Читать книгу Vers en Vlam - Ilna Stander - Страница 11

Die berggans het ’n veer laat val deur Boerneef

Оглавление

(Bl. 13 in Vers en vlam)

WAAROOR GAAN DIE GEDIG?

Die spreker tel ’n veer op wat ’n berggans van ’n hoë krans by Wuppertal laat afval het. Hy verlang na sy geliefde. Hy stuur die veer na haar om vir haar te sê hoe lief hy haar het.

The speaker in the poem, who picked up a feather of a mountain goose in Wuppertal, misses his loved one. He sends the feather to her to tell her how much he loves her.

NOG WOORDVERKLARINGS

r. 1 veer (feather)

LEES DIE GEDIG

Die gedig is ’n sestet omdat dit uit ses reëls bestaan. As die gedig hardop gelees word, klink dit sommer soos woorde wat gesing sal kan word. Die besonderse klankrykheid in die gedig word verkry deur die rymskema aabbcc en die alliterasie en assonansie. Die vaste aantal lettergrepe van elke reël (agt, met die uitsondering van versreël 2, wat nege lettergrepe het) dra ook by tot die musikaliteit in die gedig.

Die inhoud wys hoe baie die spreker na sy geliefde verlang. Die paarrym en die berggans wat gewoonlik net een lewensmaat het, beklemtoon die spreker se verlange na sy geliefde met wie hy glo hy ’n hegte eenheid vorm.

Dit is duidelik dat die spreker tuis is in Wuppertal se omgewing. Hy weet byvoorbeeld hoe ’n berggansveer lyk en dat die berggans waarskynlik op die hoogste krans was en daar sy veer verloor het. Hy gebruik ook kontreitaal wat eie is aan daardie streek. Die geliefde ken heel moontlik ook die omgewing, want die spreker hoop dat sy die simbool van sy liefde (die berggansveer) sal herken en die boodskap wat hy daarmee aan haar wil oordra, sal verstaan.

ONDERRIGVRAE OOR DIE GEDIG

Met die gedig langs jou, beantwoord die volgende vrae:

1Voltooi: Die spreker het ’n _____________________________ opgetel. (1)

2Onderstreep die korrekte antwoord om die stelling te voltooi.

Die metafoor “my hart staan tuit al meer en meer” (r. 3) beteken:

A.die spreker se hart klop vinniger.

B.die spreker verlang al meer.

C.die spreker raak meer verlief. (1)

3Die spreker stuur iets vir sy geliefde.

3.1Wat stuur hy vir haar? (1)

3.2Waar het hy dit gekry? (1)

3.3Watter boodskap hoop hy dra hierdie geskenk aan haar oor? (1)

3.4Verduidelik watter simboliek hierdie geskenk inhou. (2)

4Skryf die rymskema neer. (1)

5Benoem die rympatroon. (1)

6Evalueer of die rympatroon die inhoud van die gedig ondersteun of nie. (2)

7Skryf die kontrasterende woorde in reël 2 en reël 6 neer. (2)

8Die gedig is vol alliterasie en assonansie.

8.1Skryf versreël 1 oor en onderstreep klanke wat allitereer. (1)

8.2Skryf versreël 6 oor en onderstreep klanke wat assoneer. (1)

[15]

SAMEVATTING/TOEPASSING

Die sestet dra effektief sy verlange en liefde vir sy geliefde oor. Elke paartjie verskil. Waar die spreker glo dat ’n berggansveer aan sy geliefde sal bewys hoe lief hy haar het, sal ’n berggansveer dalk betekenisloos wees vir ’n ander paartjie.

Ons tyd wat ons saam as paartjie deurbring, sal dikwels ’n invloed hê op hoe ons na sekere voorwerpe of plekke kyk.

VERRYKING

Beskryf die ideale geskenk wat aan ’n geliefde (of iemand wat jy baie liefhet, soos jou ma, pa, ouma of oupa) sal bewys hoe verskriklik lief jy hulle het.

WENKE VIR ONDERWYSERS

•Luister na die getoonsette weergawe van die gedig: www.youtube.com/watch?v=363YTDZDzj8

•Lees meer oor Wuppertal: www.wupperthal.co.za

•Lees meer oor Boerneef: https://af.wikipedia.org/wiki/Boerneef

Vers en Vlam

Подняться наверх