Читать книгу Sondebok - Irma Venter - Страница 8
2
ОглавлениеAlex staar na die rekenaarskerm. “Dis ’n goeie foto. Sou ek dit kon neem?”
Ek gaan staan agter sy stoel, die rekenaarskerm die enigste lig in die klein eetkamer wat ons as studeerkamer gebruik. Laat rus my hande op sy skouers. Die gordyne bol en sak soos die koel nagwind deur die oop venster waai en die hitte van vroeër die dag verdryf. Die lou water van die stort waaruit ek pas geklim het klou steeds aan my lyf en hare. Maak die lang, stadige uitasem van die dag nog beter.
Die foto wys Hakeem se maer bene in sy stukkende donkerblou sweetpakbroek. Sy dun, stowwerige enkels. Sy moeg geloopte voetsole. Die tuisgemaakte sandale.
Ek soen Alex in die nek, maar sy oë bly op die rekenaarskerm.
“Ek dink so. Jy raak al hoe beter. Het jy nog nie agtergekom nie?”
“Ek kan nie dink enigiemand glo ek neem hierdie foto’s nie,” sê hy.
“En dan skryf jy nog sulke goeie stories ook.”
“Gelukkig het my joernalistiekgraad fotografie ingesluit. Anders het ek nie geweet hoe om dit te verduidelik nie.” Hy draai sy kop skeef, lag effens. “Pla dit jou? Dat niemand van jou mag weet nie? Dat niemand weet jy neem hierdie foto’s nie?”
Ek skuif verby sy skouers, genoeg dat hy kan sien ek is nog kaal van die stort. Ek word met ’n glimlag beloon. Arms wat oopmaak.
Ek gaan sit skuins op sy skoot. Soen hom weer in die nek, die hoek van sy mond. “Stuur die foto en kom bed toe,” sê ek naby sy oor. “Dit was ’n baie lang dag.” Besef dan dis reeds lank na twaalf. “Dag én aand.”
Hy vee my nat hare uit die pad en soen my skouer. “Ek moet nog net die onderskrif skryf.”
“Los dit vir die nuusredakteur. Of sy assistent. Hulle het Hakeem se naam.”
Sy linkerhand beweeg op met my rug, sy regterhand trek my heupe nader aan syne. “Jenny mag dalk sukkel. Sy’s nog nuut.”
Ek leun terug sodat ek hom in die oë kan kyk. “Wanneer het sy nuusredakteur geword? Verlede week het sy nog stories gesub.”
“Sy’s die nuwe assistent-nuusredakteur. En moenie nou weer ontsteld raak nie.”
Ek draai my uit sy arms en staan op.
“Ranna, dit was lank gelede. Jy was weg. Jy het weggeloop.”
“Maak nie saak nie.”
“Jy’s onredelik.”
“Ek weet. Ek gee nie om nie.”
“Dit maak dit nie reg …”
My foon begin lui, gaan dood, lui weer.
Ek loop kamer toe om daar te antwoord. Agter my hoor ek die lessenaarstoel oor die teëls skuif, lang treë wat my volg.
“Los die foon, Ranna. Praat met my.”
Ek druk die BlackBerry teen my oor. Net ’n paar mense het hierdie nommer.
“Ranna?” groet haar stem voor ek kan. “Dis Adriana.”
“Ek sal alleen gaan. Jy kan hier bly.” Ek hark my jeans nader en trek die swart T-hemp oor my kop. “Werk saam met Jenny aan jou onderskrif.”
Hy bly roerloos staan. Begin lag. “Jy’s nie kwaad nie. Jy’s jaloers.”
“Natuurlik is ek.”
Ek sit my silwerarmbande een vir een aan. Soek my stewels. Vee die krulle agtertoe, maar dit val weer oor my skouer. Ek moet nog gewoond raak aan die korter haarstyl wat my vorige beeld moet uitwis. Nes die donkerblonde kleur.
Alex kom staan voor my, sit sy hand op my arm. Vee met sy duim oor my pols, sag en stadig. “Ranna, dit was een nag. ’n Fout.”
“Fout? Nou voel ek amper jammer vir Jenny.”
“Goed.” Hy heroorweeg sy antwoord. “Sy was nie ’n fout nie. Ek wou, want jy het weggehardloop.”
Ek draai weg en gaan sit op die bed. Begin my stewels aantrek. “Ek het nie weggehardloop nie. Ek moes, want … Los dit.”
Hy kom sit langs my. “Ons kan gesels wanneer ons terug is.”
“Óns? Dis Adriana wat gebel het. Hoe sê jy altyd? Dáái vrou. Jy hoef nie betrokke te raak nie. Nie weer nie.”
“Dis moeilikheid soek om nou Johannesburg toe te neuk.”
“Al amptelike rekords van my wat nog bestaan, is ’n internasionale dossier, vol spekulasie, waarna min mense ooit kyk. En dalk ’n paar ou, swak foto’s hier en daar in koerantargiewe. Tom se moorddossier is weg, die ondersoekbeampte het selfmoord gepleeg, en dis amper twee jaar later.”
“Dit maak dit nie veilig nie.”
“Daar is niks veiligs aan die lewe nie. Dit eindig altyd in trane. Altans, dis wat ek hoor.”
“Is dit wragtig jou dag vir bullshit-antwoorde?” Hy draai my gesig sodat ek na hom moet kyk. “Voor jy op jou wit perd spring, dink net vir ’n oomblik daaraan dat jy nee kan sê.”
“Nie regtig nie. Ek is diep in die skuld by Adriana. As dit nie vir haar was nie, was ek nie vanaand hier nie. Waar dink jy is daai dossier heen? Al die bewysstukke? Hoekom kan jy hier sit en met my raas?”
“En as sy aanhou vra? As een keer nie genoeg is nie?”
“Ek sal nee sê as sy weer vra. Maar ek dink nie sy sal nie.”
“Ek dink nie jy ken haar goed genoeg om dit te kan sê nie.”
“Hoe weet jy?”
Hy kyk stip na my. “Is jy verveeld?”
Ek hou op sukkel met die regterstewel se veters. “Wat bedoel jy?”
“Is die stories wat ons doen nie opwindend genoeg nie?”
“Vanmiddag het ons met ’n onwettige immigrant op soek na ’n Suid-Afrikaanse paspoort gepraat, ná ons ’n amptenaar van binnelandse sake en ’n sjebeeneienaar omgekoop het om te sê waar ons hom in die hande kan kry. Ons bly tussen duisende mense wat oor die grens stroom terug Zimbabwe toe, terwyl ander die kans gebruik om in te kom. Dink jy ek is verveeld?”
Ek wil opstaan, maar hy vang my hand en hou my terug.
Hy wag tot ek vir hom kyk voor hy vra: “Regtig?”
“Regtig.” Ek hou my hand op. “Sweer.”