Читать книгу Sondebok - Irma Venter - Страница 20
ALEX 1
Оглавление“Ruan Delport.” Ek beduie na die identiteitsnommer. “Hy’s vyf-en-twintig. Nee, ses-en-twintig.”
Sarah bekyk die foto op die bestuurderslisensie. “Hy lyk heel gewoon, behalwe vir sy nek. Dis baie ure in die gim daai. Ranna was reg, hy moet ’n bouncer wees. Ken jy hom?”
“Jy klink nou nes sy. Twee stories oor dwelms by nagklubs beteken nie ek ken elke sterkman in Johannesburg nie.”
Ek soek verder deur die swart toevoubeursie. Daar is nie veel in nie, wat dalk meer verklap as wat wel daar is. Geen geld, mediesefondskaart, foto’s van iemand spesiaal, OTM-strokies of winkelkaarte nie. Niks wat getuig van ’n vaste werk met byvoordele, ’n goeie finansiële rekord of ’n familie nie. Die beursie self is van goedkoop nagemaakte leer. Daar is egter ’n fotokaart vir ’n gimnasium – Peter’s Gym – en ’n strokie van Rumble, ’n nagklub in Midrand. Die notas agterop gee aanwysings na Crow’s toe.
Ek wys die kaart en strokie vir Sarah.
“Dink jy dis waar hy werk … gewerk het?” vra sy.
“Die nagklub of die gim?”
“Die nagklub. Dalk albei. Hy kon nie baie geld gemaak het by enige van die twee nie.” Sy neem die bestuurderslisensie by my. “Ek sal kyk wat in sy rekeninge aangaan.”
Terwyl sy op die rekenaar tik, kyk ek op die skerm langs haar na die foto’s wat Ranna met haar selfoon geneem het. Ruan is groot, maar nie Springbokstut-groot nie. Nie 2 meter en 120 kilogram nie. Dis eerder asof hy aan die spiere gewerk het wat hom groter kon laat lyk. Dié wat hom bakarm kon laat rondloop sodat mense kon skrik. Sy boarms en borskas is massief, maar sy bene lyk maar dun in die jeans. Die voete verbasend klein vir iemand wat seker so 1,85 meter lank is.
Hy het ’n slegte vel, meer soos dié van ’n tienerseun as ’n volwasse man. En sy pinkie en ringvinger aan sy linkerhand is met twee pienk pleisters aanmekaar geplak. Meer nog, die kant van sy hand is blou en geswel. Dit lyk asof die besering tot in sy baadjiemou loop, tot op sy voorarm. Hoe kry mens so ’n besering? Kan nie Adriana wees nie. Die bloukol is ’n hele paar dae oud.
Ek oorweeg verskillende scenario’s. Hy kon sy vingers in die gim verstuit het; miskien het hy ’n gewig onverskillig neergesit. Of dalk het hy geskerm vir iets of iemand. Ek lig my linkerarm tot voor my oë soos mens maak as jy koes, kyk dan na die hoek van die besering aan sy hand. Dit pas, ja. Hy kon gekeer het vir iemand. Iemand effens langer as hy.
Ek kyk na sy hande. Daar is geen merke op die kneukels nie. Hy het nie terugbaklei nie. Hoekom nie? Vreemd vir ’n man in sy beroep. Was dit iemand aan wie hy ondergeskik was? Sy baas? Of is hy bloot daai tipe man – groot maar bang?
“Het iets.”
Ek draai om en kyk oor haar skouer na die rekenaarskerm.
“Ruan is maxed op sy kredietkaart en tjekrekening,” sê sy. “En hy word op die 25ste van elke maand deur De Lange & Hlongwane Prokureurs betaal. Die geld gaan so vinnig uit soos wat dit inkom.”
“Prokureurs? Hy lyk nie soos een nie.”
“Hy’s seker die muscle man. Skuldinvordering, daai tipe van ding. Die geld lyk maar min. Vier-, vyfduisend rand op ’n slag.”
“Wat nog?” Ek probeer sin maak uit die bankrekening op die skerm.
“Nog betalings, maar dis nie gereeld nie. Dit lyk soos privaat betalings, maar dis vreemde bedrae. Die laaste een is groterig: Dertigduisend rand. Kom van ’n Hanno Bothma af.”
“Wie’s dit?”
Sy glimlag tevrede. “Eienaar van Rumble. GQ het verlede maand ’n spread oor hom gedoen. Hy het twee susters wat al twee dokters geword het, ’n Ferrari, ’n sepiester-girlfriend en ’n moerse huis in een of ander estate.”
“En Crow’s se adres is op ’n Rumble-strokie geskryf.”
“Korrek.”
“Maar dalk is dit al wat hy by hom gehad het toe hy die adres moes neerskryf.”
“Of …”
“Ja, okay,” gee ek toe. “Of dalk het Hanno Bothma dit daarop geskryf en vir Ruan gegee.”
Ek kyk na die strokie. Twee Castles. ’n Ronde bier tussen vriende? ’n Baas wat bier drink en sy werknemer laat betaal?
Ek draai na Sarah. “Is jy nie lus om bietjie uit te kom nie? Meer uit te vind oor wie en wat Ruan was nie?”
“Jy moan nog heeltyd by Ranna oor die polisie en Adriana en nou wil jy self gaan moeilikheid soek.”
“If you can’t beat them …”
“Wat moet ek by Rumble gaan soek?”
“Niemand sal vir jou nee sê by die deur nie. En as ons eers in is, kan ons hoor of ons met Hanno kan gesels. Hanno wat vir Ruan dertigduisend rand betaal het.”
“En dan wat?”
“Weet nog nie.”
“Ek’s nie lus nie,” stry sy.
“Jy kan nie heeltyd hier sit en tob nie.”
“Moenie hierdie mý ding maak nie. Jy ruik ’n storie.”
Ek weet sy’s reg. ’n Mens bly wie jy is. Ek wou nie by Adriana en haar dinge betrokke raak nie, maar as ek moet, kan ek net sowel heelhartig inspring. Want hier is iets aan die broei. Iets interessants.
Sarah staan brom-brom op en loop yskas toe. Kom terug met ’n Coke in die hand en minus die nikotienkougom in haar mond. Sy gaan sit weer voor die rekenaar.
“Wat sê die dokters?” verander ek die onderwerp.
Sy wag lank voor sy antwoord, haar vingers wat rusteloos op haar bobeen tik.
“Hulle gee hom nog so drie, vier weke.”
Ek wil troos, maar ek weet dit sal dom wees. Ek kan nie die ding tussen my en haar weer wakker maak nie.
Toe ek uiteindelik praat, kom die woorde lomp uit.
“Hy moet bly wees dat jy ophou rook het.”
“Hy is.”
“Hoe gaan dit met jou ma?”
“Nie goed nie. Sy sê net heeltyd die dokters weet niks.” Sy lag bitter. “Ek is kwaad oor hy steeds wil rook en sy vir haarself lieg. Ons het al so baie lieflike, geduldige gesprekke oor al twee onderwerpe gehad.”
Sy drink die koeldrank klaar en loop na die ry sleutels wat langs die hysbak hang. Haal een stel af.
“Jy’s reg. Mens kan ook net so lank sit en jouself jammer kry. Kom ons ry.”