Читать книгу Sondebok - Irma Venter - Страница 11
5
Оглавление“Hallo?” praat ek oor die interkom.
Die lug wat by die bakkievenster inwaai, gee my hoendervleis. Wolke hang laag oor Pretoria soos die koue intrek, nes die weervoorspelling oor die radio belowe het.
Sarah se rose lyk pragtig teen die grou lug. Hulle staan heuphoogte – groot rooi Ingrid Bergmans. Dalk Black Madonnas, ek is nooit seker nie. Die grasperk is perfek. Groen en vars gesny, die rande simmetries afgespit. Nie een van die ander woonstelblokke in Pretoria-Wes het so ’n mooi tuin nie.
Woonstelblok is dalk die verkeerde woord. Sarah bly alleen in die drieverdiepinggebou genaamd Akasia – die naam staan in groot swart letters op die buitemuur geskryf. Sedert haar tronkvonnis vir kuberbedrog het sy ’n obsessie oor ruimte.
Ek druk weer die interkom. “Hallooo!” sing ek. Wat maak Alex en Sarah daar bo dat hulle nie hoor nie?
Uiteindelik waarsku ’n elektroniese klikgeluid dat die swaar staalhek gaan oopskuif.
Ek ry verby die roosbome en in by die hek wat na die kelderverdieping lei. Ek parkeer die bakkie weg van Sarah se versameling blink motors en motorfietse.
Die hysbak na haar woonstel wag reeds. Die deure na die tweede vloer gaan oop en spoeg my in Sarah se sitkamer uit.
Alex staan en wag. Hy soen my vlugtig, fluister by my oor: “Pas op.”
“Vir wat? Wie?”
“Sarah.”
Hy soen my weer. Staan weg toe die rooikop uit haar kamer kom. Sy gaan sit by een van die ry rekenaars aan die oorkant van die vertrek. Links van haar bied groot vensters ’n uitsig oor die middestad met sy jakarandas.
“Hallo.” Ek sit my rugsak langs die bank neer.
“Haai.” Sarah kyk nie eers na my nie.
“Wel, hallo, Ranna. Ek het jou lanklaas gesien! Hoe gaan dit?” terg ek haar.
Die hacker se maniere was nog altyd sleg, maar ek verdien darem ’n bietjie aandag. Ek het haar nogal gemis.
Alex beduie met sy oë ek moet stilbly. “Kom, ek’s reg. Ons kan ry.”
Hy tel sy beursie en foon van die koffietafel op, skootrekenaar onder die arm.
“Wat gaan aan? Waar’s Megabyte?” onthou ek skielik van Sarah se twee dobermanns.
“Kom.” Alex gryp my aan die arm en trek my in die hysbak se rigting. “Kom ons ry.”
Ek wikkel my los. Adriana het ook allerhande vae dinge oor haar susterskind kwytgeraak. Ek loop na Sarah toe, gaan sit langs haar. “Wat’s fout?”
Alex sug en sak op die swart rusbank neer. Strek sy bene voor hom uit.
“As jy wil koffie hê, moet jy gaan koop. Ek het niks in die huis nie.” Sarah se oë bly op die skerm voor haar, haar vingers besig op die toetse. “En moenie te veel praat nie. Ek het werk om te doen.”
“Ek wil nie koffie hê nie. Wat gaan aan?”
Sy hou aan tik.
Hoekom is dit so moeilik om met hierdie familie se vroue te praat? Adriana wil niks oor haar verlede sê nie en Sarah voel kamstig niks.
“Ek het jou hulp nodig,” gryp ek na die enigste vashouplek wat ek kan sien. “Adriana het jou hulp nodig. Onthou jy haar? Jou ma se halfsuster?”
Die leerbank kraak toe Alex opstaan en naderkom. “Wat wil sy hê?”
“Nie veel nie … Wel, ’n man het laas nag met ’n pistool by Crow’s ingestorm. Maar almal is okay, moenie worry nie. Adriana wil weet wie dit is en hoekom hy daar is.”
“Was. Hy’s seker al weg?” Alex, die ewige joernalis, snap vinnig die betekenis van my woorde.
Ek sug. “Was. Is. Wat ook al.”
Sarah lag sinies en hou op tik. “Watse fokop was daar nou weer?”
Ek leun terug in my stoel en bekyk die vrou voor my. Klein, fyn en beneuk. Sy dra ’n geskeurde kamoefleerbroek en ’n stywe pienk T-hemp. Gesig waarmee sy op Vogue se voorblad kan pryk ten spyte van ses of meer Cokes per dag. Ses silwerringe in haar regteroor, een vir elke lid van haar gesin. Drie broers, een suster, ma en pa. Dis alles steeds dieselfde, maar tog is iets …
Wag ’n bietjie, dís wat dit is. Dis nie die teenwoordigheid van iets nie, eerder die afwesigheid daarvan.
“Regtig, Sarah. Moet jy dit nóú doen? Ek en Adriana het jou hulp dringend nodig.”
Sy ignoreer my, begin weer op die rekenaar tik.
“Haar pa is in die hospitaal,” verduidelik Alex uiteindelik. “Sy emfiseem is sleg. Dis ernstig.” Hy sê die laaste woord stadig, versigtig. “Sy’t hom belowe sy sal ophou.”
So dís wat fout is.
Ek kyk woordeloos na haar. Vyf-en-twintig is jonk om dalk jou pa te verloor, veral as hy jou held is. Jou beste vriend al vandat jy kan onthou. Hy het jou nog nie sien trou nie, nog nie sy kleinkinders op sy skouers getel nie.
Nie dat ek sal weet nie. Myne was ’n miserabele man wat ek op elf geskiet het omdat hy my ma geslaan en my ongebore boetie doodgeskop het.
Sarah hou op met tik en leun terug in haar stoel. Ek kan sien sy wil iets sê, maar die woorde wil nie uitkom nie.
“Dis okay,” sê ek. “Ek’s bly jy het ophou rook.”
Sy kyk by die venster uit, antwoord nie.
“Hoe ernstig is dit?” Dit moet baie sleg wees as sy belowe het om haar veertig-’n-dag-gewoonte te laat staan.
Alex sit sy hande op my skouers, waarsku my met ’n effense druk. “Hy het nie baie tyd oor nie,” sê hy.
“Jammer.”
Steeds sê Sarah niks nie.
Ek weet nie mooi wat om te doen nie. Om aan Sarah te raak is verbode. Om jammer te sê eintlik ook, en dit het ek reeds gedoen. Ek staan op en vryf oor haar skouer. Ek kan nou maar net sowel al die reëls breek.
Ek beduie vir Alex hy moet saamloop hysbak toe.
“Is Adriana okay?” keer Sarah ongeduldig, haar stem diep en rond, nes haar tante s’n.
Ek draai om. “Fisiek, ja. Maar sy is ontsteld. Iets het gebeur en sy het hulp nodig.” Ek soek na Alex se hand, kyk vlugtig na hom. “Dit sal gaaf wees as jy ook kan help.”
“Wat het gebeur?” vra hy agterdogtig.
Hoe moet ek dit verduidelik? Selfverdediging? Moord?
“Die aanvaller is dood,” sê ek dan.
Sarah lag kortaf, maak die laai langs haar oop en haal ’n pakkie nikotienkougom uit. Sy sit ’n stafie in haar mond.
Ek kan Alex se oë op my voel brand.
“Hy het háár aangeval.” Ek los liewer die deel van die messe en die yskas uit.
“Die polisie kan mos help,” vang hy my in elk geval uit.
“Vir Adriana help? Jy weet mos beter.”
“Seker.” Hy vee moeg deur sy hare. “Ek moes geweet het. Ek hét geweet.”
Ek vermy Alex se oë toe ek my rugsak optel en Ruan Delport se besittings uithaal. ’n Mens raak nie betrokke in ’n debat wat jy weet jy gaan verloor nie.