Читать книгу Sondebok - Irma Venter - Страница 14
2
ОглавлениеEk hoor die gekraak van die voordeur wat versigtig oopgaan. Middagete is gekanselleer, en dis veels te vroeg vir die eerste gaste vir aandete. Ek het nog altyd slegs besprekings aanvaar, met volle name en telefoonnommers; dis feilbaar, maar die beste manier om ongenooide gaste by Crow’s weg te hou. Zenani se hand vries bo die eend, die mes ’n uitroepteken. Sy beduie ek moet gaan kyk. Sy sal in die kombuis bly en die yskas oppas.
Ek loop tot by die swaaideur en kyk deur die ronde glasvenster. ’n Ouerige man staan langs Pius, die hoofkelner. Hy lyk verdwaald. Langs hom stoei ’n jong labrador aan ’n rooi leiband.
Onmoontlik. Wat soek Jaap Reyneke hier? Het hy uitgevind dat dit ek was wat in September die aanval op hom gereël het? Ek moet erken, ek voel sleg daaroor dat hy in die hospitaal beland het, maar ek was oortuig daarvan dat hy ’n bedreiging vir Sarah inhou. En dat hy en sy oudkollega Alex ontvoer het.
Ek draai om en wys met ’n regop duim vir Zenani dat dit nie ’n tweede Ruan is nie. Al weet ek nie of die oudpolisieman veel beter is nie.
Ek stap die restaurant binne. Hou niks van die herkenning op Jaap se gesig nie. Dis asof hy my dadelik in die legkaart van sy geheue inpas.
Hy het gewig verloor sedert ek hom laas gesien het. Hy het so drie maande gelede een aand aan my woonstel se deur kom klop, kamstig omdat my tjello hom wakker gemaak het. Ons het al twee geweet hy lieg; hy bly nie in my woonstelgebou in Sandton nie. Hy wou weet wie ek is, en hoe ek lyk.
Jaap Reyneke. Ook die man wat Hendrik Kroon, Ranna se pa, se kamstige selfmoord ondersoek het.
“Kan ek help?”
Hy glimlag. Dit laat lyntjies om sy oë kreukel, so asof hy dit gereeld doen. Die glimlag verlig die onsekerheid op sy gesig, die effense spanning in sy benerige, breë skouers.
Mooi glimlag.
“Ek het gehoop jy sou hier wees,” sê hy.
Ek kyk na hom met wat ek hoop ’n verwarde uitdrukking is. “Jammer, maar het ons mekaar al voorheen ontmoet?”
“Ja, vroeër hierdie jaar, seker so rondom September. Maar dit was vlugtig.” Hy glimlag weer, nou meer verleë. “Maak nie saak nie. Jy ontmoet seker baie mense.”
“Jammer. Regtig.” My glimlag word ’n spieëlbeeld van syne. Sag, effens onseker, ’n vleiende nabootsing bedoel om te ontwapen.
“Kan ek help?” vra ek weer. Ek fladder ’n hulpelose, oorweldigde hand na iewers agter my. “Verskoon my haas. My eerste gaste gaan netnou hier wees …?”
“Jammer, ja.” Hy kyk na die labrador by sy voete. Dié kou verbete aan die leiband. “Ek’s op soek na Frankie … Frankie Beekman?”
Dis die naam op Ranna se nuwe paspoort, die een wat ek vir haar gekry het. Hoe ken Jaap Reyneke dié naam?
Woede kriewel in my bors. Hoe gereeld het Ranna vir hom in die hospitaal gaan kuier? Ek het gedink dit was net een keer, maar duidelik ken ek nie die hele storie nie. Hoe ver het haar misplaaste boetedoening gestrek? Ék het gereël dat Jaap aangeval word, nie sy nie. Sy hoef nie die skuld op haar te neem nie. Ek het vir sy rehabilitasie betaal, die elektriese rolstoel wat hy nodig gehad het tot sy knie reg was en hy weer kon loop. Dis genoeg om die meeste skuld te betaal.
Wat weet hy nog? Weet hy hoe Ranna Frankie geword het? Dat ek vir haar die nuwe paspoort en identiteitsdokument gemaak het?
Ek skud my kop. Praat doelbewus verkeerd. “Ek ken nie ’n Frankie Barnard nie. Is jy by die regte restaurant?”
“Beekman. Frankie Beekman.”
Die labrador hap weer na die leiband, trek ongeduldig daaraan.
Sy baas met die grysblonde hare, effens lank om die ore, frons skerp. “Ek’s seker dis hier. Dis mos Crow’s Feet? Ek het vroeër vir Alex gebel en hy’t gesê sy sal dalk vanoggend hier wees.”
So hy weet van Alex ook.
Ek kyk op my horlosie. Halftwaalf. “Kan nie wees nie. Ons bedien nie ontbyt nie.”
Jaap glimlag weer, wyer, asof hy vir my lag. Voor my oë word die skraal gesig aantreklik, sy bleekblou oë jonger.
“Ek is seker hy’t gesê Crow’s Feet. Ek wou sommer net ’n koppie koffie saam met Frankie kom drink.”
“Ek’s jammer. Ek weet nie wat om te sê nie.” My glimlag is net so gul soos syne.
“Ek ook nie. Ek voel skielik ’n bietjie stupid.”
Hy trek met sy los hand aan die mou van sy ligblou langmouhemp. Herhaal die beweging met sy ander hand. Dan is dit asof die labrador nog heeltyd wag dat sy baas se aandag moet dwaal. Hy ruk los in ’n vinnige beweging.
“Boris! Nee!” Jaap gryp na die leiband, maar hy is te stadig. Die hond laat vat verby my, agter die kroegtoonbank in.
Die kombuisdeur gaan oop. Zenani steek haar kop uit. “Wat’s fout?” vra sy, haar stem dreigend.
“Niks nie,” keer ek vinnig. Ek kan nie haar hande sien nie, maar ek weet sy sal iets vashou. En ek het reeds vanoggend ’n nuwe besem gaan koop. “Dis net ’n …”
Ek kyk verstom hoe die ligbruin hondelyf agter haar by die kombuisdeur inglip. Natuurlik agter die kosreuk aan.
“Keer!” skree ek.
Zenani skrik. Sy gee drie treë vorentoe, nuwe besem gereed in haar hand. Agter haar swaai die kombuisdeur heen en weer.
Jaap sug. “Ek sal hom gaan kry.”
“Nee!” sê ek vinnig. Daar’s ’n lyk in die yskas. Crow’s se kombuis is die laaste plek waar ’n afgetrede polisieman moet wees.
“Wag hier.” Ek beduie na een van die tafels. “Sit! Ek sal vir jou koffie bring.”
“Goed. Dankie.” Hy leun met een hand op die tafel en sak in die stoel neer, sy gewig meestal op sy linkerbeen, asof September se beserings nog pla.
Ek draai na Zenani, konsentreer om my stem egalig te hou. “Sal jy asseblief vir … hom koffie maak?”
Amper het ek Jaap gesê. Hy het homself nie voorgestel nie, en ek is nie veronderstel om sy naam te ken nie.
Ek loop haastig by die kombuisdeur in en roep hard: “Boris!”
Niks nie.
Die agterdeur is toe. Die hond moet hier binne wees.
“Boris! Waar is jy?”
’n Lae grom trek my aandag. Dit kom vanuit die yskas. Hoekom staan die deur oop? Dalk was Zenani daar binne besig.
Ek gee drie lang treë tot binne. Die half uitgegroeide labrador staan en knor vir die man op die stoel. Sy stem is onseker, asof hy nog oefen om geraas te maak.
“Boris.”
Hy draai om en kyk na my met gespitste ore.
“Kom hier.”
Maar die hond draai terug en begin snuffel aan Ruan Delport se broeksak. Hy trek die reep bebloede toiletpapier uit, laat dit val.
Is dit nou regtig nodig?
“Boris!” roep ek, harder hierdie keer. “Kom hier. Hiér.”
Hy tel weer die stuk toiletpapier op. Kyk na my asof hy my uitdaag om hom te jaag.
Ek spring vorentoe en gryp hom aan sy halsband. Probeer die papier uit sy bek trek. Hy grom vir my en skud sy kop heen en weer, die speletjie plesierig.
“Ek het nie nou tyd nie!” Ek gryp na die papier, maar die hond draai sy kop weg.
Wie noem in elk geval ’n hond Boris?
Tyd vir ’n ander taktiek. Ek neem ’n ham van die rak, loop na Zenani se werkspasie en sny ’n stuk af. Toe ek omdraai, staan Boris reeds by my voete, toiletpapier steeds in sy bek.
“Ek ruil jou.” Ek hou die vleis voor sy neus. Hy los die papier en gaan sit.
Ten minste het hy goeie maniere.
Ek gee vir hom die vleis, tel die natgekwylde toiletpapier op en gooi dit in die asblik. Sny nog ’n stuk vleis af en loop na die swaaideur. “Hierso, Boris.”
Hy kom nadergedraf.
Ek gee dit vir hom en sorg dat ek by die yskas kom. Slaan die deur toe en sluit dit. Ons gaan die lyk tuinstoor toe skuif sodra Jaap weg is.
Met ’n stuk ham in die hand loop ek uit die kombuis, gooi dit by Jaap se voete. Dié sit en koffie drink waar ek hom gelos het.
Ek moet ’n sug van verligting keer. Kan hierdie dag nou net end kry?
“Hardkoppige klein bliksem,” kondig ek aan.
Jaap glimlag, vryf oor die hond se kop. “Selfde as sy baas.”