Читать книгу Sondebok - Irma Venter - Страница 6
2
Оглавление“Word wakker.”
Ek klap hom deur die gesig, harder as wat nodig is. Ek is selfs kwater vir myself as vir hom. Ek is heeltyd versigtig, méér as versigtig, en dan gebeur in een onbesonne oomblik dit wat ek so hard werk om te verhoed.
Hoe het hy ons opgespoor?
Die man bly roerloos sit. Weer klap ek hom. Sy kuif val oor sy oë, maar ek kry geen reaksie uit hom nie. Die koue lug van die instapyskas maak nie eers prikspore op sy vel nie.
Zenani het my gehelp om hom hierheen te dra en aan ’n stoel vas te maak. Naomi het in my kantoor sit en wag. Sy kon nie ophou bewe nie. Ek het vir haar gelieg en gesê ek het ’n ambulans gebel. Daarna het ek haar en Zenani huis toe gestuur.
Ek gaan haal water in die kombuis. Maak weer seker al die deure is gesluit en die alarm gestel. Ek trek my skoene aan. Gaan sit oorkant die beer van ’n man met sy bultende, knopperige spiere, sy arms instrumente vir blok, slaan en breek.
Hy is nie die jagter nie. Hy is die jagter se hond. Sy gedweë dienskneg. Ek moet weet wie hom gestuur het. Wat hy hier soek. En ek vermoed die tyd is min.
Ek gooi die water in sy gesig, sit terug en kruis my bene. Dwing my hande om rustig op my skoot te rus.
Hy knip sy oë stadig, onseker, en lig dan sy kop moeisaam. Sy asemhaling is vlak, sy wang oopgekloof deur die besemstok.
“Môre,” groet ek hom.
Uiteindelik verskyn iets soos herkenning op sy gesig, ’n besef van waar hy is. Dit maak plek vir ongeloof toe hy na die twee messe in sy lyf staar. Ek wou hom nie doodmaak nie, eerder keer dat hy een van ons seermaak.
“Wat soek jy hier?”
Hy kyk net na my. Sy oë verklap pyn en duiseligheid, en vrees vir die donkerte wat al nader kom. Wat hom ook al vroeër dapper genoeg gemaak het om hier in te loop, het verdwyn, opgelos in die bloed wat stadig op die sementvloer drup.
Genoeg.
Ek staan op en klap hom weer. Dis belangrik dat hy praat. Vinnig.
“Wat. Soek. Jy. Hier.”
Hy skud sy kop. “Help.”
Ek ignoreer dit. “Wat soek jy hier?”
“Eina. Fok.”
“Wat soek jy hier?”
Sy oë knip al stadiger, ’n afgemete SOS vir sy lyf se paniek.
“Jy’s mal,” sê hy sag. “Hy het niks … gesê van messe nie. Wie de hel … doen dit?”
Sy oë fokus op my gesig. Ek weet waarna hy kyk: die litteken wat van onder my regteroog tot by my oor loop. Dis ’n vae lyn deesdae, maar steeds daar. Dit was ook as gevolg van ’n flater. Dalk ’n groter een as vanaand s’n toe ek nie dadelik die voordeur agter my gesluit het nie. Ek besluit nog.
Hy lag skielik, sukkelend. Dis ’n lelike klank wat in sy neus opstoot en bloederige spoeg oor sy lippe laat spat.
“Jy’s ’n lelike, ou vrou.”
Die valse bravade laat hom stik. Hy hoes links, raak naar. Die stink, suur reuk van verteerde kos hang in die lug.
Ek haal deur my mond asem en kyk weg. Hou by die ou reëls, maan ek myself, dié wat werk. Moenie verraai wat jy voel nie. Moenie wys dat jy bang is nie.
Uiteindelik praat ek, my stem kalm en gelykmatig. “Die man wat my hierdie merk gegee het, was drie-en-vyftig. ’n Fransman. Klein moedswillige bliksem.” Ek lag en wys met my duim en voorvinger. “Kléin. Hy het daarvan gehou om pyn uit te deel.”
Ek gaan staan voor die man, sit my hand op sy regterskouer, op die mes se hef. Kyk hom in die oë en draai die lem stadig.
Hy skree. Dan verdof sy oë, soos poele water wat stadig ys word.
Ek hou my doof, onderdruk die ligte trilling in my hande. Vat weer die mes vas.
“Die Fransman het my in die bed vasgebind en my hierdie gegee ná ’n baie, baie lang nag.”
Weer draai ek die mes. Hy gil van die pyn.
“Waarna soek jy? Wie het jou gestuur?”
Ek leun vorentoe, my gesig in sy nek. Hy ruik na goedkoop naskeermiddel, sweet en chemikalieë. Dit wat in sy bloed was, is besig om by sy porieë uit te sypel.
“Toe ek uiteindelik kon loskom, het ek die Fransman ook een gegee. Langer en dieper,” fluister ek teen sy vel.
Ek druk die mes in sy skouer in. Los. Staan terug. “Wat soek jy hier?”
Sy asemhaling word vlakker. “Asseblief. Bel. Ambulans.”
“Wie het jou gestuur? Hoekom is jy hier?”
Ek vat weer die mes vas, stoot my vrees en skuld eenkant toe. Ek móét weet.
“Ek vra jou vir die laaste keer: Wat soek jy hier? Wie het jou gestuur?”
Vrees vul sy gesig. Frommel dit tot ’n angstige vuis en vee alles anders uit.
Hy begin huil. “Ek soek … soek na Naomi!”
Hy snak na asem en word dan stil. Sy oë gaan toe.
My hand los vanself die mes, val tot langs my sy. Naomi? Hoe het hy geweet waar sy werk?
Ek sluk die rou, bitter vloekwoord wat in my keel opstoot. Swak mense vloek. Mense wat nie weet wat om te doen nie.
Ek skuif my stoel tot langs die man en sit my hand oor syne. Die regterhand, die een wat op sy bobeen lê. Ek vee die sweet van sy voorkop af. Die kuif uit sy oë, al is hulle toe. Dan die onverwagte natheid uit myne, al weet ek hy was nie vanaand by Crow’s om blomme af te lewer nie.
Ons bly so sit. Dis te laat vir ’n ambulans.
Een minuut tik verby, dalk minder, tot sy asem sagter word en verdwyn.
Ek staan op, moeg en steeds omgekrap. Agter die kroegtoonbank maak ek die kluis oop en haal ’n rooi boekie uit. Ek skink Magnum Grey Goose Premium Vodka in ’n kristalglas en drink twee keer terwyl ek deur die name op my foon soek. Dan werk ek deur die lys in die rooi boekie.
Geen naam stel my tevrede nie. Daar is ’n handvol mense wat die vuilwerk kan doen, maar niemand wat verder kan dink nie. Ek het nie net ’n probleem om van ontslae te raak nie, ek wil ook weet waar dit vandaan kom. En Naomi gaan lieg. Dit weet ek uit ondervinding.
Ek blaai weer deur die boekie. Hier is buitendien niemand wat ek regtig meer vertrou nie. Ek lag amper. Twee jaar gelede sou dit anders gewees het. Vreemd hoe dinge verander, hoe ’n mens se vertroueskaal skuif. Herkalibreer, al sweer jy niks kan jou meer verras nie, niemand kan meer naby jou kom nie.
Ek maak die boekie toe en tel my foon op.