Читать книгу Sondebok - Irma Venter - Страница 15

RANNA 1

Оглавление

Dit lyk na ’n ouerige gesinshuis oorkant die pad, een met ruim vertrekke. Seker drie of vier slaapkamers en twee badkamers, een miskien bruin, of groen. Die boustyl en erf dateer van iewers uit die 1970’s, voor 2,2-kinders-en-een-hond. Dis meer soos drie kinders, twee honde, ’n kat en ’n duiwehok.

Die vensters verraai dieselfde ouderdom. Dis groter as wat vensters deesdae, en met deesdae se misdaadsyfers, gemaak word. Die diefwering is wit en Spaans; niemand sal by die vensters kan in sonder ’n raserige saag nie. Die tuin is netjies, meestal gras, en met wat lyk na kruie in bruin potte al langs die een muur af.

Die huis kruip weg agter ’n groen palissadeheining en ’n ry struike. Die L-vormige gebou lyk nes die ander huise in Valhalla, ’n amperse kopie van die huise aan die regter- en linkerkant. Maar dis nie ’n gewone huis nie. Dis die huis waarin Crow’s se skottelgoedwasser bly en iemand wil haar dood hê.

Bly sy alleen in hierdie grote huis? ’n Skottelgoedwasser?

Dis te betwyfel. Valhalla is nie ’n baie ryk buurt nie, maar jy sal meer as ’n skottelgoedwasser moet verdien om hier te bly. Dalk is Naomi getroud met ’n man wat goed verdien.

Ek kyk op my horlosie. Skuif die bakkie se sitplek agtertoe en strek my bene. Adriana is laat.

’n Beweging trek my aandag. Die gordyn voor die sitkamervenster beweeg na links, val terug en hang weer stil. Blý stil hang.

Kan nie toevallig wees nie. Iemand in die huis hou my dop. Wat sou ek doen as ’n wildvreemde vrou in ’n wildvreemde bakkie voor my huis parkeer en na die voordeur staar? Die polisie bel?

Demmit. Hierdie was die een afspraak waarvoor ek maar laat kon wees. Waar is Adriana?

Ek bel haar. “Hoe ver is jy?”

“Op pad. Dit storm in Johannesburg. Seker so ’n kwartier? Dalk twintig minute.”

Weer beweeg die gordyn.

“Ek ry om die blok tot jy hier is. Ek dink ek maak Naomi senuweeagtig.”

“Ek sal bel en verduidelik wie jy is.” Sy dink ’n oomblik. “Maar dalk moet jy maar steeds vir my wag voor jy gaan klop.”

“Maak so.”

Ek skuif die sitplek vorentoe en skakel die bakkie aan. Draai regs in die eerste straat. Nog huise soos Naomi s’n. Weer regs, links. Links. Oor ’n sirkel. Nog een. My foon lui.

“Sy antwoord nie haar sel nie,” sê Adriana gejaagd. “Gee my vyf minute. Wag vir my by die hek.”

“Daar’s definitief iemand in die huis. Dalk hoor sy nie haar foon nie?”

“Dalk is dit nie sy nie.”

“Goed, kry jou daar. Maak gou.”

Ek ry terug en parkeer oorkant die pad, maar meer af in die straat hierdie keer. Die roomkleurige huis lyk niks meer toeganklik as netnou nie. Hoe kom mens by die voordeur in as jy nie ’n sleutel het nie? Brandende oliefakkels en ’n stormram? Ek kan klop en verdwaal lyk, maar niemand vra deesdae meer padaanwysings by huise nie. Netnou skiet iemand jou.

Ek kyk na die interkom by die hek. Ek kan die knoppie gaan druk, of ek kan hier sit en tyd mors tot Adriana opdaag. Ek klim uit en loop tot by die vuilwit boks. Druk die knoppie. Die interkom lui en lui. Die gordyn wat netnou beweeg het bly doodstil hang. Om my is die buurt stil en verlate. Iewers is ’n sproeier aan, al is dit die middel van ’n koel dag en die reën so naby dat jy dit kan ruik. Tjiek-tjiek-tjiek. Terug. Tjiek-tjiek-tjiek.

Ek druk weer die interkom se knoppie. Steeds geen reaksie nie. Ek trek aan die hek. Dit beweeg nie. Ek kan seker oorklim, maar netnou bel iemand die polisie.

Agter my rem ’n motor skerp. Dis Adriana se swart Mercedes-Benz.

Sy spring uit. “En?”

“Niks nie. Ek kan nie inkom nie.”

Sy maak die hek oop met ’n afstandbeheer aan haar motorsleutels en loop terug na die Mercedes. “Parkeer agter my. Ons trek te veel aandag.”

Ek roep haar terug. “Wat as dit nie Naomi daar binne is nie? Wat is die plan?”

“Ons loop in. Hopelik gee hulle pad. Hopelik het jy hulle reeds skrikgemaak.”

Ek bly staan. Dis een te veel “hopelik”.

Adriana se wenkbroue lig. “Het jy ’n beter idee?”

“Nee,” gee ek toe.

Ek parkeer die bakkie agter haar motor in die oprit. Ek kan nie help om te wonder hoekom sy sleutels vir Naomi se hek het nie. Wie de hel ís Naomi?

Adriana het ook sleutels vir Naomi se stewige veiligheidshek en voordeur. En ’n afstandbeheer om die huisalarm met twee klikgeluide af te skakel.

“Wie is hierdie vrou?” vra ek. “Is dit jou huis?”

“Ek sal later sê, belowe. Maar kom ons vind eers uit of Naomi nog leef.” Sy haal die byt uit haar stem. “Asseblief, Ranna.”

Sy stoot die voordeur oop. Trap oor die Welkom-grasmat en roep hard: “Naomi? Dis ek. Iris? Waar’s julle?”

Wie is Iris? Dit kan nie Adriana se kinders wees nie. Hulle sal nie skottelgoed by Crow’s was nie.

Adriana los die voordeur oop, nes sy die hek oopgelos het. Seker dat ons kan wegkom indien nodig. Ek volg haar binnetoe oor die voorportaal se bruin mat wat al beter dae geken het. Ons staan stil en luister.

Niks nie. Geen geluid ontsnap uit die ruim, koue huis nie. Ek wens skielik ek het ’n warmer baadjie aangehad as my ligte K-Way-nommer.

Ek dink aan Ruan Delport se gespierde lyf. Wens ons was beter bewapen. “Is jy seker sy’s nie net gou winkel toe nie?”

“Omtrent honderd persent seker.”

“Hoe so?”

“Haar motor staan al ’n week by Crow’s, en ná gisternag sal sy te bang wees om te loop.”

Adriana loop in die gang af. Ek soek regs, waar die sitkamer is. Vries in my spore. “Demmit!”

Adriana kom haastig nader. “Wat het hier gebeur?”

Sy’s nie verbaas nie, besef ek, sy is kwaad.

Die sitkamer is ’n gemors. Die meubels is stukkend gesny en die TV omgegooi. Boeke, CD’s en DVD’s lê op die vloer. Alles is stukkend getrap, gebreek of uitmekaar gehaal. Iemand was op soek na iets.

“Zenani gaan kwaad wees,” sê Adriana.

“Bly sy ook hier?”

“Ja.”

“En Iris?”

Adriana beduie ek moet stilbly. Ek kan sien hoe sy van plan verander. Hoe sy wil weet wie in die huis is of was, en wat hulle gesoek het. Antwoorde wil hê. Sy skop haar skoene uit en haal ’n pistool uit haar handsak, iets kleins en silwer.

My Glock lê by Sarah. Alex verafsku wapens en ek kan nie saam met hom werk en ’n pistool dra nie. Joernaliste dra nie wapens nie. Dis nie hoe jy iemand kry om met jou te praat nie. Jou te vertrou nie.

Adriana beduie ek moet weer by die voordeur uit, sy sal die huis deursoek.

“Ek gaan jou nie alleen los nie,” fluister ek.

Sy skud haar kop vererg en verdwyn by die kombuis in.

Ek volg haar. Die adrenalien is bekend. Dis dieselfde gevoel as wanneer ek en Alex ’n storie jaag. Die wil om te weet wat gebeur het, wat gáán gebeur, is oorweldigend.

Die kombuis is net so deurmekaar soos die sitkamer. ’n Vuil kastrol lê omgedop op die wit teëlvloer. Wat ook al daarin was, sit dik en geel op die vloer. Kerrie?

Die kaste se inhoud lê oor die vloer gestrooi. Die agterdeur staan oop.

Adriana gaan staan en snuif die lug, amper soos ’n roofdier. Dan kyk sy na my. Haar oë vra of ek dit ook ruik.

Wat? beduie ek stom.

Dan vang die soet, goedkoop reuk my agter in die keel. Naskeermiddel?

Die voetstappe in die gang begin sag, asof hulle wil nadersluip, dan opgee en hardloop. Twee, drie tekkietreë wat oor teëls skwiek.

Lang treë. Groot man?

Ek retireer dieper die kombuis in, desperaat op soek na ’n wapen. Word eenkant toe gevee deur ’n groot arm. Beland teen die yskas, kap my kop en val grond toe. Kyk deur ’n waas van pyn hoe die man met die swart balaklawa vir Adriana ook uit die pad stamp.

Sy val op die kombuistafel, gly af vloer toe. Spring op soos ’n kat, vloeiend en vinnig.

Hoekom skiet sy nie?

Ek sukkel tot op my knieë. Knip my oë teen die duiseligheid. “Skiet hom!”

Sy laat val die pistool en ruk ’n laai oop. Soek na iets. Grom in frustrasie. Messegoed flits onder haar hande deur.

“Waar is …”

“Hy’s weg.” Ek beduie na die agterdeur. Gaan sit weer plat op die vloer. “Weg.”

Ek het haar nog nooit so kwaad gesien nie – het nog nooit veel emosie by haar gesien nie – maar nou weet ek hoe dit lyk. Haar oë vlam asof dit die kombuis en alles daarin wil verteer. Die fyn spiere in haar arms en nek tril, vinniger en vinniger. Dan bedaar dit. Die gordyne sak; haar geelbruin oë word weer onleesbaar. Sy gee ’n tree terug van die afgrond waar sy gehuiwer het. Asof sy besluit het om nie te spring nie.

Sy tel die pistool op en sit dit op die tafel neer. “Leef jy nog?” vra sy kalm.

“Hoekom het jy nie geskiet nie?” Ek gaan sit op my knieë, voel hoe die ewewig terugvloei in my lyf.

Sy skud net haar kop, so asof ek beter moet weet.

Sy is reg. Ek weet, al wil ek nie. Dis dieselfde rede hoekom ons nie die polisie gebel het toe Naomi nie haar foon geantwoord het nie. Ons kan nie bekostig om aandag te trek nie. Veral nie ek nie.

Ons beweeg vinnig deur die omgekrapte huis, maar kry niks wat verklap waarna die man op soek was nie. En as hy handlangers gehad het, is hulle lankal weg.

Daar is geen teken van Naomi nie. Selfde met Iris, wie sy ook al mag wees.

Adriana maak die kombuisstoele weer staan en gaan sit. Staar na die vuurwapen op die tafel. Die vrolike wit-en-geel kombuisgordyne. Die agterdeur wat steeds oopstaan.

Ek soek na ’n skoon, heel glas. Draai die kraan oop en tap water. Stik amper oor die chloorsmaak. Ek hou die glas vas tot die bewing in my hande bedaar. My kop pyn nog, maar dis niks ernstigs nie.

Ek gaan sit oorkant Adriana. Luister heeltyd vir voetstappe, maar die huis is doodstil.

“Sarah het my van haar pa gesê.”

Adriana knik net. Sit lank stil.

“Jaap Reyneke was vroeër by die restaurant,” sê sy uiteindelik.

Ek kan die moegheid in haar stem hoor. Wat moet ek sê? Sy gaan my buitendien net uittrap oor Jaap.

“Is julle nou skielik vriende? Jy en ’n afgetrede polisieman?”

“Miskien. Seker.”

Hoe moet ek my en Jaap se vriendskap aan haar verduidelik? En buitendien, dis niks vreemder as my verhouding met haar, ’n voormalige mesgooier in ’n sirkus, nie.

“Ek het sleg gevoel ná sy aanranding,” probeer ek tog. “Ek en Sarah het ’n fout gemaak toe ons jou op sy spoor gesit het. En hy voel skuldig oor my pa. Ons kuier lekker, dis al.”

“Wat het jy hom oor jouself vertel? Oor my en Sarah?” Haar stem word nog killer. “Hy het vir Frankie gevra. Jou nuwe naam.”

“Hy weet niks van jou nie,” lieg ek.

Jaap weet van Adriana, maar sy inligting kom nie van my af nie. Dit sal ook nooit, en dit verstaan hy goed. En hy weet om weg te bly van haar. Dis wat ons ooreengekom het. Wat het hy by Crow’s gaan soek?

Adriana sug. “Ranna, jy kan nie wees wie jy is en met ’n oudpolisieman vriende wees nie. Baie van hulle se konsep van reg en verkeerd sit diep, dis nie aangeplak of aangeleer nie. Wat gebeur as hy eendag wakker word en nie meer bereid is om te vergeet dat die land se mees gesoekte reeksmoordenaar op straat rondrits nie?”

“Ek’s lankal nie meer die land se mees gesoekte reeksmoordenaar nie. Te veel kompetisie. En Jaap sal nie praat nie.”

“Hoekom nie?”

“Want hy sal nie. Ek sê mos, hy voel sleg oor wat met my pa gebeur het. Hy moes hom vroeër laat toesluit het, dan sou ek hom nie geskiet het nie.”

“En dis waarop jy jou vertroue baseer? Dat Jaap sleg voel?” Adriana leun terug in die stoel en skud haar kop ongelowig.

“Nee. Julle het my bestaan uitgevee, jy en Sarah. My dossier laat verdwyn.”

“Moenie te gerus raak nie. Dis dan wanneer dinge skeefloop. En moet nooit die polisie vertrou nie.”

Ek antwoord nie. Ek wil nie verder oor Jaap praat nie. Ek hou van hom. Ek het selfs ’n maand of wat gelede vir hom ’n hond present gegee. Hy het die geselskap nodig gehad. Dit het hom mal gemaak om heeltyd by die huis te sit met sy seer knie.

Maar hoekom by Crow’s opdaag? Dis wat ek nie verstaan nie. Is hy eensaam? Of soek hy na die mense wat hom aangerand het? As ek Adriana was, sou ek my nie oor Jaap se sin vir geregtigheid bekommer nie. Dis sy hardkoppigheid wat my gek maak. Hy het ná die aanval geloop lank voor die dokters gesê het hy sou.

“Ek sal met Jaap praat,” sê ek uiteindelik. “Maar eers later. Sê eers vir my wat hier aangaan. Wie is Naomi? Wat is hierdie plek?”

“Ons kan later daaroor gesels. Ek’s bekommerd oor Naomi. Wat as hulle haar ontvoer het?”

Ek is moeg om aan te hou wag vir reguit antwoorde. “Nee, ek wil nou weet. Of ek ry.”

“Ranna …”

“Nou.”

“Goed. Naomi is …”

Haar woorde stol. Sy kyk stip na my. Haar oë vra of sy reg gehoor het.

Sy het. Ek tel haar pistool op. Ek het ook die dowwe geluid gehoor. Asof iets omgeval het.

Ek kom orent en loop stadig, geluidloos gang toe. Adriana kom agterna, skoenloos, kombuismes in die hand.

Die eerste slaapkamer se deur staan oop, nes toe ons die eerste keer deur die huis is. Ons loop in, soek deur die kleinerige vertrek, donker agter oranje gordyne. Ek kyk na Adriana. Sy knik en gaan staan in die hoek van die kamer. Ek buk af, lig die duvet en kyk onder die enkelbed.

Niks nie.

Ek draai om na die ingeboude kaste, steeds toe. Ek kon dit netnou ook nie verstaan nie; dalk het ons die man verras voor hy die kaste kon deursoek. Ek sit my hand op die deurknop naaste aan my, kyk na Adriana. Sy beduie ek moet oopmaak.

Die wit deur swaai krakend oop. Ek tree terug, die pistool gereed. Skoene lê slordig in die onderste rak. Draftekkies. Plakkies. Skoene soos Adriana s’n, net groter.

Die tweede kas. ’n Paar stelle klere, swart meestal. Kostuumjuwele.

Derde een. Nog klere.

Ek voel hoe sweet op my gesig uitslaan en vee dit af met my mou.

Ons loop na die volgende kamer. Adriana kyk oor haar skouer, soek dan weer voor haar. Ek hoor die gesuis van asem. Vinniger en vinniger. Besef dis my eie. Dalk moes ek maar vir Alex geluister en vir Adriana nee gesê het.

Hierdie kamer lyk nes die vorige een, behalwe dat die kleurskema wit is. Selfde meubels en skilderye. Selfde ingeboude kaste.

Die eerste kasdeur staan reeds oop, soos netnou toe ons die huis deurgekyk het. Ek vee weer sweet af. Die huis voel skielik broeiend warm; dis asof ’n reusehand die lug uit die vertrekke steel. Saampers tot iets wat mens nie in jou longe kan inkry nie.

Die tweede kasdeur is toe. Ek maak dit oop.

Niks nie.

Ek sit my hand op die deurknop van die derde.

Die deur vlieg oop. ’n Figuur duik uit, spring gillend vir my keel. Gryp na die pistool en stamp dit dak toe.

Ek tol onder die momentum van die aanval, trap regs en links op soek na balans. Stamp die lyf weg en mik met die pistool.

“Nee!”

Adriana spring voor my in, vorm ’n buffer tussen die pistool en die vrou wat langs die bed geval het. Sy buk, vee yl blonde hare uit die jonger vrou se gesig en praat sag met haar.

“Toemaar, als is reg, als is reg.”

Die vrou se ligbruin oë is wyd gesper, angstig. Maskara loop in strepe teen haar wange af. Sy hou haar hande oor haar gesig terwyl sy geluidloos huil, haar lyf ineengevou onder die geweld van die emosie.

Ek maak die pistool veilig. Vryf verdwaas oor die krapmerke aan my keel.

Adriana wieg die vrou stadig heen en weer. “Dis als reg, Naomi. Als reg,” fluister sy.

Sondebok

Подняться наверх