Читать книгу Vers en Vlam - Ilna Stander - Страница 12

Verskroeide aarde deur Martjie Bosman

Оглавление

(Bl. 15 in Vers en vlam)

WAAROOR GAAN DIE GEDIG?

Die spreker erken dat sy slegs deeltjies ken van hoe haar voorouers deur die Anglo-Boereoorloog geraak is. Grootouma en haar vier kinders is na ’n konsentrasiekamp geneem, Grootoupa was êrens op ’n slagveld besig om te veg (dalk reeds verslaan en dus oorlede), die huis is gekonfiskeer en as hospitaal vir die vyand (die Britse soldate) gebruik, en die seun het gesterf en is op ’n onbekende plek begrawe. Die spreker hoor al hierdie dinge by haar sterwende ouma wat steeds verbitterd is oor alles wat met haar ma-hulle gebeur het en die spreker besef dié haat en verbittering is nou haar erfenis.

The speaker knows only parts of her ancestors’ history and how they were affected by the Anglo Boer War. Her great-grandmother and the four children were taken to a concentration camp and her great-grandfather was somewhere on a battlefield, the house was confiscated and used as a hospital for the enemy, and the son died and was buried in an unknown place. She hears all these things from her dying grandmother who still feels bitter about everything and she realises that this will be her heritage.

NOG WOORDVERKLARINGS

r. 1 geskiedenis (history)

r. 4 ee (cattle)

r. 8 erfgenaam (heir)

r. 9 beroerte (stroke)

r. 11 droewe (sad)

r. 12 geslagte (generations)

LEES DIE GEDIG

Terwyl jy die gedig op bl. 15 voorlees, hou die konteks en agtergrond van die verskroeideaardebeleid in gedagte. Lees weer vooraf “Verskroeide aarde” in konteks op bl. 14 van Vers en Vlam.

Die twaalf reëls het nie ’n vaste rymskema nie (abcadaefghgh) alhoewel sekere eindwoorde rym. Hierdie gebroke rym sluit aan by die idee dat die verskroeideaardebeleid ’n geordende bestaan vernietig het. Terwyl die aarde verbrand is, was daar geen lewe nie en boeregesinne se lewens is deurmekaar gekrap. Kinders en vrouens is na konsentrasiekampe gestuur en persoonlike besittings en selfs hulle eiendom is deur die Britte afgeneem.

Die laaste vier reëls met hulle vaste rympatroon (ghgh) beklemtoon die ironie dat die spreker uit haar sterwende ouma se mond die haat en verbittering saam met die kennis en insig erf dat dit tevergeefs is/was om op die familiegrond te woon.

Daar is ’n hele paar voorbeelde van alliterasie en assonansie wat die bittere stemming wat in die gedig heers, help oordra.

ONDERRIGVRAE OOR DIE GEDIG

Met die gedig langs jou, beantwoord die volgende vrae:

1Vul die ontbrekende woorde in:

“dié geskiedenis” (reël 1) waarna die spreker verwys, is hoe haar voorgeslagte deur die

(1.1 ___________________________) geaffekteer is. Grootouma en die vier kinders is na Merebank, ’n (1.2 ___________________________), geneem en die huis is deur die Britse soldate gekonfiskeer en as ’n (1.3 ___________________________) gebruik. (3)

2Onderstreep die korrekte antwoord om die stelling te voltooi. (1)

Die titel “Verskroeide aarde” verwys na die beleid van die Britse leër dat …

A.Boere se plase afgebrand moes word sodat hulle sal ophou veg en eerder die brande by hulle huise en op hulle landerye sal gaan blus.

B.Boere se plase vernietig of gekonfiskeer moes word en almal en alles van die plaas weggevat moes word, want solank daar vrouens en werkers was wat die plase kon bestuur, sou die Boere voorrade kon kry en aanhou veg.

C.Suid-Afrika afgebrand moet word sodat almal in die vure kan doodgaan.

3Verduidelik hoe “brokke” (versreël 1) dubbelsinnig is (na meer as twee idees kan verwys). (2)

4Onderstreep die korrekte antwoord om die stelling te voltooi. (1)

Die funksie van die dubbelpunt aan die einde van reël 1 is om …

A.aan te dui dat daar ’n lys van items volg.

B.die eerste sin van die tweede sin te skei.

C.die gedig mooi te laat lyk.

D.aan te dui dat die dele van die geskiedenis wat onthou kan word, hierna volg.

5As jy die konteks van die verskroeideaardebeleid op bl. 14 in gedagte hou, hoekom het daar heel moontlik ’n paar vee bly oorleef (r. 4)? (1)

6Skryf die woorde waarin alliterasie voorkom in versreël 5 neer en onderstreep die allitererende klanke. (1)

7Grootoupa was “te velde wie weet waar” (r. 5).

7.1Wat word met “te velde” bedoel? (1)

7.2“wie weet waar” suggereer dat niemand presies weet waar hy is nie. Dink jy dit kan na meer as net ’n spesifieke plek (waar hy veg) verwys? Motiveer jou antwoord. (2)

8Watter kleur was Grootouma en Grootoupa Geldenhuys se plaashuis? (1)

9Hoe sluit die kleur van hulle plaashuis aan by dit waarvoor dit gebruik is? (2)

10Skryf die woord uit reël 7 neer wat aandui dat niemand weet of dit waar is dat soldate onder die leiklipstoep begrawe is nie. (1)

11Omkring die korrekte antwoord:

Die soldate in reël 7 wat in die “hospitaal” gesterf het, het aan die Boere / Britte se kant geveg. (1)

12Die “erfgenaam” (r. 8) verwys waarskynlik na die seun wat die familienaam moes oordra en in die konsentrasiekamp gesterf het.

12.1Dink aan die toestande wat in die konsentrasiekampe geheers het en verklaar hoekom hy “naamloos” begrawe is. (2)

12.2Watter woord in reël 8 skakel met “wie weet waar” (r. 5)? (1)

13Gee ’n verklaring hoekom ouma Makkie en die spreker se van heel moontlik nie Geldenhuys is nie. (2)

14Versreël 9 suggereer dat ouma Makkie sterwend is.

14.1Watter woord beklemtoon dat sy sterwend is? (1)

14.2As gevolg van watter siektetoestand is sy nou sterwend? (1)

15Die spreker erf twee dinge by ouma Makkie. Hoe verskil hierdie erfenis van dit wat gewoonlik geërf word? (2)

16Die twee dinge wat die spreker by ouma Makkie erf, is:

A. “die droewe wete van familiegrond vir geslagte tevergeefs bewoon”.

B.“twee bitter woorde: smaad en hoon”.

Kies uit hierdie twee opsies watter een by elk van die volgende verduidelikings pas en skryf dit neer.

16.1Ouma voel verbitterd teen die Britse Ryk omdat sy as kind saam met haar ma en broer en susters na die konsentrasiekamp geneem is. Daar is hulle verneder en gespot bloot omdat hulle Boere was. Nie net is al hulle besittings van hulle weggeneem nie, maar hulle menswees is ook weggevat. Toe die broer sterf, is hy selfs naamloos begrawe. Hulle moes na die oorlog weer alles van voor af opbou. (1)

16.2Ouma is hartseer omdat sy besef dat die familiegrond wat al die jare bewoon is, nou óf nie meer hulle s’n is nie omdat dit in die Anglo-Boereoorlog deur die Engelse gekonfiskeer is en as ’n hospitaal gebruik is, óf dat die enigste erfgenaam gesterf het en dat dit dus nie meer Geldenhuys-grond kan wees nie, want niemand kan die van oordra nie. (1)

17Dink jy ouma Makkie gaan vol vrede sterf? Motiveer jou antwoord. (2)

[30]

SAMEVATTING/TOEPASSING

Soms kan die verbittering en hartseer wat ’n gesin as gevolg van ’n slegte of traumatiese gebeurtenis beleef, geslagte lank oorgedra word – al ken die jonger generasies nie al die feite nie.

VERRYKING

Hou ’n klasbespreking van hoe dit waaraan families glo en wrokke wat hulle koester, kan veroorsaak dat stereotipering van byvoorbeeld ras of kultuur in ’n familie kan aanhou.

WENKE VIR ONDERWYSERS

Lees en kyk na meer oor die verskroeideaardebeleid by: www.afrikanergeskiedenis.co.za/die-beleid-van-verskroeide-aarde/

Vers en Vlam

Подняться наверх