Читать книгу 150 Stories - Nataniël - Страница 11
Dis innie gene
ОглавлениеNet hier voor die referendum, nou kuier ek by my ma-hulle.
En die een dag is ek en my ma fabrieke toe, ek soek ’n duvet met papegaaie op. Maar ek’s benoud, man, ons loop die commonste mense raak, hulle gaan mos nooit ja stem nie, dan moet ek emigreer, vir wat soek ek nou ’n duvet in die eerste plek.
En toe daar so ’n harige vrou ’n rol ougoud sunfilter by ons verbysleep, hier haak my ma af en sê, Ja, Niëltjie, dis innie gene. Dis nou die soort met wie praatjies nie sal werk nie. As dit in jou gene is, kan g’n mens jou help nie.
Daai aand kan ek net nie die mense by die fabriek uit my kop kry nie. Ek’s later so depressed, ek dink sommer dié vrolike storie uit:
Hier in die vroeë sewentigerjare, toe dit nog goed gegaan het in ons land – die swartes was lekker stil en die Engelse het glad nie getel nie – was dit mos ongelooflik hoe die minder gegoede Afrikaner tekere gegaan het. En tussen alles deur, het die gemors nog kinders ook gemaak dat dit ’n naarheid was.
En toe vlek die polisie een van die grootste skandale van die eeu oop (julle moet dit kan onthou, dit was nog in die Brandwag) toe hulle ontdek die minder gegoedes gooi drank in die babies se bottels dat hulle kan ophou skree en begin slaap. Die Welsyn gryp daar in en gooi al die kinders in die weeshuis.
Nou, een van die kleintjies wat van die ergste getref is, was ’n dogtertjie met die naam van Blydskap Joubert. Die stomme kind het soveel alkohol ingekry, dat jare daarna nog, as sy net bietjie lank in die son is, gaan sy daar aan die gis en raak geheel en al aggressief.
So beland Blydskap ook toe op ’n manier saam met die res van die weeshuis in standerd 6, en die een Saterdag kom die Vroue-aksie die weeshuis besoek en heelmiddag moet die kinders in ’n ry staan op die lawn dat die dames kan fudge uitdeel. En daar slaan die son vir Blydskap, sy raak so dol, die nag ontsnap sy deur die toiletvenster en loop weg.
En so word Blydskap Joubert een van die eerste punks in Suid-Afrika. Skeer haar kop kaal, laat haar potblou tattoo, maak vir haar ’n trourok uit ’n stortgordyn en trou met die slegste ou wat sy kon raakloop. Maar so sleg, dat ek vir die storie nou nie eens vir hom ’n naam uitgedink het nie.
Vir hulle honeymoon kruip die twee weg agterop ’n goederetrok en snuif soveel gom dat hulle eers twee weke later bykom, iewers op ’n plattelandse stasie. Maar hulle het sulke migraines dat hulle net daar besluit om ’n nuwe begin te maak. Trek in op die dorpie, die sleg ou kry vir hom werk by die garage en Blydskap groei haar hare terug.
Maar nou weet julle mos – en veral vandat ek in Pretoria bly, sien ek dit ook baie – ’n mens kan soveel geld maak soos jy wil, maar as jy ’n swak agtergrond het, kom jy nooit daarvan weg nie.
So, Vrydae, as die sleg ou pay, dan gaan hulle daar aan die suip en aan die baklei, hy neuk Blydskap se oë vir haar so dik, sy lyk soos een of ander Oosterse afgod.
Af en toe, in die middel van die week, is Blydskap darem ’n paar dae lank nugter genoeg om te sien wat om haar aangaan, dan raak sy vreeslik mismoedig. Op een so ’n dag is sy hoeka bietjie lank in die son, raak aan die gis, tip geheel en al oor na die malkant toe, en besluit sy doen standerd 8 oor die pos.
Dié vat haar toe omtrent twee jaar, baie trane, nog meer drank, ’n klomp fights en vreeslik baie blou oë. Maar wonders gebeur en sy druk deur, en op ’n dag kom die papier daar aan wat sê sy’t standerd 8. Blydskap is so bly, sy’t die brief onder die arm en sy’s daar af garage toe, die sleg ou lê onder ’n kar.
Ag koop vir my ’n rok, man, sê Blydskap.
Vir wat, sê die sleg ou.
Ek het standerd 8, man, toe, sê Blydskap.
En wat de hel gaan jy daarmee doen, sê die sleg ou.
Jy sal sien, sê sy.
Ek neuk vir jou, sê hy.
En net daar pluk Blydskap haar moer en skop die jack onder die kar uit.
En word op agtienjarige ouderdom ’n weduwee met ’n toekoms.
(uit Paradise, Januarie 1992)