Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 13

Ventertjie

Оглавление

Nou net daar anderkant Barrydale was daar die saagmeule wat behoort het aan ou Bloekom Smit en sy vrou, twee vredeliewende, fris mense wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Bloekom het by die saagmeule alles gemaak van teerpale tot vrugtekissies, soos die seisoen nou maar geloop het, en sy vrou het uitgebak. Maar groot gebak – van Montagu af tot by Riversdal het die tuisnywerhede tougestaan vir die vrou se soetgoed. Niemand in die kontrei het eintlik geweet wat is haar naam nie, almal het haar net geken as Doughnat Smit.

So, een keer per week dan haak ou Bloekom die ventertjie agter die kar, Doughnat pak hom vol gebak en hulle vat die pad van dorp tot dorp. En soos die Here wil, is die paaie nou nie te wonderlik nie en nes Doughnat sien daar kom ’n hobbel aan in die pad, dan weet sy al hoe spring haar pies rond hier agter, dan skree sy net, Bloekom! Die ventertjie!, slack hy af.

En so, op hulle oudag, Doughnat is al amper in die veertig, verwag hulle hulle eerste kleintjie. Doughnat moet eers ophou bak, want haar bene swel te verskriklik, maar hulle is vreeslik opgewonde. En daar word die klein seuntjie vir hulle gebore, maar die tengerigste dingetjie moontlik. Hulle’s so bly, hulle doop hom van albei kante af: Paulus Bloekom Smit.

Dis nie lank nie, toe bak Doughnat weer uit, kos agteraan gehaak, klein Paulus Bloekom in die carrycot op die agterste seat, vat hulle die pad. En soos die hobbels aankom en Doughnat skree, Bloekom! Die ventertjie, man!, is dit al waarop die kleintjie later reageer. So word hy toe ses jaar later by Barrydale se laerskool ingeskryf as Ventertjie Smit.

En van die eerste dag af, met die leiding van ’n skooljuffrou, die geselskap van sy maatjies en die liefde van ’n ouerhuis, begin Ventertjie daar ontwikkel tot een van die walglikste nasate wat ’n plaaslike familie nog kon voortbring. Soos hy by die dag ouer word en sy brein kom aan die gang, voel dit vir hom asof die hele lewe uitgedink is net om hom ’n agterstand te gee. Hy’s die kleinste seuntjie in die klas, hy’t die meeste sproete in die skool, hy’t die oudste ma op die dorp en sy pa ry nou geheel en al die kakste kar in die kontrei. Sy huiswerk kry nooit ’n goue ster nie, pouses lyk sy brood nooit so nice soos die ander kinders s’n nie, niks werk uit nie. Selfs die dag by die atletiek, ou Bloekom en Doughnat het ewe loop platlê daar anderkant die wenpaal met ’n bak trifle en ’n tienrandnoot om hulle lieflingskind aan te help, maar toe die skoot klap, skrik Ventertjie so groot, hy pie sommer teen sy been af en loop sit plat op die baan.

Daai aand is Ventertjie so kwaad, in sy kamer trek hy omtrent drie motte se vlerke vir hulle uit. Sy hart word swarter by die dag. En soos hy nou al hoe meer agterdogtig en jaloers raak, so onttrek hy. By die skool sit hy heeldag eenkant, krap so in sy neus dat g’n mens naby hom kan kom nie, en by die huis het hy daar agter die saagmeule so ’n leë houtkrat ontdek. Daarin kruip hy elke dag vir ure weg en kry die boosste gedagtes.

Maar niks was so erg soos die terugslag in standerd 3 nie. Dit was ’n Woensdagmiddag en Ventertjie het homself weer sit en uitwoed in die krat, toe’s daar nou hierdie lorrie wat ’n besending vrugtekissies kom haal het, en niksvermoedend haak hulle toe Ventertjie se krat ook aan, sleep hom daar weg dat sy ma-hulle hom eers drie dae later in ’n pakstoor in die Langkloof opspoor. Maar toe hulle daai kind uit die krat uithaal, toe’s hy nou meer gefok as ’n vlakvark in ’n Asterix-boek. Sy hart is pikswart, sy brein sit dwars in sy kop en omdat hy van kleins af nou maar tengerig is, val sy een long plat van skok. En van daai dag af sit Ventertjie met ’n bors op hom. As dit die dag net bietjie lyk na reën, dan trek hy so toe, teen die tyd dat die eerste druppel val, is hy al so benoud, hy hol zig-zag rond soos ’n hoender op die Transkeise hoofpad.

Sy ma hou hom nou maar uit die skool as dit lyk na reën, hy mag nie meer saam met die maatjies swem nie, hulle gaan nie meer vakansies see toe nie, hy bad skaars. En toe die skurf nou lekker dik sit in sy nek, toe dop hy matriek.

Vir ’n week eet niemand in die kontrei tuisgebak nie. Doughnat huil so, sy kom skaars in die kombuis, en ou Bloekom is so upset, agter op die werf loop hy al om dieselfde teerpaal, hy’s later so dronk in die kop, twee dae later skok Doughnat hom 300 volts met die wafelpan dat hy kan ophou hik.

In die meantime sit Ventertjie in sy kamer en slyp sy knipmes. Vir weke kom hy nie uit die huis uit nie. En toe gebeur daar ’n ding wat so ongelooflik is, dat toe die enigste ooggetuie, ’n swarte wat werk op die kerkgrond, dit die volgende oggend vir die polisie loop vertel, toe neuk hulle hom ses houe met ’n rottang en sê hy mag nie weer op die dorp kom nie.

Wat gebeur het, is dit: vir twee dae reën dit verskriklik. Almal sit nou maar in die huis, praat nie eintlik nie. Doughnat gee vir Bloekom sy koffie, vir Ventertjie sy borsgoed. Tweede aand kom Ventertjie glad nie uit sy kamer uit vir kos nie. Doughnat sê, Man, los die kind, hy’s hartseer.

Maar kyk, ’n Smit was nou nog nooit mooi nie en ryk sal hulle ook nie word nie, maar die mense is nie onnosel nie, en soos dit nou later word, so raak Bloekom onrustig. Op die ou end is hy gangaf, maak Ventertjie se kamerdeur oop, daar’s g’n mens nie.

Bloekom het so staan en kyk na die koerantuitknipsels op die bed, die klomp skoolalbums op die mat en die leë patroondoppe in die oop laai. Toe gaan haal hy sy geweer en hy sê vir Doughnat, Maak skoon daai kamer, dis vol gif. En hy vat die pad dorp toe.

Maar dis Woensdagaand, dis biduur, die hele dorp sit in die kerk. Bloekom stop nou so om die hoek, dan hol hy so koes-koes agterom die karre tot by die konsistoriedeur.

En daar sit Ventertjie. Hande-viervoet met sy home-made bom, hyg na sy asem en huil deurmekaar. Kort-kort trek hy ’n vuurhoutjie, maar dit reën so, die lont wil nie vat nie. Dit reën so, dat hy nie hoor toe ou Bloekom sê, Pa’s jammer, nie.

En soos Wilhelm Tell in die movies haal hy oor en hy mik.

Maar daar’s nie ’n appel nie. En dit reën so, dat die gemeente glad nie hoor die aand toe ou Bloekom Smit sy lieflingskind se kop daar wegblaas nie.

(uit Paradise, Januarie 1992)

150 Stories

Подняться наверх