Читать книгу Vers en Vlam - Ilna Stander - Страница 17

die gebreekte snaar deur Diä!kwain/Antjie Krog

Оглавление

(Bl. 28 in Vers en vlam)

WAAROOR GAAN DIE GEDIG?

Die spreker is ’n San-jagter in gevangenskap. Nie net is sy boog se snaar, en moontlik ook sy musiekinstrument s’n, gebreek nie, maar veel egter is die hartsnaar wat simbolies gebreek is – deur mense. Die mense laat hom ontuis en vreemd voel. Hy voel kwesbaar en blootgestel aan dít wat die mense aan hom gedoen het.

The speaker is a San hunter in captivity. Not only is the string of his bow broken and his culture taken away from him, but far worse is his heart broken by people. The people made him feel uncomfortable and strange and that is why he feels vulnerable and exposed.

NOG WOORDVERKLARINGS

r. 2 gebreek (broken): stukkend gemaak

r. 3 daarom (therefore): om dié rede

r. 5 as gevolg daarvan (as a result of): daarom

r. 7 geluid (sound): klank

r. 7 lug (air)

r. 16 vreemd (strange): onbekend

LEES DIE GEDIG

Voordat jy die gedig op bl. 28 lees, gaan lees weer die agtergrond van Diä!kwain op bl. 26–27 in Vers en Vlam. Verbeel jou jy hoor hoe ’n San-jagter soos Diä!kwain die gedig voorlees en probeer sy gevoel van vervreemding as gevolg van gevangenskap visualiseer.

Die manier hoe die gedig saamgestel is (die uiterlike bou) sluit goed aan by die eenvoudige en ongeletterde San-spreker. Let op dat daar nie hoofletters is nie en dat daar slegs een leesteken is (die punt in versreël 7). Daar is ook nie ’n vaste rym nie en sinne is vreemd saamgestel. Voegwoorde (soos “daarom”, “want”, “omdat” en “as gevolg van”) probeer aan die leser verduidelik hoekom die spreker verlate voel.

As iemand die gedig aan jou kan voorlees, luister hoe die assonansie en alliterasie en die herhaling van veral die voegwoorde en “die snaar gebreek” ’n sekere musikaliteit aan die gedig verleen. Dit sluit aan by die San-spreker in wie se kultuur liedere gebruik is om boodskappe en gevoelens oor te dra.

Die herhaling van “vir my” beklemtoon ook hoe afgesonder hy voel van ander mense.

ONDERRIGVRAE OOR DIE GEDIG

Met die gedig langs jou, beantwoord die volgende vrae:

1Die titel “die gebreekte snaar” kan verskillende betekenisse inhou. Pas die verduideliking in kolom B by die interpretasie in kolom A.

Kolom A: InterpretasieAntwoordKolom B: Verduideliking
1.1 Die jagter se boogsnaar (bowstring) het gebreek.A.Mense het sy gevoel vir ander mense vernietig. Die mense wat hom gevange geneem het, is die rede hoekom hy nie meer kan jag en sy kultuur beoefen nie en daarom is die verhouding wat hy met hulle kon hê, verbreek. Die hartsnare wat gebreek het, kan ook daarop wys dat hy nie meer kontak met sy geliefdes of stamlede het nie omdat die mense hom nou as gevangene weghou van hulle af.
1.2Die San-spreker se musiekinstrument se snaar het gebreek.B.Omdat sy wapen gebreek het, kan hy nie meer jag en kos aan sy stam voorsien nie. Hy beteken as jagter nou niks nie. Omdat hy in gevangenskap is, het hulle sy doel in die lewe – om te jag – van hom af weggevat en daarom voel hy asof hy nêrens meer hoort nie.
1.3Die snaar wat gebreek het, verwys simbolies na hartsnare.C.In Afrika-kulture is musiek ’n groot deel van die stam se kultuur. As die snaar van die musiekinstrument dus gebreek is, is daar ’n deel van die kultuur waaraan die spreker nie meer kan deelneem nie. As gevangene het hulle ook sy kultuur van hom af weggevat.

(3)

2Onderstreep die korrekte antwoord om die stelling te voltooi. (1)

Die rede hoekom die spreker sê dat mense die snaar gebreek het, is omdat hulle:

A.sy boogsnaar in die middel gebreek het.

B.sy musiekinstrument se snare gebreek het.

C.hom doodgemaak het.

D.hom in die gevangenis hou.

3Verduidelik hoe “trillende geluid deur die lug” in versreël 7 dubbelsinnig is (na meer as twee idees kan verwys). (2)

4“daarom/ het die plek vir my só geword” (versreël 3–4)

Haal die twee reëls aan wat sê waarom die plek vir hom “só” geword het. (1)

5Daar is drie beskrywings van die “só”, hoe die plek nou vir hom voel. Verduidelik in jou eie woorde wat jy dink die volgende beskrywings beteken:

5.1Versreël 9–10: “voel die plek nie meer vir my/ soos die plek eens vir my gevoel het nie” (1)

5.2Versreël 13: “die plek voel asof dit sommerso oopstaan” (1)

5.3Verseël 16: “voel die plek vir my vreemd” (1)

6Die spreker is in gevangenskap, maar hy smag nie eens na vryheid nie. Mense het veroorsaak dat hy alle lus vir die lewe verloor het. Haal ’n reël aan wat hierdie stelling bewys. (1)

7Die plek voel vir hom “vreemd”. (versreël 16)

7.1 Hoe kan die letterlike plek waar hy is vir hom vreemd voel? (1)

7.2Verduidelik hoe hy figuurlik vreemd kan voel. (1)

8Watter woord in die gedig kan klanknabootsend wees van die geluid wat ’n snaar maak as hy vibreer? (1)

9Evalueer hoe die ontbrekende hoofletters en punktuasie by die spreker aansluit. (1)

[15]

SAMEVATTING/TOEPASSING

Gevangenskap vroeër jare, en dalk selfs nou nog, het soms die ergste straf denkbaar ingehou: dit het jou lus om te lewe vernietig en jou menswaardigheid weggeneem. Veral die inheemse inwoners van Afrika, wat gewoond was aan vryheid en oop vlaktes, is erg deur gevangenskap beïnvloed.

Dit is gewoonlik nie omstandighede wat jou menswees breek nie, maar wat mense doen of sê. Wees versigtig dat jy nie deur wat jy doen of sê mense so afkraak dat jy ’n deel van hulle menswees vernietig nie.

VERRYKING

•Gaan lees op oor hoe stamme soos die San skielik met die koms van setlaars hulle kultuur en leefwyse moes aanpas.

•Lees die Engelse vertaling van Diä!kwain se gedig en vergelyk dit met die Afrikaanse vertaling: https://esaach.org.za/index.php?title=Di%C3%83%C2%A4!kwain

•Lees Antjie Krog se bundel die sterre sê ‘tsau’ om nog inheemse vertolkings van gedigte te lees.

•Stories op die wind, ’n veeltalige bloemlesing van Noord-Kaapse verhale, uitgegee deur die Departement van Kuns en Kultuur en die Instituut vir Geregtigheid en Versoening, bevat stories in Noord-Kaaps en ’n CD waarop dit voorgelees word. Elke storie verskyn in Afrikaans, Engels en Noord-Kaaps. Leerders kan gerus luister hoe die San-taal klink.

WENKE VIR ONDERWYSERS

Lees meer oor “die gebreekte snaar” in Frances Antoinette Vosloo se tesisverhandeling by http://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/2271

Vers en Vlam

Подняться наверх