Читать книгу Sondebok - Irma Venter - Страница 10
4
ОглавлениеDis amper elfuur toe ek by Crow’s Feet opdaag. Pretoria se belofte van reën en koue word waar in Johannesburg. Die grond is nog nat en die restaurant se tuin ruik na kunsmis en gekneusde blare. Die koelte behoort later vandag Pretoria toe te trek, dalk selfs verder noord. Limpopo se boere sal bly wees as dit reën.
Ek klim die drie trappe na die stoep waar Adriana by ’n ronde tafel sit en tee drink, ’n gestyfde wit servet oor die swart romp wat net bokant haar knieë sit. ’n Tweede koppie staan reeds en wag, die swart koffie daarin stomend, so asof sy presies geweet het wanneer ek sou opdaag.
Sy lyk nog dieselfde as toe ek haar laas in September gesien het. Die vreemde bruin oë met die tikkie geel in. Die dowwe litteken oor haar wang. Die donkerbruin hare wat soos ’n gordyn tot net onder haar kakebeen hang. ’n Bruingebrande, ferm lyf soos dié van ’n sirkusarties. Die onmoontlik hoë hakke, dieprooi vandag.
“Ranna,” groet sy met haar ryk, diep stem.
Sy staan op, wag dat ek naderloop en haar op die wang soen. Ek moet afbuk, want ten spyte van die hakke is sy baie korter as ek.
Sy beduie ek moet sit. “Waar’s Alex?”
“Ek wou eers sien waarvoor ek my inlaat.”
“Dis dalk goed so. Hy’s nie juis my grootste aanhanger nie.” Sy glimlag, maar dit haal nie haar oë nie.
Sy lyk moeg. Die grimering is perfek, die klere sonder ’n kreukel, nes ek gewoond is, maar haar lyf hou nie haar gewone regop postuur nie.
Ek kyk vlugtig om my. Dit lyk nie asof iets verander het sedert ek laas hier was nie. Selfde duur meubels. Selfde duur stilte gekoop met hoë mure, ’n elektriese heining en ’n groot, groot erf.
Ek proe aan die koffie, gemaak van varsgemaalde bone. Dis sterk genoeg om my moeë oë oop te skop.
“Is jy honger?” vra sy.
“Rasend.”
Adriana kyk oor haar skouer. “Zenani?”
’n Groot vrou met vlegseltjies wat tot op haar skouers hang, verskyn in die deur. Sy is amper so lank soos ek. Vlekkelose vel. Oë wat alles wantrou – my inkluis. En sy het hande wat weet van werk; al twee haar wysvingers het pleisters om.
“Sal jy omgee om vir Ranna ontbyt te maak? Asseblief?” vra Adriana. “Dan kan ek en sy gesels.”
My hande vries, die koppie halfpad na my mond toe. Adriana het my regte naam gebruik. Die naam van die vrou wat steeds deur die polisie gejag word, al het sy en Sarah hard gewerk om alle tekens van my bestaan uit te wis.
Sy vee my besorgdheid weg met die waai van ’n hand. “Niemand hier sal iets sê nie.”
Zenani verroer nie ’n spier nie.
“Wat wil jy eet?” vra Adriana toe ek stilbly.
Ek trek my skouers op. Ek was bereid om te eet wat ook al die sjef reeds gemaak het. “Wat van twee sagte eiers, asseblief? En spek. Baie spek. Bruin roosterbrood en gebraaide tamaties as jy het?” Ek drink die laaste sluk koffie. “En nog een van dié, asseblief.”
Die groot vrou knik, neem die koppie by my en loop binnetoe.
“Wie is dit?” vra ek.
Soos altyd ignoreer Adriana my vrae.
“Is sy die sjef?” hou ek vol.
Adriana skink nog tee in haar koppie. Voeg ’n dun straal melk uit ’n silwerbeker by.
“Wil jy nie hê nie?” vra sy. “Hierdie is die wêreld se beste tee. Makaibari-tee. Dit kom van die oostelike voetheuwels van die Himalaja.”
“Wat het vannag gebeur dat jy so ontsteld is?”
Die hand wat die teepot vashou, ruk effens. Die glimlag is terug; dit kruip met moeite tot by haar oë. “Hoe weet jy ek is ontsteld?”
Ek hou die hals van haar sagte swart bloes dop. Merk die stadige, beheerste in- en uitasem. Die harde werk om kalm te bly. In beheer te wees.
Sy kyk weg, na die ry witstinkhoutbome in die tuin. “Lyk my ek is uit oefening uit.” Sy sit die teepot neer en staan geruisloos op. “Dalk is dit beter as ek jou wys wat fout is.”
Ons loop deur die kombuis waar Zenani staan en tamaties sny met gladde, geoefende hale. Sy stop toe sy ons sien en knik woordeloos vir Adriana.
Adriana loop oor die wit teëls na ’n staaldeur en maak dit oop. Kil wit lug dwarrel verby ons en verdamp onder die kombuis se warm buisligte. Die yskas is so groot soos ’n kleinerige slaapkamer, met rakke tot teen die dak, volgepak met vars kos en vleis.
Op die kaal sementvloer sit ’n man met ’n swart kuif op ’n houtstoel, die uitdrukking op sy gesig verbaas, asof hy onkant betrap is. Moet iets te doen hê met die twee messe in sy lyf.
Hy lyk soos talle ander mans wat ek al ontmoet het, in donker stegies wat na urine en sigarette ruik. Ouens wat opstaan vir werk as dit donker word. Wat ingange oppas, geld insamel en straf uitdeel. Onder andere.
Ek hoor die horlosie in die kombuis tik terwyl ek na hom staar. Nog ’n lyk. Het ek nie al genoeg lyke in my lewe gesien nie? Wanneer raak dit te veel? Wanneer raak mens dit gewoond?
Ek sluk die naarheid weg wat in my keel opslaan soos suur melk. Draai na Adriana wat agter my staan, haar hande saamgevou asof sy geduldig wag.
“Wie is hy?”
“Sy beursie sê sy naam is Ruan Delport, maar dis nie die belangrike vraag nie. Wat ek wil weet, is hoekom hy hier is … was. Wie hom gestuur het. Dis wat ek wil hê jy moet uitvind.”
Ten minste is die ongemaklike wals nou verby. “Net dit? Inligting? Dis al wat jy wil hê?”
“Net dit. Sarah kan jou help, as sy wil. Hopelik het sy tyd om dit te doen. Dit gaan bietjie dol met haar op die oomblik.”
Klink redelik. Niks onwettigs nie. Geen rede om Alex te bel nie. Behalwe natuurlik vir een belangrike punt.
“Ek neem aan jy het nie die polisie gebel nie.”
“Korrek.”
Ek vra nie eers hoekom nie. Demmit. Alex het geweet wat hy doen toe hy daai belofte uit my getrek het.
“Wat gaan jy met die lyk maak? Ek gaan … kan jou nie daarmee help nie.”
“Ons sal dit hanteer.”
“Ons?”
“Zenani en ek.”
Ek dink weer aan Zenani met die mes in die hand. Wonder of ek ooit weer by Crow’s wil eet.
“Hoekom ek, Adriana? Ek is seker daar’s ’n honderd mense wat jou kan help. Wie se arms jy kan draai of breek om te help.”
“Draai ek joune nie hard genoeg nie?”
“Ek weet ek is een van hulle, ja, maar …”
“Ek weet jy sal versigtig en diskreet wees. Jy móét wees. En ek vertrou jou meer as wat ek hulle vertrou. Jy het ’n sekere moraliteit aan jou.”
Die lag kom uit voor ek dit kan keer. “Sê dit bietjie vir Alex as jy hom weer sien, asseblief.”
Ek sit my rugsak by die deur neer, loop tot by Ruan Delport en hurk om sy gesig beter te sien. Dis ’n groot stuk man as jy so klein soos Adriana is. Ek kyk oor my skouer na haar. “Is jy okay?”
Sy antwoord nie.
Ek kom regop. “Kan jy regtig nie eers so ’n eenvoudige vraag antwoord nie? Hy was duidelik nie hier om resepte uit te ruil nie.”
Sy trek haar skouers terug, so asof sy skielik onthou om regop te staan. Hou haar hande voor haar uit, beduie na haar lyf. “Niks skort nie. Kyk, geen bloed nie.”
“Ek verwys nie noodwendig na bloed nie.”
“Daar’s niks fout nie. Dankie vir jou besorgdheid.”
Haar kalm beleefdheid krap aan my. “Wat het die man hier gesoek, Adriana? Hy moes tog iets gesê het voor jy …” Ek wys na sy skouer. “Dit lyk asof julle gesels het.”
Gesels is die verkeerde woord. Die mes lê anders in die skouerwond as toe dit die weefsel binnegedring het. So asof iemand dit gedraai het. Ek wil nie dink hoekom dit my nie verbaas nie. Hoekom niks wat hierdie vrou nog ooit gedoen het my verbaas nie.
Ek ignoreer die stem wat sê ek moet loop. Nou dadelik. Vergeet van gunste en skuldbeloftes.
Dalk kan Adriana gedagtes lees. Sy kom die yskas binne en kom staan tussen my en die deur. “Ons het gesels, ja.”
Ek laat gly my blik oor Ruan Delport se lyf. Lig uiteindelik die swart baadjie se soom tussen my middel- en wysvinger. “Het hy iets in sy sakke gehad?”
“ ’n Foon. Vierhonderd rand. Toiletpapier wat lyk asof hy dit vir sy neus gebruik het.”
“En sy beursie?”
“Net die geld en ’n handvol kaarte.”
“Sal jy dit asseblief hierheen bring? En ek neem aan hy het ’n wapen gehad.”
Sy draai om en loop uit, kom na ’n paar minute terug. Sy sit ’n pistool, beursie, slimfoon, opgefrommelde toiletpapier en kougom links van my op die vloer neer. Die toiletpapier is vol rooi vlekke; dit lyk asof hy iewers ’n bloedneus gekry het. Die kougom is ’n alledaagse handelsnaam wat jy enige plek kan koop. Ek herken die pistool. Dis ’n Astra A-80. Selfde wapen as waarmee ek leer skiet het. Die selfoon is stukkend, sy skerm ingeduik en dood. Ek haal dit uitmekaar. Simkaart is weg.
Ek kyk na Adriana. Sy skud haar kop. Sy het dit nie uitgehaal nie.
Ek vra vir ’n plastieksak en sit die foon, beursie en pistool daarin. Trek ’n paar van die man se hare uit sy kop, vou dit toe in kougompapier en sit dit ook in die sak. Ons sal dalk aan DNS moet dink en ek is nie lus vir ’n bloederige stuk toiletpapier nie.
Ek haal my foon uit my rugsak.
“Wat maak jy?” Adriana vra nie, sy waarsku.
“Ek gaan foto’s neem. Dan gaan ek vir Sarah vra om seker te maak hy is wie sy beursie sê hy is. Alex sal ook kan help.”
“Alex?”
“Minder help en meer oppas,” erken ek. Ek gaan vir Alex moet vertel wat aangaan. “Mý oppas. Hy het goeie kontakte by ’n paar nagklubs in die stad. Ruan lyk asof hy deure opgepas het.”
“Is dit ’n goeie idee om Alex te betrek?”
“Dit sal dinge makliker maak.”
“Jy verstaan dat niemand van hierdie man mag weet nie. Dat jy daardie foto’s so gou as moontlik moet uitvee. Dat Alex moet stilbly. Dat jy nie met die polisie moet praat nie,” tel sy op haar vingers af.
“Ek sal mos nie polisie toe gaan nie.” Ek lag droog. “Ek kán nie, en soos jy sê, dis nog ’n rede hoekom ek hier is. Moet jou nie bekommer nie, Alex sal niks sê nie.”
“Julle het baklei. Was dit oor my?”
Soms verpes ek hierdie vrou se wakker oë en ore. Sy naam wás seker ’n bietjie bitter in my mond.
“Dit was nie regtig baklei nie.”
“Laat ek raai: hy wou nie hê jy moes Johannesburg toe kom nie.”
“Al hierdie vrae,” probeer ek haar speletjie speel.
“So, julle het oor iets anders ook baklei.” Sy leun met ’n glimlag teen die deur, blykbaar gereed om te wag totdat ek antwoord.
“Hy wil nie met my trou nie.”
“Wil jý trou?”
“Natuurlik nie.”
“Wat krap jou dan so om?”
Ek kies my antwoord versigtig. “Ons verskil oor jou motiewe. Die aard van jou besigheid. Die verhouding tussen my en jou.”
Ek begin foto’s neem. Maak notas oor die man se lengte, skoene en die fabrikaat van sy klere.
“Ek belowe Alex sal niks sê nie, Adriana. Ons al twee weet dat ek jou skuld. Dat óns jou skuld.” Ek glimlag effens. “Mag ek aanneem dat die rekening hierna vereffen sal wees?”
Sy vee oor haar nek, laat rus haar hand teen haar hals. “Ek sou verkies dat jy dit doen omdat ons vriende is.”
“Vriende gesels. Hulle weet goed van mekaar. Soos die werk wat hulle doen, die verhoudings waarin hulle is, waar hulle skoolgegaan het.”
Adriana beduie om haar. “Ek besit ’n restaurant. Ek het geen lenings nie. Ek deel nie my bed met een spesifieke persoon nie. Wat wil jy nog weet?”
Ergernis stoot in my op. Ek loop verby haar, na die warmte van die kombuis en die geur van spek wat braai. Vra weer: “Wat het die man by Crow’s kom soek? Kon jy hom oorreed om te praat?”
“Nie regtig nie. Dis hoekom ek jou gebel het. Dit het iets met Naomi te make.”
“Naomi?”
“Kom, jy’s seker al honger.”
Adriana loop vooruit stoep toe. Ons gaan sit weer by die tafel.
“Naomi werk hier. Sy was die skottelgoed.”
“Hoekom sou Ruan na haar kom soek het? Wat is hy van haar? Haar eks? Broer? Koppelaar?” Ek dink vir ’n oomblik. “Wag. Jy’t gesê jy wil weet wie hom gestuur het. So hy was nie noodwendig sélf op soek na haar nie?”
“Dis wat ek wil hê jy moet uitvind. En gebruik tog maar vir Sarah. Doen bietjie moeite, dit sal haar besig hou.”
Ek wil vra oor Sarah, maar Zenani kom nadergeloop met ’n skinkbord met my ontbyt en nog ’n koppie koffie. Sy sit dit voor my neer en verdwyn met afgemete voetval.
Ek vat ’n sluk van die vars koffie. “Hoekom vra jy nie vir Naomi wie hy was nie?”
“Nie ek nie. Ons.” Sy glimlag. “Ons gaan dit definitief doen, maar dit beteken nie ons sal die waarheid hoor nie. Dit sal die veiligste wees om by die huis met haar te gesels, ek sal vir jou die adres gee. Probeer so halfdrie se kant. Ek sal jou daar kry. Ek moet eers regmaak vir vanaand se gaste. Die kombuis is ’n gemors, om nie eers te praat van die koeëlgat in die muur nie.”
“Koeëlgat?”
“Het jy gedink ek het oorreageer met die messe?”
“Nee … Goed.”
Ek tel ’n reep spek met my vurk op. “Sal jy okay wees? Wat as Ruan se vriende hier opdaag?”
Adriana trek weer haar skouers regop, glimlag, heelwat koeler hierdie keer.
“Moet jou nie oor my bekommer nie. Ruan is nie die eerste gas wat hier opdaag sonder om te klop nie.”