Читать книгу Sondebok - Irma Venter - Страница 16
AJ 1
ОглавлениеKolonel Ndlovu loer na my oor sy raamlose bril en skuif ’n geel lêer oor die tafel tot langs my beker. Dis die tweede filterkoffie wat ek in die raserige koffiewinkel in Brooklyn drink. Ek was vroeg – vroeër as wat ek wou wees. Vroeg lyk gretig. Dit sê ek voel dalk sleg oor die ding met Basil.
Ek ignoreer die lêer. Hoe diep in die moeilikheid is ek? Moeilikheid wat ek glad nie verdien nie.
Die kolonel druk met ’n ongeduldige vinger op die lêer. Dis duidelik hy is nie lus om sy tyd te mors nie. Ek vermoed hy is hier saam met sy familie, seker om inkopies te doen of te fliek, of wat hulle ook al gewoonlik op Saterdae doen.
Selfs die netjiese swart broek, ligte baadjie en rooi gholfhemp lyk soos ’n uniform aan die lang gryskopman. Perfek gestrykte klere. Perfekte snit. Ek sit teenoor hom in jeans en ’n swart langmou-T-hemp, my hare wat nog klam van die stort oor my skouers hang.
Ek proe aan my koffie en wag dat hy by praat kom. Ek was dalk vroeg, maar ek is beslis nie gretig nie.
Toe hy praat, is dit soos altyd: duidelik en presies.
“ ’n Ou vriend van my, ’n Amerikaner wat ek deur Interpol leer ken het, was verlede jaar hier op vakansie saam met sy vrou. Hulle het ’n draai by die Uniegebou gemaak en Jeremy het foto’s geneem. Dit was nog altyd sy stokperdjie. Film, nie digitaal nie.”
Ek gee my oor aan die nuuskierigheid en maak die lêer oop. Kyk na die naam en telefoonnommer op die boonste vel papier, skype- en e-posadres.
“Sy vrou het siek geraak en hy het vergeet om die films te laat ontwikkel. Tot twee weke gelede.” Die kolonel blaai deur die pakkie papiere tot by ’n A4-foto. “Hy het dit dadelik vir my gestuur.”
Ek kyk na die vrou wat op ’n groot oop grasperk staan, kamera in die hand, Uniegebou op die agtergrond. ’n Swart baadjie is om haar heupe gebind en daar is ’n rooi rugsak oor haar regterskouer. Lang swart krulhare roer in die wind. ’n Horde silwerarmbande hang om haar linkerarm. Sy kyk eenkant toe, sodat mens net haar profiel sien.
Sy lyk moeg en bekommerd, asof sy weke laas geslaap het. En effens bekend – die se-moer-houding meer as die gesig. Een voet vorentoe, skouers terug. Net soos op die ou, greinerige foto’s wat laas jaar nogmaals in die koerante herkou is.
Ek vryf oor die foto. “Ek dog sy’s in Indië. As dit is wie ek dink dit is.”
“Dié foto sê sy was hier toe sy in Indië moes wees – volgens haar kredietkaart.”
Die kolonel huiwer ’n oomblik, asof hy nie weet hoe om die volgende sin te formuleer nie. Asof die emosie hom ongemaklik maak.
“Jeremy is erg geraak deur sy vrou se dood. Ek weet nie of hy meer so helder dink nie. Dalk is dit nie sy nie. Maar ek het belowe ek sal kyk wat ons kan uitvind.”
“Dink kolonel dis sy? Miskien is dit net iemand wat soos sy lyk. Ek bedoel, dis jare sedert iemand ’n duidelike foto van haar geneem het. Op skool laas, dan nie? Dit kan sy wees, maar dalk ook nie.”
Die kolonel kyk op sy horlosie. “Dis wat jy moet uitvind. Ek wil weet wie die vrou op hierdie foto is. Is dit Ranna Abramson? Isabel Kroon? En as dit is, wil ek weet of sy nog hier is.” Weer huiwer hy. “Ek moet sê, ’n kredietkaartrekord beteken dalk meer as die foto’s van ’n ou man se laaste vakansie saam met sy vrou. Dis hoekom ek niemand se tyd hiermee wil mors nie.”
Net myne?
Hy besef wat hy gesê het. “Dis die ideale ding om jou mee besig te hou tot Opod inkom. Ek het reeds met hulle gesels.”
“Ek het …”
“Dis genoeg, kaptein.” Hy skuif sy stoel terug.
“Waar is haar dossier? Moet ek dit aanvra?”
My vraag maak hom kwaad. Ek kan dit sien aan sy mondhoeke wat grond toe rem.
“Dis weg.”
Weg? Gesteel, met ander woorde. Verruil vir geld.
“Ek kon ’n klompie dokumente bymekaarmaak van die ander polisiedepartemente waar sy ondersoek is, soos dié in Parys en San Francisco. Ek kon selfs ’n paar koerantberigte en duplikaatnotas opspoor wat Boel de Jonghe, die speurder wat Tom Masterson se moord in die Kaap ondersoek het, by sy huis gebêre het. Maar dis al.”
Die kolonel staan op. ’n Vrou in ’n groen rok, ’n Woolies-sak in haar hand, kom by die koffiewinkel in. Sy het seker buite gewag tot ons klaar gepraat het. ’n Maer tienerseun, net arms en bene, huiwer buite in die gang.
Ek kom orent. Weet ek gaan nie voorgestel word nie. Ndlovu praat nooit oor sy privaat lewe nie. “Ek sal my bes doen, kolonel.”
“Dis wat ek verwag, AJ. En ek sê weer: moenie inkom kantoor toe tot jy iets het nie. Ek het jou oop sake vir Ferreira gegee.”
“Ferreira? Hy sit net en wag vir ’n oorplasing Kaap toe.” Ek kan die woorde nie keer nie. “Hoekom word ek gestraf omdat ek gedoen het wat reg is?”
Ek wens skielik ek het stilgebly. Dis asof ek oor niks anders kan praat nie. Asof ek heeltyd by hierdie een ding vashaak. Ek kan net sowel vyf jaar oud wees.
Die kolonel sug. “Ek weet, AJ, maar jy is nog jonk en ambisieus. Hoe oud is jy? Een-en-dertig? Jy sal nog leer. Om die regte ding te doen het baie meer gevolge as om die verkeerde ding te doen. Niemand sê dit vir jou as jy by die polisie aansluit nie.”