with the man in the moon (someone imaginary or fictitious). The hope in her heart and an old telescope that she has do not help her at all. All that is left for her to do is to sigh in despair.

NOG WOORDVERKLARINGS

r. 3 hoop (hope): verwagting

r. 4 teleskoop (telescope): ’n toestel waardeur jy na iets ver weg kan kyk

r. 5 sug (sigh): asem uitblaas as teken van onder andere moedeloosheid

LEES DIE GEDIG

’n Limeriek is ’n gedig met ’n baie vaste metrum en daarom moet dit hardop gelees word. In ’n blog-inskrywing op Versindaba illustreer Philip de Vos die metrum van ’n tipiese limeriek so:

taTAM tattaTAM tattaTAM/ (tat)taTAM tattaTAM tattaTAM/ (tat)taTAM tattaTAM/ (tat)taTAM tattaTAM/ (tat)taTAM tattaTAM tattaTAM

Onderstreep die volgende woorde van die limeriek “’n Vrou van die dorp Clocolan” op bl. 25 liggies met potlood voordat dit hardop voorgelees word. Luister hoe die beklemtoonde lettergrepe en woorde die metrum vorm: vrou, dorp, -lan (in Clocolan), -lief (in verlief), man, maan, hart, hoop, ou, -skoop (in teleskoop), sug, ver, gaan.

Die eerste reël begin soos gewoonlik met ’n persoon (’n vrou) en word gevolg deur ’n plek (Clocolan). Die einde is onverwags, want dit is allesbehalwe ’n gelukkige einde vir hierdie verliefde vrou.

In reël 2 kom inversie voor omdat “maan” aan die einde moet wees vir die rymskema aabba.

ONDERRIGVRAE OOR DIE GEDIG

Met die gedig langs jou, beantwoord die volgende vrae:

1Onderstreep die korrekte antwoord tussen hakies.

Die toon van die limeriek is (ernstig/somber/lighartig). (1)

2Oor wie gaan die limeriek: ’n vrou van Clocolan of die man op die maan? (1)

3Lees weer versreël 2.

3.1Dink jy dit is moontlik dat die vrou regtig op die man in die maan verlief kon wees? Gee ’n rede vir jou antwoord. (1)

3.2Haal EEN woord uit reël 2 aan wat bewys dat sy nie meer verlief is op hom nie. (1)

4Noem TWEE dinge wat die vrou gehad het. (2)

5Waarop, dink jy, hoop die vrou? (1)

6Alhoewel ’n teleskoop jou toelaat om hemelliggame wat ver van die aarde is – soos die maan, sterre en selfs enkele planete – te sien, kan jy nie alles daarop in detail sien of bestudeer nie. Die SALT-teleskoop, een van die modernste teleskope wat in Sutherland is, kan jou vermoedelik wel so ver as ’n kersvlam op die maan laat sien.

Is die volgende stelling WAAR of ONWAAR? Die vrou in die limeriek se teleskoop sal haar in staat stel om die man op die maan raak te sien – as hy regtig bestaan. Motiveer jou antwoord. (1)

7Noem TWEE wyses waarop die laaste reël beklemtoon word. (2)

8Evalueer die vrou se optrede in die slotreël ten opsigte van die hoop wat sy in versreël 3 in haar hart gehad het. (2)

9Alhoewel die vrou hoop het dat daar ’n verhouding kan ontstaan, is hierdie hoop ironies. Gee ’n rede om hierdie stelling te bewys. (1)

10Kyk na die laaste woord in elke reël en skryf die eindrymskema neer. (1)

11Hierdie limeriek het nie net die eindrym aabbanie, maar ook halfrym. ’n Voorbeeld is in versreël 2, waar alliterasie voorkom.

11.1Definieer (gee ’n definisie van/omskryf) die begrip alliterasie. (1)

11.2Skryf versreël 5 neer en dui die klanke wat allitereer aan. (1)

11.3Onderstreep die korrekte antwoord.

Een van die funksies van alliterasie soos dit hier gebruik word, is:

A.klanknabootsing.

B.sodat die gedig makliker lees.

C.omdat dit beter klink.

D.om die woorde te beklemtoon deurdat dit met mekaar verbind word. (1)

12Wat is die tema van hierdie limeriek? Wenk: Hou dit waarmee die spot gedryf word in gedagte. (1)

13Wat, dink jy, sal die gevolg wees van die vrou wat hoop verloor het? (1)

14Kan jy met die vrou identifiseer? Verduidelik jou antwoord. (1)

[20]

SAMEVATTING/TOEPASSING

Die vrou word as karikatuur geskets omdat sy hoop vir en op iets wat nie eens bestaan nie, en ook omdat die hoop slegs van haar kant af kom. Tog is hierdie eensydige, hopelose liefde ’n algemene verskynsel – veral onder tieners.

Al wat sy gehad het om aan hierdie denkbeeldige verliefdheid vas te klou, was die hoop dat dit tog bestaan of dat dit kan uitwerk en ’n teleskoop – wat beklemtoon hoe ver buite haar bereik dit is.

VERRYKING

Verhoudings is ’n integrale deel van die lewe. Onbeantwoorde liefde – of gevoelens wat slegs van een kant af kom – is beslis nie so skaars nie. Gaan kyk gerus die fliek Mooirivier.

WENKE VIR ONDERWYSERS

•So skryf jy ’n limeriek: http://storiewerf.co.za/skryf/limericke_philipdevos.htm

•Inligting oor die SALT-teleskoop by Sutherland: http://www.mieliestronk.com/saltskoop.html

•How to See the Moon: Telescope Viewing Tips: http://www.space.com/14296-moon-telescope-viewing-skywatching-tips.html

•Hoe om onbeantwoorde liefde te hanteer: http://www.wikihow.com/Deal-With-Unrequited-Love

•How to write a limerick: https://www.youtube.com/watch?v=t3OeU8GGusM

•Voorbeelde van Engelse limerieke op YouTube: https://www.youtube.com/watch?v=qQI7rKVqVns

•Onderhoud met Philip de Vos op YouTube: https://www.youtube.com/watch?v=zJ6XbDMQqVA

Vers en Vlam

Подняться наверх