Читать книгу Sondebok - Irma Venter - Страница 13

ADRIANA 1

Оглавление

“Wat gaan ons met hom maak?” Zenani wys na die man wat steeds op die stoel in die yskas sit asof hy daar aan die slaap geraak het.

“Wat van sop?”

Sy kyk na my asof sy die gedagte oorweeg.

“Ek terg net,” keer ek vinnig.

Sy frons asof sy spyt is om ’n goeie idee summier eenkant toe te skuif, maar ek sien die vonkeling in haar oë.

“Ons kan hom toedraai. ’n Gat grawe. Die tuin is groot.”

Soos altyd praat sy staccato-sinne. Ek is omtrent die enigste mens met wie sy gesels – behalwe vir die bevele wat sy in die kombuis uitdeel.

“Kan seker werk. Waar?”

“Onder die bome. Dis ’n goeie plek om te rus.”

Die empatie in haar stem verbaas my steeds, al ken ek haar goed. Dit bly vreemd vir ’n vrou wat op straat grootgeword het, tweedehandse klere verkoop het voor sy tien was.

“Jy klink amper asof jy hom dit gun. Hy wou ons doodmaak.”

“Dit het geklink asof hy eerder agter Naomi aan was.”

“Ons het in die pad gestaan. Ons sou seerkry.”

“Seker.”

“Ek sal uitvind wat hy hier kom soek het, of hy regtig hier was vir Naomi. Dalk het hy gelieg. Dalk is dit eerder ou spoke wat ons inhaal.”

Zenani knik nadenkend. “Die luiperdboom. Agter in die hoek,” sê sy dan. “Ek sal vanaand ’n gat maak.”

“Ek sal help.”

Sy pen my vas met haar oë. “Wat as iemand na hom kom soek? As hy die vuilwerk gedoen het, gaan mense hom mis. Die verkeerde tipe mense.”

“Dis hoekom ek Ranna se hulp gevra het. Sy moet vinnig uitvind wat aangaan, voor sy maatjies hier opdaag.”

“Vir wat het jy haar gevra? Daar’s tog beter mense. Mense wat ons ken.”

“Ek ken Ranna goed genoeg. Sy sal alles verloor as sy my verraai. Haar hele lewe sal daarmee heen wees.”

“Sy moet diep in die skuld wees by jou.”

“Nie soveel soos wat sy dink nie, maar sy hoef dit nie te weet nie.”

Sondebok

Подняться наверх