Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 10

Lekkerkry

Оглавление

Nadat hulle op die TV gesê het van die nuwe Suid-Afrika, is my buurvrou ernstig aan die voorberei. Sy’t ’n hoë muur laat bou, hekke laat aansit en blikkieskos in die tuin begrawe.

En elke keer as ek haar groet, kan ek in haar oë sien sy wil net gil, Weet jy dan nie ons gaan suffer nie?!

Aai, vrou, hoe kan ’n witmens nou ooit suffer, hy weet dan nie eens hoe ’n mens lekkerkry nie.

Kyk, daar ver in Vereeniging se karavaanpark het twee lesbians gewoon. Hulle name was Hetwieg en Skyf.

Hulle’t nie juis op die dorp gekom nie, want die mense het darem te veel gepraat oor hulle dwarsgeid. Dit het hulle baie seergemaak, want hulle harte en hulle politiek was reg, maar die tweetjies moes hulle maar eenkant hou. Hetwieg was soort van die wyfietjie van die twee. Sy’t mooi aangetrek en die boeke gedoen by die dorp se swembad. Skyf weer, was ontstellend butch met haar jeans en oefenskoene. Sy’t trok gedryf by die Koöperasie en naweke dan bou sy eiehandig aan die huisie op so ’n plot wat die twee daar aangeskaf het. Verder het hulle gereeld gebad en was hulle baie lief vir mekaar. En dis juis waar hulle enigste probleem gelê het.

Of dit nou was van die oliedampe by die werk, of die plat skoene wat sy gedra het, weet niemand nie, maar Skyf kon nooit ’n klimaks bereik nie. Hulle het mooi woordjies gefluister, hulle het elke denkbare apparaat ingespan, hulle het mekaar getakel dat daai karavaan net met ’n hemelse genade bly staan het, maar niks wou gebeur nie. Hetwieg het gekom en gegaan, en Skyf het bly lê en hap-hap in die lug soos ’n haai met seer gums.

So raak die probleem stadigaan al hoe groter, totdat Hetwieg eendag by die swembadkantoor haar hande op ’n tydskrif kry en lees dat lekkerkry vir die middelklas-Afrikaner nog maar steeds gepaard gaan met ’n skuldgevoel en daarom is dit goed as ons af en toe in die tuislande gaan dobbel, en so.

Hetwieg besluit dis wat hulle nodig het vir Skyf se droogte: a change of scenery. Die aand is die karavaan agter die trok en hulle sleep hom heel uit die dorp uit tot daar anderkant langs die highway.

En hulle werk deur daai maand se groceries. Dis kerse, dis wierook, dis custard om die nippels, in ’n stadium het hulle mekaar daar beet met sulke waterpistole vol rooibostee. En soos die Afrikanervrou van vandag nou maar weet, het rooibostee sy genesende kragte, en dis nie lank nie, toe moan daai Skyf soos ’n kat met ’n brandwond.

Net daar, soos aan die einde van enige goeie storie, bereik Skyf ’n klimaks met die voltage van ’n nasionale kortsluiting. Hetwieg skrik so groot, sy wil nog huil, maar at the height of passion gryp haar vriendin haar en slaan agteroor met ’n impak wat geen gesinskaravaan kan weerstaan nie.

Met dié gaan die gasbottel aan die onderkant van die karavaan los en ontplof met so ’n slag dat die mense van Meyerton vandag nog gruisklippies in hulle beddings kry.

Drie dae later kom ou Oom Vermeulen die aand laat by die huis – die pad Vereeniging toe is nog nie reggemaak nie.

Vroumense, sê hy vir sy vrou. Jy moet die gat sien! Hulle sê die twee was toe al die tyd terroriste, maar ek weet nie so mooi nie. Jy moet sien wat tel ’n man in die veld op.

Toe haal hy ’n waterpistool uit en skiet sy vrou plonks! op die wang met ’n skoot rooibostee.

(uit How to Faint and Cry, Junie 1991)

150 Stories

Подняться наверх