Читать книгу Vers en Vlam - Ilna Stander - Страница 14

droë weerligstraal deur Charl J.F. Cilliers

Оглавление

(Bl. 19 in Vers en vlam)

WAAROOR GAAN DIE GEDIG?

’n Droë rivierbedding wat in die weerlig sigbaar is, word beskryf.

A dry riverbed, visible because of lightning, is described.

NOG WOORDVERKLARINGS

r. 1 droë (dry): sonder die teenwoordigheid van water of vog

r. 1 weerligstraal (lightning bolt): die sigbare teken van weerlig

r. 2 verrimpelde (wrinkled): iets wat nie glad is nie en vol plooie is

LEES DIE GEDIG

’n Haikoe is ’n Japannese digvorm wat tradisioneel uit drie reëls met vyf klankgrepe in die eerste reël, sewe in die tweede en vyf in die laaste reël bestaan. Die inhoud handel gewoonlik oor ’n natuurverskynsel. Die digter beskryf meestal twee beelde wat met mekaar kontrasteer.

“droë weerligstraal” voldoen aan die uiterlike en innerlike kenmerke van ’n haikoe. Die eerste reël bestaan uit vyf klankgrepe/lettergrepe, die tweede reël uit sewe en die derde reël weer uit vyf. Die natuurverskynsels waarna verwys word, is eerstens weerlig en tweedens droogte. Weerlig is dikwels ’n voorloper van reën en daarom is die teenwoordigheid van ’n weerligstraal in teenstelling met die rivierbedding wat al lank sonder water is. Daar is al krake en riwwe. ’n Droë donderstorm vind plaas wanneer daar donderweer en weerlig teenwoordig is, maar die vog opdroog voordat dit die grond kan bereik. Hierdie tipe donderstorm is baie gevaarlik, want dit is die donderstorms wat brande veroorsaak.

In die gedig sien die spreker die droë rivierbedding in die lig van die weerligstraal. Dit is ’n droë weerligstraal omdat dit nie reën gaan bring en die droogte gaan verlig nie. Die rivierbedding word gelykgestel met ’n verrimpelde vel: ’n vel wat nie meer glad is nie, maar vol plooie.

Hierdie gedig is baie klankryk. Die “r”- en “v”-alliterasie herinner aan die geluid van die donderweer.

ONDERRIGVRAE OOR DIE GEDIG

Met die gedig langs jou, beantwoord die volgende vrae:

1Verduidelik die kontras in die titel. (2)

2Onderstreep die allitererende klanke in reël 1: (2)

droë weerligstraal

3Wat is die funksie van die alliterasie van die volgende klanke in die gedig?

3.1“r”-klank (versreël 1–3) (1)

3.2“v”-klank (versreël 2–3) (1)

4Onderstreep die antwoord wat NIE pas NIE:

“die verrimpelde vel van ’n rivierbedding” is ’n voorbeeld van …

A.’n vergelyking.

B.’n metafoor.

C.personifikasie. (1)

5Verduidelik die metafoor “die verrimpelde vel van ’n rivierbedding”. (1)

6Waarom kan “verrimpelde vel” as ’n voorbeeld van personifikasie beskou word? (2)

7Hierdie gedig is ’n haikoe.

7.1Slaag dit as ’n haikoe? Omkring die korrekte antwoord. (1)

Ja / Nee

7.2Motiveer jou antwoord by 5.7.1 deur die volgende paragraaf oor die uiterlike kenmerke te voltooi.

Die gedig bestaan uit drie reëls. Die eerste reël het ____________

lettergrepe, die tweede reël ____________ lettergrepe en die derde reël

____________ lettergrepe. (3)

7.3Motiveer jou antwoord by 5.7.1 deur te verduidelik na watter natuurverskynsel die gedig verwys. (1)

[15]

SAMEVATTING/TOEPASSING

“droë weerligstraal” is ’n geslaagde haikoe. Die weerligstraal is in teenstelling met die droë rivierbedding wat dit verlig.

Soms gebeur dinge nie soos wat ’n mens verwag dit moet gebeur nie. Weerlig, byvoorbeeld, bring nie altyd reën nie en ’n rivier het nie altyd water in nie.

VERRYKING

Probeer nou self ’n haikoe skryf oor iets wat jy in die natuur waarneem. Hou die uiterlike kenmerke in ag en probeer ’n teenstelling in jou beeld inbou.

WENKE VIR ONDERWYSERS

Hoe om ’n haikoe te skryf:

•www.creative-writing-now.com/how-to-write-a-haiku.html

•www.litnet.co.za/kompetisie-skryf-die-groot-afrikaanse-haikoe

•www.storiewerf.co.za/skryf/skryf_haiku.htm

•www.youtube.com/watch?v=MfzrAk6EV9c

Inligting oor droë weerlig/donderstorms:

•www.wisegeek.com/what-is-dry-lightning.htm

•www.livescience.com/32357-what-is-a-dry-thunderstorm.html

Vers en Vlam

Подняться наверх