Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 6

My Parlement-storie

Оглавление

Vroeër het ek mos by my ma-hulle in die Kaap gebly en my ma het my versorg tot sy nou nie meer kon nie. Toe vra sy of ek nie iewers anders wil gaan bly sodat hulle weer hulle gesigte op straat kan wys nie.

Ek kry toe vir my ’n verpleegster, ons trek Transvaal toe en ons bly in hierdie klein huisie in Pretoria.

Maar nou langs my ma-hulle in die Kaap het ’n oujongnooi gebly, Antie Huibre. Antie Huibre het vreeslik gecampaign vir die Nasionale Party. Elke keer as die Minister in die saal kom praat, dan maak sy ’n klomp tee en so. Toe gaan die Minister se vrou dood en hy trou met Antie Huibre.

Nou’t my ma mos ’n kontak in die regering en elke keer as Antie Huibre-hulle opkom vir ’n sitting, dan stuur my ma vir my ’n pakkie saam.

So lui die foon weer eendag. Die verpleegster tel op en hulle sê daar’t vir my beskuit aangekom by die Uniegebou en kan ek dit asseblief môre kom afhaal by Kamer 202.

Daai nag slaap ek, soos enige mens wat die volgende dag moet Parlement toe, heel onrustig en ek droom die verskriklikste ding.

Ek droom ek kom by die Uniegebou aan om my pakkie te kry en toe ek so om die hoek loer, sit daar derduisende mense op die gras met Nataniël-vlaggies. En soos hulle my sien, begin hulle skree en waai. Ek wil nog vra wat gaan aan, maar daar bars musiek los en om die ander hoek kom daar ’n optog met orkeste, ruiters, kanonne en balloons. En heel agter sleep hulle vir Laurika Rauch op ’n vlot in.

Laurika trek los, maar sy sing die “Vlaglied” dat selfs van die perde begin huilerig raak. Ek weet glad nie wat gaan aan nie, maar dis vir my heel aandoenlik.

En toe gaan ’n kollig aan op die trappe en daar staan ons eie prima ballerina. Phyllis. Die Vlootorkes trek los met “Die Stem” en Phyllis lig haar been. En sy ballet daai Stem dat ek openlik begin bewe.

Maar nou weet ons mos Phyllis is nie meer wat sy was nie, en elke keer as die orkes kom by daai stuk waar die kranse antwoord gee, dan maak sy die een been so op, nes ’n flamink. En toe sy weer so maak, val haar gehoorapparaatjie uit. Die orkes is naderhand klaar, die conductor rol al sy tweede joint, maar Phyllis weet van niks. Sy’s daar oor die gras en tussen die bome in.

Met dié gaan die Parlement se voordeur oop en daar staan die hele regering. Heel voor in die middel staan Antie Huibre met my doos beskuit. En die Minister begin sy toespraak. Hy sê, Nataniël, omdat jy so slim is, neem ons jou hiermee as ons nuwe President.

Ek wil nog protesteer, maar almal waai net hulle vlaggies en Antie Huibre kom baie dramaties die trap af met my doos. Op daai oomblik kom Phyllis, met wat heel moontlik die laaste arabesque van haar loopbaan was, om die hoek en tref Antie Huibre vol in die wind. Ek, Antie Huibre, Phyllis en die doos is by die trap af.

Toe ek weer bykom, sit die hele Suid-Afrika op die gras, elkeen met ’n koffie en ’n beskuit. En toe gebeur die verskriklikste ding. Die eerste een doop sy beskuit en soos hy hom hap, val my een arm ghoeps! af. Hap die volgende een, ghoeps! val die ander arm af. En toe my been en so aan tot daar nog net ’n stukkie van my oorbly.

Hier reg voor my sit so ’n skeel vrou met ’n snor en ’n helse lang ding in haar hand en sy druk hom in haar koffie. Ek skree nog soos op TV, Nee! Nee! Nee! Maar sy luister nie en maak haar mond oop. En net toe sy wil hap, breek die stuk beskuit af en val plonks! terug in die koffie en ek skrik wakker in ’n dam sweet.

Hoekom gil jy so? vra die verpleegster.

Ek sê, Ek droom ek word President!

Sy tel my kop op en gaan hou dit onder die kraan. Sy maak die gangkas oop, haal my een been uit, skroef dit aan, toe die ander een, die arms en die res. Toe, sê sy, loop haal jou beskuit.

En toe ek so voordeur toe skuifel, sê sy, En moenie vir jou worry nie, hulle sal jou nooit in die Parlement sit nie. Daarvoor is jy darem net te mooi.

(uit Crazy, Oktober 1990)

150 Stories

Подняться наверх