Читать книгу Sondebok - Irma Venter - Страница 21
2
ОглавлениеDie reuk van reën het ’n naam. Daai vars, klam grondreuk wat in jou neus optrek en jou elke keer aan lente laat dink. Petrichor – lelike naam vir iets so moois. Dit maak nie saak waar en wanneer die reën val nie, dit ruik dieselfde. Reën wat op warm teer neersak en wit stoom soos spoke voor motorligte opjaag. Reën op sinkdakke en bome en gras. Herfs of lente, winter of somer.
Op pad Rumble toe stop ons by Peter’s Gym. Die wit-en-blou tweeverdiepinggebou in Rivonia staan weggesteek agter ’n Wimpy. Die restaurant se rooi neonteken is genoeg om my honger te maak. Ons het vanoggend halfdrie Johannesburg toe gery, en ek het in Polokwane laas geëet. En Sarah se kaste is dolleeg.
Ons draf deur gietende reën voordeur toe. Peter’s Gym ruik na sweet, meer nog as die Virgin Active-tipes wat ten minste probeer om die reuk te verdryf.
Die ontvangsdame agter die toonbank glimlag toe ons inloop. Haar naamplaatjie sê Ntombi. Sy is niks ouer as negentien, twintig nie.
“Ons maak teen negeuur toe. Is julle nuut hier? Of wil julle graag aansluit?”
“Ons is eintlik op soek na iemand,” antwoord ek. “ ’n Ou vriend wat ons onlangs weer raakgeloop het. Ruan? … Ons skuld hom geld.” Hopelik sal dit Ntombi aanmoedig om ons te help.
Haar glimlag verdwyn. “Is jy seker dis nie andersom nie? Hy skuld my nog vyftig rand vir laas week se middagete.”
Ek trek my skouers op. Lag. “Sommige goed verander ook nooit nie. Maar dis hoekom ons hier is, ons weet hy het die geld nodig.”
Sy skud haar kop. “Hy het nie vandag werk toe gekom het. Hy het twee kliënte op ’n Saterdag en hulle was baie kwaad toe hy nie opgedaag het nie. Hy’t nie eers laat weet wat fout is nie.”
So dis dan wat Ruan by Peter’s Gym doen. Gedoen het.
“Hy’t gesê dat hy ’n persoonlike afrigter is en dat hy Saterdae ook hier werk.” Ek probeer teleurgesteld klink. “Ek was seker hy sou hier wees.”
Ntombi se frons versag. “Julle kan met Frisco gesels. Hy behoort al terug te wees. Dalk weet hy waar Ruan is.”
“Frisco?” vra Sarah. Sy staan skuins agter my by die deur, asof sy nog heeltyd gereed is om weg te hardloop.
“Moenie my vra nie. Dis een of ander skoolbynaam wat vasgesteek het. Maar hy gee nie om as mense dit gebruik nie.”
Ntombi skakel ’n interne nommer en vra of iemand Frisco ontvangs toe kan roep.
“Besit hy die gim?” vra ek toe sy aflui.
“Hy en nog ’n vennoot.”
Ek kyk na die klein ontvangsarea. Die wit teëls en geraamde foto’s van Arnold Schwarzenegger en mans wat ek nie ken nie.
“Is julle baie besig?” Niemand het nog in- of uitgeloop vandat Ntombi ons gegroet het nie.
“Saterdae is maar dood. Mense kyk eerder sport.”
Die man wat haastig deur die draaihek kom, het hare soos Sarah s’n – gejel dat dit in alle rigtings staan. Sy oë is bruin, sy ken hoekig. Sy gesig sê hy bring baie tyd in die son deur. Sy bene in die ligte kniebroek en tekkies sê waar: die sonbruin eindig net onder sy kuite. Frisco is ’n gholfspeler. Maar belangriker nog: hy is van gemiddelde lengte, dus nie die een vir wie Ruan geskerm het nie.
Frisco stap na my toe en skud my hand. Die irritasie op sy gesig verdwyn toe hy Sarah sien. Hy neem haar hand versigtig en hou dit ’n oomblik langer vas as wat nodig is.
“Ek hoor julle is op soek na Ruan? Hy is ongelukkig nie hier nie.”
Ek merk dadelik die effense spanning in sy stem. Fyn sweet pêrel op sy voorkop, asof hy tot hier gedraf het. Of bekommerd is oor iets. Dis beslis nie die weer nie.
“Ons skuld hom geld,” sê ek.
Frisco lag, skielik meer ontspanne, ongeloof duidelik op sy gesig. “Ruan skuld mense gewoonlik geld.”
“Wel, glo dit of nie, ek skuld hom ’n paar honderd rand. Hy het my suster gehelp toe haar motor se band nou die dag pap was.” Ek beduie met ’n duim na Sarah. “Ek kon nie glo toe sy my die storie vertel nie. Ruan, van alle mense! Ons het ’n paar jaar gelede vir ’n rukkie saam geoefen en ek het sewehonderd rand by hom geleen. Ek het dit nooit terugbetaal nie.”
Frisco staar na Sarah. “Ek kan dink hy sou stop om te help.”
Sy laat sak haar kop. Frisco mag dink sy is skaam, maar ek weet beter. Ons moet padgee – voor sy my of hom vermoor.
“Ons sal gaan kyk of hy dalk by die huis is,” sê ek. “Jammer dat ons gepla het.”
“Weet julle waar hy bly?”
Ek onthou die adres van Sarah se internetsoektog. “Ek hoop so. Flamingo-woonstelle?”
Frisco knik asof hy bly is ek het die regte antwoord gegee. “As julle hom kry, sê vir hom hy moet my bel. Ons is self op soek na hom.”
Ons groet en loop deur toe.
“Verbeel ek my of was Frisco effe gespanne?” vra ek toe ons buite is.
Sarah sluit die Mini oop. “Of dis hoe hy altyd lyk.”
“Kan wees, maar ek dink nie so nie. Hy was verlig toe ek oor geld begin praat het.”
“Ek kan huis toe gaan en kyk wat ek oor hom kan uitvind.”
Ek sak langs haar in die passasiersitplek neer. Hoop sy sal die Muddy Waters-CD uitlos tot ons by die huis is. Die man neul te hard vir my om helder te dink.
“Kom ons kry iets om te eet,” stel ek voor. Wegneemkos laat haar altyd beter voel. “En dan ry ons Rumble toe.”