Читать книгу Sondebok - Irma Venter - Страница 9
3
ОглавлениеToe ons by die huis uitstap, herken Alex die maer figuur by die hek onmiddellik. Moet die nuwe, nagemaakte Nikes wees. Vyfhonderd rand koop nie regtes nie.
“Hier kom moeilikheid,” sê hy oor sy skouer. Hy sluit die bakkie oop, gooi sy sportsak agter die sitplek in en hou sy hand uit vir my tas. Ek gee dit vir hom, maar hou die rugsak met my kamera by my.
Hakeem sê nie ’n woord nie. Staan net op die sypaadjie in sy dun wit T-hemp met sy arms om sy lyf geslaan teen die byt van die vroegoggendlug.
“Hoe het jy ons in die hande gekry?” vra ek vir hom deur die swart traliehek.
Hy trek net sy skouers op.
Alex maak die Ranger se deur vir my oop, wag dat ek inklim. Ek wil nie.
“Ons neem nie stories huis toe nie, Ranna.”
Hakeem moet sien dinge is nie besig om in sy guns te swaai nie.
“Ek wil Johannesburg toe,” sê hy vinnig. Hy druk sy lyf teen die hek, sy hande om die staalstawe gevou. Sy oë skiet van Alex na my. “Asseblief.”
“Het jy ons gevolg?” vra ek.
“Julle ry stadig. En meeste mense ry wit bakkies, met vier deure. Julle s’n is nuut en dis blou. En die nommerplaat sê GP, nie L nie.”
Alex het die bakkie gekies, ek die kleur. Ek kyk na hom. “My skuld.”
“Maar hoekom dink ek ons al twee gaan daarvoor betaal?” Daar is ’n sweem van ’n glimlag om sy mond.
Ek draai terug na Hakeem. “Kom. Ons sal jou vat.” Ek maak die hek oop met die afstandbeheer aan die huissleutels.
Hy duik deur die opening toe dit net-net groot genoeg is. “Dankie. Dankie.”
Ek maak die bakkie se seil aan die een kant los. Hy spring op en skuif tot teen die agterruit. Laat sak sy kop op sy arms asof hy wil slaap. Asof hy nie vir Alex wil kans gee om nee te sê nie.
Ek grawe in my rugsak en haal die Jungle Oats-stafie uit wat ek altyd daarin bêre. “Hier.” Ek tik Hakeem teen die skouer.
Hy neem dit, maak dit oop en hap vinnig. Alex hou nog steeds die deur vir my oop en ek klim in. Hoor hoe hy met Hakeem praat op pad na die bestuurderskant.
“Wat het jy vir hom gesê?” vra ek toe hy inklim.
“Dat hy moet teruggaan huis toe. Dat hier niks is vir hom nie, dat mense vir hom gelieg het. En dat ons hom by sy ambassade in Pretoria sal aflaai. Dalk kan hulle hom help.”
“Jy weet hy gaan nie vir jou luister nie.”
“Niemand luister vir my nie.” Weer die effense glimlag. “Maar ek hou aan hoop dit sal eendag verander.”
Musina se hitte volg ons suid, maar verdwyn duskant die Stormvoëlafrit op die N1. Die lug word donker en dreigend, maar gelukkig vir Hakeem bly die reën weg. Ek sit die radio sagter terwyl Alex deur die laatoggendverkeer vleg. Ons luister al heelpad Kersmusiek, en dit raak swaar om die soet vrolikheid te sluk.
“Jy hoef nie saam te kom nie,” probeer ek weer. “Adriana het mý hulp gevra. Dalk wil sy nie hê jy moet betrokke raak nie.”
Hy gaan links verby ’n vragmotor, swaar gelaai met kratte bier. “Probeer jy van my ontslae raak?”
“Ja.” Hy’t mos gesê ek moet ophou met die bullshit-antwoorde.
Ek vee deur sy bruin hare wat al weer in sy nek krul, al sny ek dit elke paar weke. Dat hy steeds hier is, héél is … Wie weet wat Adriana wil hê? Ek kan nie weer dat my lewe Alex s’n aansteek soos toe daai mal man hom weke lank gyselaar gehou het oor my pa se sondes nie.
Hy sug. “Ek vertrou nie vir Adriana nie.”
“Ek weet. Maar ek sê mos: ek is hier omdat sy dit moontlik gemaak het. En jy haal nog asem omdat sy my – óns – gehelp het.” Ek sit my hand op sy been. “Laat ek eers alleen gaan en hoor wat sy wil hê.”
“En dan wat?”
“Dan kom vertel ek jou alles.”
“Jy weet sy gaan jou vra om iets onwettigs te doen.” Sy hande klem om die stuur, laat los. Beduie geïrriteerd na my. “Ek dog ons is klaar met hierdie dinge, Ranna. Ons gaan nooit loskom as ons aanhou terugkarring na waar ons vandaan kom nie.”
Ek kyk na die afdraaiborde wat verbyvlieg. Lynnwood, Atterbury … Is dit móóntlik om los te kom? Om net eenvoudig van die verlede te vergeet?
“Ek’s seker dis niks ernstigs nie.”
“Adriana is moeilikheid. Jy’s moeilikheid. Dis ’n plofbare kombinasie.”
“Ek sal niks doms aanvang nie.”
Hy lag ongelowig. “Regtig? Jy? Weet jy ooit waar om die streep te trek? Die een waaroor jy so gereeld jou hart uitdans?”
Ek weier om te antwoord. Trek aan die hare in sy nek. “Laat my dan belowe dat ek mooi sal dink voor ek enigiets doen. Gee die bakkie vir my en gaan kuier vir Sarah.”
Hy rem toe die ry motors voor ons stadiger ry. Swaai uit na die regterbaan.
“Ek sal Johannesburg toe ry en met Adriana gaan praat,” hou ek aan. “Ek sal okay wees. Laat my belowe. Ek het nog nooit ’n belofte aan jou verbreek nie.”
“Ja, goed. Seker. Ranna Abramson, belowe jy om my te sê as Adriana jou vra om iets onwettigs te doen?”
“Ja.”
“Nee. Luister eers klaar.” Hy neem die John Vorster-afrit om te kan omdraai na die R21 en Pretoria-Wes waar Sarah bly. “Gaan jy my vertel as jy dink die potensiaal bestaan dat ek iets kan oorkom as ek betrokke sou raak?”
Ek bly stil.
“Ranna.” Hy sit die flikkerlig aan om van die pad af te trek.
“Goed. Ek belowe.”
“Regtig?”
“Gaan ons huweliksbeloftes ook soveel hel wees?”
“Dink jy ek het die moed om met jou te trou?”
Wat is fout met my? “Jy’s ’n bliksem.”
“Komaan, Ranna. Sit ’n ring aan daai vinger en jy hardloop weg. Almal weet dit. En hou op draaie gooi. Belowe.”
Ek kyk vies na die spoorlyn en winkels langs my, nie seker of ek saamstem nie.
“Goed. Ek belowe.”
Waar ons skuins voor die Ethiopiese ambassade in Brooklyn staan, skuifel Hakeem van een voet na die ander. Om ons loop mense werk toe, haastig om voor die dreigende weer te bly.
Ek wys na die gebou agter hom. “Hulle sal jou kan help.”
“En as hulle nie kan nie? Of wil nie?” Hy trek sy blou sweetpakbroek op. “Ek wil nie teruggaan nie.”
“Hierdie land is nie wat almal jou belowe het nie,” sê Alex. “Dis nie een of ander plek van melk en heuning met baie werk en geld nie.” Hy neem die seun liggies aan die arm asof hy hom wil dwing om te luister. “Baie mense kry baie swaar hier. Gaan huis toe. Dinge is redelik stabiel daar by julle.”
Hakeem ruk hom los uit sy greep, staan ’n paar treë terug.
“Ons weet van iemand wat kan help,” sê ek vinnig. “ ’n Pastoor by ’n kerk in die stad. Hy laat mense toe om in die kerksaal te slaap. Hy gee vir hulle kos en vra geen vrae nie.”
“Waar?” Hakeem frons asof hy my nie glo nie. Gee nog ’n tree weg van Alex.
“So ’n paar kilometer hiervandaan. Naby Marabastad.”
Alex skud sy kop, slaan oor na Afrikaans. “Ons het nie daardie storie gedoen nie, Ranna, ons weet nie of die plek veilig is nie. Ons is nie eers presies seker waar dit is nie. Hy’s jonk en alleen.”
“Hy gaan nie ambassade toe nie,” antwoord ek, ook op Afrikaans. “En jy weet dit.”
Alex gooi sy hande in die lug. “Okay dan.” Hy beduie Hakeem moet weer op die bakkie klim. “Kom. Ons sal jou gaan aflaai.”
Hakeem roer nie.
“Whoa, wag net ’n oomblik,” probeer ek uitvee wat op sy lyf geskryf staan. “Jy gaan verdwaal. Jy weet nie …”
Maar dis te laat. Die maer seun buig effens asof hy groet, draai om en begin hardloop asof die duiwel agter hom aan is.
Ons bly op die sypaadjie staan. Kyk hoe die kind vinnig, gemaklik deur die voetgangers swenk en om ’n hoek verdwyn.
“Dis hoekom mens stories los waar jy hulle gekry het,” sê Alex.
“Jy maak verniet asof jy nie omgee nie.”
Hy sê niks, druk net die bakkie se sleutels in my hand. “Laai my by Sarah af. Hopelik het sy iets om te eet in daardie woonstel van haar.”