Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 21

Billy-Dean 3

Оглавление

Twee uur nadat Billy-Dean se lyk ontdek is, het die dorp begin lewe. Dit was asof iemand aas uitgegooi het. Soos hiënas het hulle begin verskyn. Uit hulle huise, winkels en kantore. Hulle het hulle koppe gelig en gesnuif in die rigting van Mrs Olivier se huis. Niks bloed nie, het hulle teleurgesteld gesê. Hulle het gesnuif in die rigting van die begraafplaas. Het nog nie begin grawe nie, het hulle teleurgesteld gesê. En toe’t hulle aan mekaar begin snuif.

Mens weet nooit, het party gesê, dit kon enigiemand gewees het. Is De Klerk se skuld, het ander gesê, so sal hulle ons in ons eie beddens kom uitmoor. Was hyself, het een of twee gesê, sulke eenkant jongetjies broei in elk geval net onheil.

Maar die meeste het weer ’n keer straatop gesnuif en gesê, Dis die Slang. Wie anders? Sy kamer was hoeka so teen haar heining.

Die Slang is hoe die dorp vir Mathilda-met-die-borste genoem het. Mathilda-met-die-borste het in die groot Victoriaanse huis langs Mrs Olivier gewoon. Dit was die grootste huis in die dorp en het verskriklik geblink, want Mathilda het net ná die insident al die ruite met eenrigtingglas vervang.

Aan die binnekant van die vensters was die weelderigste gordyne gedrapeer, elke venster ’n ander kleur. Van die dorpsmense het gesê die Slang weef dit self en sy gebruik net menshare, dink maar net waar kry sy dit. Ander wou dit eers nie glo nie, tot Mathilda eendag kliphard in die slaghuis gevra het of iemand weet waar die Bothas woon, hulle tweeling lyk so lekker vet.

Maar die ding waaroor daar die meeste gepraat is, was die Slang se troffel. Orals waar sy gegaan het, het Mathilda hierdie troffel van egte silwer saamgedra. Met die troffel het sy koeverte oopgemaak, grimering aangesit, vir haarself helse stukke koek ingeskep, kinders van sypaadjies afgeklap en sement aangemaak. Wat sy met die sement gemaak het, het g’n mens geweet nie, maar elke twee weke, soos klokslag, is Mathilda se sement voor die huis afgelaai. En dan het die dorp van voor af gewonder.

Tot die dag van die insident.

Mathilda het die oggend vir Rodriques opgelui om te sê van haar wasbak en Rodriques is straatop met sy sak tools. In die kombuis het hy onder die wasbak gebuk en net begin werk, toe Mathilda haar borste oor die warmwaterpyp haak en sê, Ek moet dit in die dag doen. Ek wil sien wat gaan aan. Rodriques slaan van skok sy een duimnael in en sê, Ekskuus tog? En Mathilda sê, Rodriques, dek my nou. Rodriques sê toe saggies agt Hail Mary’s op en gaan aan met die wasbak. En die volgende oomblik hoor hy schlop en toe hy omkyk, toe’t Mathilda albei sy bene aan die kombuisvloer vasgemessel.

Vir die res van die middag het Mathilda vir haarself tee gemaak en tussenin het sy vir Rodriques aanhoudend op sy boude gesoen. Eers laataand het sy hom losgekap en is hy huil-huil polisie toe.

Die volgende dag het die polisie die troffel kom konfiskeer. Die’s toe tydens ’n seremonie op die plein in ’n vuur gesmelt terwyl die dramagroep “Witter as Sneeu” in ’n tablo voorgestel het.

Die dag daarna het Mathilda die eenrigtingglas laat insit en nooit weer uit die huis gekom nie.

Dieselfde dag het Rodriques besef hy’s verlief op Mathilda en begin om rukkings in sy onderlyf te kry. By die take-away-plek wag mense nou baie lank vir hulle kos. Dan lig sy vrou net haar skouers en sê, Wat verwag jy? Hy’s gepik. In die hol.

Die dorp het ook nooit weer vir Mathilda gesien nie. Behalwe Sagte Lucas. Hy gaan nou elke dag na die blink huis toe, doen die inkopies en betaal Mathilda se water en ligte. En niemand kry ’n woord uit hom nie. Hy bly tjoepstil. Net soos Billy-Dean, wanneer hy partykeer uit sy buitekamer gekom het en sy was by die heining. Dan’t hy na haar borste gekyk en elke keer gebloos, terwyl sy agter haar oor krap.

En dis hoekom, terwyl die dorp nou straatop staan en snuif, niémand vermoed dat die Slang in haar boonste kamer besig is om, vir die eerste keer in jare, haar uitgaanrokke uit te pak nie.

(uit White Soul, Maart 1993)

150 Stories

Подняться наверх