Читать книгу Vers en Vlam - Ilna Stander - Страница 8

Оглавление

As jy ’n gedig vir die eerste keer lees, is daar ’n “reseppie”/wenke/kontrolelys wat jy kan gebruik om dit op jou eie te ontleed:

•Begin deur die gedig hardop te lees.

•Onderstreep klanke wat herhaal of kleur dit met geel in. Klinkers/vokale wat herhaal, word assonansie genoem en medeklinkers/konsonante wat herhaal, is alliterasie. Probeer om die funksie te bepaal. Is dit om klankrykheid te verhoog en woorde te verbind soos by “Kinders van die wind” (bl. 33 in Vers en vlam) of maak dit die ritme vinniger of stadiger?

•Omskryf onbekende woorde of uitdrukkings in jou eie woorde.

•Lees nou elke strofe deur en probeer in jou eie woorde opsom waaroor daardie strofe gaan.

•As jy sien dat woorde of idees herhaal, omkring daardie woorde in een kleur. Probeer bepaal wat die funksie van die herhaling is. In “Kinders van die wind” word die idee van oudheid deur herhaling beklemtoon. Die refrein (die strofe wat herhaal) versterk die tema.

•Onderstreep voorbeelde van beeldspraak in rooi en skryf langsaan neer watter soort beeldspraak dit is. Is dit byvoorbeeld ’n metafoor soos in strofe 1 van “Kinders van die wind” of ’n vergelyking soos in strofe 2?

•Gaan terug na die titel. Watter simboliese betekenis kan die titel inhou? Gaan die gedig regtig oor die wind se kinders of simboliseer dit iets meer?

•Omkring uitdrukkings en woorde wat by die titel aansluit. Dit kan jou help om die betekenis van die titel te ontsyfer. “swerwers sonder rigting” en “soekers wat nooit vind” word gelykgestel aan “kinders van die wind” wat “almal” is, en daarom kan ons aflei dat die titel by die tema van die gedig aansluit: almal in die lewe het ’n begeerte om meer te hê en niemand kan vooraf weet waarheen die lewe hulle gaan neem nie.

•Skryf die denotatiewe (letterlike) en konnotatiewe (figuurlike) betekenis van woorde/uitdrukkings neer.

•As daar ’n voorbeeld van ironie is, dui dit aan en skryf kortliks wat ironies is.

•Kyk na die leestekens in die gedig en dui leestekens met ’n bepaalde funksie aan. In “Kinders van die wind” sal die ellips asook die aandagstreep se funksies aangedui moet word.

•Bepaal of die spreker en wie hy is of watter tipe spreker dit is, ’n bepaalde funksie vervul. In “Kinders van die wind” is dit ’n eerstepersoonspreker, maar die boodskap word nie daardeur versterk nie. Die aangesprokene is in hierdie gedig ook nie duidelik nie, maar die “almal” wat as kinders van die wind gesien kan word, betrek die leser.

•Kyk na die uiterlike bou. “Kinders van die wind” het vyf strofes van vier reëls elk (’n kwatryn genoem). Elke strofe se tweede en vierde reël se eindwoord rym. Tog rym reël 1 en 3 se woorde nie, so daar is nie ’n vaste rympatroon nie. Die aantal lettergrepe per reël vorm ’n definitiewe patroon. Hierdie patroon help om die ritme te versterk en die musikaliteit te bevorder.

Vers en Vlam

Подняться наверх